Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Deomoné Van Zyl

Deomoné Van Zyl

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: My verhouding met my ma is bitter spesiaal vir my; sonder haar sou ek nie die mens gewees het wat ek vandag is nie. As die enigste dogter tussen drie jonger broers het ons ’n unieke band ontwikkel wat gebou is op vertroue, nabyheid en onvoorwaardelike ondersteuning. My ma is en was nog altyd my veilige ruimte. Sy bid saam met my, glo in my drome en staan my by deur elke seisoen van my lewe. Wat ons verhouding besonders maak, is nie net wat ons saam doen nie, maar hoe ons saam is; eerlik, oop en altyd teenwoordig vir mekaar. Ons kan saam lag, saam huil en saam bid, sonder voorgee of oordeel. Ons deel ook eenvoudige vreugdes, soos stap. Ons het selfs saam deel geword van ’n stapklub, en in 2025 is ons gesamentlik aangewys as Stappers van die Jaar, ’n klein maar betekenisvolle weerspieëling van ons spanwerk. Sy is die eerste persoon wat ek bel wanneer iets gebeur, of dit nou groot nuus of klein oomblikke is. Selfs wanneer ons fisies van mekaar geskei is, bly ons emosioneel naby deur gereelde oproepe wat ons band lewendig hou. My ma is my rots en my anker. Sy hou my gegrond wanneer die lewe rof raak en herinner my aan my waarde, my wortels en my geloof. Ons verhouding is ’n weerspieëling van liefde, verbondenheid en ’n diep moeder-dogter band wat nie net gesien kan word nie, maar gevoel word.

Antwoord 2: Soos alle mense gaan ons deur goeie én minder goeie tye in die lewe. Juis daarom is ek oneindig dankbaar dat ek ’n ma het wat my bystaan, ongeag die omstandighede. Soms gebeur dinge wat ’n mens glad nie verwag nie, en een so ’n ervaring het ons verhouding op ’n besonderse manier laat groei hierdie afgelope Desember. Dit was die heel eerste Desembervakansie wat ek nie saam met my gesin deurgebring het nie. Ek het die geleentheid gekry om vir die eerste keer saam met iemand oorsee te reis, terwyl my ouers en my drie broers Mosambiek toe is. Op pad daarheen het hulle egter teëspoed ervaar toe hul voertuig, net meters van die grens af, skielik gaan staan en nie weer wou aanskakel nie. Toe ek besef dat ek letterlik aan die ander kant van die aardbol is, terwyl my gesin in ’n moeilike situasie vasgevang is, het ek paniekerig en emosioneel gevoel. Dit was ’n magtelose gevoel om nie fisies daar te kon wees nie. Tog, selfs te midde van daardie spanning, was my ma steeds my veilige hawe. Alhoewel sy self in die situasie vasgevang was, het sy my deur ’n WhatsApp-oproep gekalmeer, moed ingepraat en my gerusgestel. Daardie oomblik het my opnuut laat besef hoe sterk ons band werklik is. Selfs wanneer sy self deur ’n moeilike tyd gaan, bly sy my steunpilaar. Hierdie ervaring het ons verhouding verdiep, omdat dit gewys het dat ons verbondenheid nie afhanklik is van fisiese nabyheid nie. Ons kon mekaar dra, ondersteun en naby bly, selfs oor afstand. Dit is juis in hierdie minder goeie tye dat ons verhouding gegroei het: met vertroue, geloof en ’n wete dat ons mekaar het, maak nie saak waar ons in die wêreld is nie.

Antwoord 3: Vir ons begin ’n goeie ma-en-dogter-verhouding by vertroue, onvoorwaardelike liefde, oop kommunikasie en geloof. Hierdie vier pilare help om ’n verhouding te bou wat standvastig bly, selfs wanneer menings verskil of die lewe uitdagend raak. Ons glo nie dat ma’s en dogters altyd oor alles hoef saam te stem nie. Juis wanneer daar verskille is, raak eerlike en respekvolle kommunikasie noodsaaklik. Om werklik te luister, mekaar se gevoelens ernstig op te neem en soms die ander persoon se belange eerste te stel, maak ’n groot verskil. As ma en dogter is dit belangrik om van ’n jong ouderdom af vertroue te bou en ’n veilige ruimte te skep waar albei hulself kan wees, sonder vrees vir oordeel, maar met begrip, liefde en deernis. Wanneer daar ’n wete is dat jy gehoor en aanvaar word, verdiep dit die band op ’n natuurlike manier. ’n Goeie verhouding vra ook inspanning van beide kante. Dit beteken om tyd vir mekaar te maak, wedersydse respek te toon en bereid te wees om saam te groei. Met geloof as anker en liefde as fondament, kan ’n ma-en-dogter-verhouding een van die sterkste en mees betekenisvolle verhoudings in ’n mens se lewe wees.