
Dorp: Potchefstroom
Antwoord 1: My ma, Adri (47) is my beste vriendin, my rolmodel, my anker en die fondasie waarop my menslikheid bestaan vandag. Ek is die enigste dogter tussen twee broers. Die middelkind. Die kind wat volgens die samelewing in 'n skaduwee verander, maar definitief nie in my ma se boeke nie. Ek en my ma het 'n besonderse unieke band met mekaar. Dit is iets wat die res van ons huishouding nog nooit verstaan het nie. Ons is al deur baie goeie en slegte tye in die afgelope 20, amper 21 jaar van my lewe. Ons ma-dogter verhouding is nog altyd gegrond op eerlikheid, broosheid, onbaatsugtige liefde, baie lag en huil. Ek en my ma sal altyd in die winkels hoor dat ons sussies of 'n tweeling moet wees. Dit is die grootste kompliment vir my ma, omdat sy baie goed lyk vir haar ouderdom, maar dit is 'n groter kompliment vir my, omdat ek elke dag daarna streef om meer soos die sterk vrou te wees wat sy is. My ma het haar ma op 'n baie jong ouderdom verloor en is dit hoekom sy die tyd wat sy saam met my het, koester en ten volle uitleef. Ek en my ma sê altyd dat daar nie onnodige geld is om uit te gee aan sielkundiges nie, omdat ons twee mekaar het. Wat 'n groot voorreg is dit nie om nog saam met my ma te kan oefen, inkopies te doen en laat-aand pizza en wyn aande te hou nie. My beste vriendin. Dit is seker ons gunsteling maniere van ontspan en kwaliteit tyd saam spandeer. My ma het my so baie dinge van die lewe al geleer, maar sy los my ook dat ek self foute moet maak, sodat ek daaruit leer. Sy het my gewys hoe om 'n onafhanklike vrou te wees, met sterk waardes, goeie maniere en hoe om 'n God-vresende vrou van die Here te wees. My ma sê ook altyd dat ek haar elke dag meer van haarself en van die lewe leer. Ons het albei in twee verskillende generasies en omstandighede groot geword en is dit hoekom ek dink ons onafskeidbaar van mekaar is. Ek en my ma groei saam, leer saam en ontdek saam. Met ons twee bymekaar is daar soos hulle sê, "never a dull moment". Ons verhouding is nie perfek nie, maar dit is alles en meer waarvoor ek in 'n ma-dogter verhouding kon vra.
Antwoord 2: In 2021 is my pa, Izak skielik op die ouderdom van 44 oorlede, nadat hy Covid-19 opgedoen het. Hy is die Vrydag middag in die hospitaal opgeneem en is die Maandag-aand oorlede as gevolg van nierversaking. Ek sal nooit daardie oproep van die hospitaal af vergeet nie. Om my ma so stukkend te sien, soos 'n bord wat skielik uit jou hand uitval en in stukke breek op die grond. Dit was twee weke voor die grootste verjaarsdag in enige jong mens se lewe. My 16de. Ons hele gesin het in die tydperk wat my pa in die hospitaal was, positief getoets vir Covid-19. Ons moes met onmiddelike effek isoleer. Niemand mag ons getroos of geondersteun het nie. Dit was die langste en moeilikste week van my hele lewe. Ek, my ma en my broers het mekaar gehad. My klein boetie was te klein om te begryp wat gebeur het en my ouer broer was alreeds uit die huis en moes gewerk het. Dit was net ek en my ma. Ons het mekaar gehad. My pa se hele familie het soos mis voor die son verdwyn en was dit ek en sy teen die wêreld. Daar het ons verhouding ongelooflik sterk geword en was ons sedert daardie gebeure onafskeidbaar. Om saam te moes genees en aanpas in die nuwe realitiet van ons lewens was moeilik, maar ons het geweet dat ons mekaar het en dat daar niks was wat ons sterk verhouding sou kon breek nie. Ek en my ma het saam ons stukkende borde wat daardie aand van my pa se dood op die grond gebreek het, opgetel en terug aanmekaar gegom. Ons weet dat ons met enige iets na mekaar toe kan gaan. Ons het geleer dat dit baie belangrik is om met mekaar te praat oor die dinge van die lewe wanneer dit moeilik raak. Al is dit hoe moeilik of ongemaklik. My ma is intussen weer getroud. Ironies is dit my pa se beste vriend, maar ek sou niemand beter vir haar wou hê nie. Ek het die voorreg gehad om saam haar rok te pas, troue te beplan en langs haar by die altaar te kon staan. Wat 'n voorreg!
Antwoord 3: Eerlikheid. Dit is die belangrikste fondasie van enige verhouding. Al is dit hoe moeilik of maklik, is dit baie belangrik om oor alles met mekaar te praat. Dinge oor jouself, mekaar, die lewe. Wees mekaar se beste vriendin en koester die oomblikke wat julle saam het. Die lewe is so onvoorspelbaar en is die nie die moeitewerd om iets wat so mooi kan wees, weg te vat as gevolg van kleinlikhede nie.