
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: Ek het drie ander susters, ek dink elkeen se verhouding is anders omdat ons persoonlikhede verskil. My ma het hierdie manier om my te kontak as sy nie gereeld van my hoor nie. Daardie " is jy te besig vir jou eie ma?" grappies. Ons het hierdie ongelooflike humor tussen ons wat net kliek. Maar dit is meer as grappies; ons bid vir mekaar en ondersteun mekaar in alles. Ek is hierdie stil introvert, maar ten spyte van dit, het my ma my genoeg ruimte gegee om te groei. Haar wyse woorde het 'n groot rol gespeel in my lewe: ek het gehuil omdat ek nie skoene het om aan te trek nie, totdat ek iemand sonder voete gesien het. Daardie woorde het my laat vasbyt in die lewe, maak nie saak hoe groot my probleme was nie. Ek sal nie sommer kla nie want in my agterkop is daardie woorde vasgegiet. Ons gee mekaar liefde, spasie wanneer dit nodig is en stilte as ons oor die Here praat. Ons geloof was die grondslag van ons opvoeding en is nooit skaam om oor Hom te praat nie. Jy besef dan hoe klein en nietig jy is en dan gebede jou deur alles dra.
Antwoord 2: My ma was nog altyd my steunpilaar. Toe ek drie jaar gelede deur 'n baie moeilike tyd gegaan het, was sy die een wat my leiding gegee het. Sy het my aangemoedig om aan te beweeg, my kop hoog te hou en in myself te glo. Saam maak ons nog baie foute, maar ons leer om dit ook reg te maak. Twee jaar gelede het ek dit gewaag om my eie roman uit te gee. My ma is my grootste aanhanger. Elke dag hoor ek hoe trots sy op my is en dat ek eenvoudig nie stil gaan staan het nie. Ek het besluit die lewe gaan my nie onderkry nie. Met elke tree is sy langs my, moedig my aan en vee elke traan af. Sy het die hardste gehuil toe ek my eerste boek ontvang het. Sy weet net wat om te sê as ek wil opgee aan my drome. Haar boodskappies in die oggende dra my partykeer deur die dag sonder dat sy dit besef.
Antwoord 3: Om 'n spesiale ma en dogter verhouding te hê, moet jy 'n verhouding met God hê. Daar is nie 'n kitsoplossing nie. Want dan kan jy oor diep dinge gesels sonder om te oordeel. Wanneer jou verhouding met God in plek is, val die res ook in plek. As jy vergifnis verwag, moet jy kan vergewe. Ek het nog altyd vir my ma gesê dat God se spesiale wonderwerke op die heel onderste rak is, daar waar jy op jou knië vir dit moet vra. Ek was nog altyd eerlik met my ma en skroom nie om haar reg te help nie. Ek doen dit op 'n mooi manier. Niks is meer traumaties as stilte nie. Moenie dat trots julle verhouding versuur nie. Begin met klein treetjies, maak tyd vir mekaar en deel julle lawwe grappies. Niks is mooier as om saam te kan lag nie. My ma het my geleer die geskenke onder 'n Kersboom is - husse met lang ore. Dat die oom aan jou pa se kant, die Kersvader is. Die tandmuis net besoek kom doen wanneer jou kamer netjies opgeruim is.