Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Vanessa Venter

Vanessa Venter

Dorp: Middelburg

Antwoord 1: Daar is 'n uitdrukking wat lui "'n Goeie begrip het net 'n halwe woord nodig" Dit is hoe ek en Vezné is. Die een hoef nie eers haar sin klaar te maak nie dan weet die ander een wat sy wil sê. Baie keer verstaan ons mekaar sonder verduideliking - 'n kyk, 'n sug of 'n lag sê genoeg. Toe sy nog in die huis gebly het, het ons klere en skoene gedeel. As ek my onderlaag soek kan ek maar weet waar om te gaan kyk waar dit is - in haar kamer. Baie mense dink ons is sussies, so baie van dieselfde trekke en gesigsuitdrukkings het ons. Ons het dieselfde praatstyl en deel meer as net gene. Vezné help my geweldig baie in die huis. Wanneer ek moet reis vir wek hou sy die fort en sorg dat almal se magies gevoed is al het sy haar eie huishouding deesdae. Ek kan op haar staatmaak en elke keer op haar knoppie druk vir 'n guns. Ons is meer as net ma en dogter, ons is vriendinne met 'n lewensband. Ons kan ook lekker verskil oor sekere goed, toe meer as nou. Toe sy op skool was het ons meer koppe gestamp as nou, nou deel ons wyshede en koester die mooi van die lewe saam. Ons huil op mekaar se skouers en lag vir mekaar se simpelgheid en kan soms diep gesprekke hê met eerlike vrae en ware menings sonder om kwaad te word vir mekaar. 'n Goeie môre Moeksie en lekker slaap Moeder is al wat ek nodig het om weet sy is okay. Vezné is tans 3de jaar onderwysstudent en sal met tye na skool kom koffie drink en dan sal ons die wêreld se probleme oplos en temas van die lewe deurtrap en oopbreek. Sy bel my nou die dag en sê "Mamma dankie, dankie dat mamma my pakslae gegee het as kind, dit was die beste geskenk ooit" Ek antwoord net met 'n "dis 'n plesier my kind, jys welkom". Jy sien mens moet die boompie vroeg buig om later eers die vrug daarvan te kan sien. Ek was eers haar ma en nou is ek haar vriendin, ek het die voorreg om te sien hoe sy in 'n ongelooflike mooi jong vrou ontwikkel het. 'n tipiese Spreuke 31 vrou. Vra haar om 'n kossakkie te pak dan word daar ramdom briefies vir jou los met inspirerende woorde en hoe lief sy jou het.

Antwoord 2: Ons het onlangs die voorreg gehad om saam haar troudag te beplan. Van die eerste dag het ek verstaan wat sy wou hê en ons het saam beplan aan haar groot dag sonder enige drama of trane. Elke detail het ons haarfyn beplan en sy was die mees "open minded" bruid wat ek nog gesien het. Ek was daar toe sy haar rok gekies het, haar juwele sorgsaam uitgekies om haar grootdag so kommervry as moontlik te maak. Sy het beeldskoon gelyk. Dit was 'n perfekte dag met 'n perfekte paartjie vir mekaar. Ek het haar ruimte gegee om haar eie stempel af te druk nie om my idees af te dwing nie, en dit het ons verhouding laat groei in wedersydse respek vir mekaar. In plaas daarvan dat sy haar handruiker weggee vir die vlg toekomstige bruidjie het sy dit aan my oorhandig, vergesel met die mooiste woorde wat 'n ongelooflike mooi gebaar wat ek vir altyd sal koester. Nou dat sy getroud is mis ek haar asempie in die huis. Ek mis om my onderlaag in haar kamer terug te gaan haal. Ek mis dat sy my skoene leen, by reukwater gebruik as hare klaar is maar gelukkig is sy net 'n oproep ver en ons maak gereeld koffie-dates om in te haal met wat in mekaar se lewens aangaan. Sy is die sterkste mens wat ek ken, en min dinge kry haar onder in die lewe. Sy is 'n onderwyseres in murg en been en geniet haar loopbaan ongelooflik baie. Daar is baie uitdagings maar dan bel sy en ons praat moed in en kla lekker oor die generasie van vandag. Die son sal môre weer skyn my kind. Sy droog haar trane af en pak die volgende dag weer vreesloos aan.

Antwoord 3: As ons kan raad gee aan ander ma's en dogters is dit om nie wrokke te koester nie. Die lewe is kort en jy het jou dogter net 18 jaar in jou huis. Dis wat jy inbou in daai 18 jaar wat saak maak, daarna sal jy die vrugte pluk van 'n hegte vriendskap. Gee ruimte vir foute, en vergewe dikwels. Dis partykeer beter om net stil te bly as om die laaste sê te hê. Maak gereeld koffie dates en moenie ongemaklike gesprekke vermy nie. Luister om te verstaan, nie om reg te wees nie. Jy hoef ook nie dieselfde oor goed te dink nie, kies om mekaar te koester en lief te hê. Dis belangrik om mekaar se seisoene te respekteer. Daar gaan moeilike tienerfase wees maar dit gaan ook verby. Ma's moet leer om te laat los, ek weet dis bitter moeilik en baie eensaam maar jou dogter het nodig om die lewe vir haarself uit te pluis. Wees 'n voorbeeld van selfrespek en liefde, jou dogter gaan jou doen wat jy doen nie doen wat jy sê nie. Sê gereeld "ek is jammer" as jy verkeerd opgetree het dit hou die band sag en sterk. Vertou mekaar met jul hartsgeheime dit skep veiligheid in die verhouding. "Don't sweat the small stuff" die lewe is te kort daarvoor. Dis okay om jou onderlaag in jou dogter se kamer te gaan soek, daar gaan 'n tyd kom wat jy dit gaan mis. Gee jou dogter wortels vir die lewe - plant diep maar gee haar ook vlerke om te laat los met vertoue.