
Dorp: Centurion
Antwoord 1: As ma en dogter het ons verhouding nie altyd maklik begin nie. Vir ’n lang tyd het dit gevoel soos ’n stiefma- en dogter-verhouding — vol misverstande, afstand en seer wat ons nie altyd kon benoem nie. Candice was ’n ware “daddy’s girl”, en ek het dikwels weggestoot en ongesien gevoel. Aan haar kant het sy weer ervaar dat ek haar wegstoot, al was dit nooit my bedoeling nie. Toe ons albei tot bekering gekom het, het Vader self ons verhouding kom aanraak en herstel. Wat die vyand vir kwaad bedoel het, het God ten goede laat meewerk. Sonder dat ons dit eens kon verduidelik, het Hy die mure tussen ons afgebreek en ons harte weer aan mekaar verbind. Vader het ons verhouding kom genees ’n paar jaar voor Candice se pa se afsterwe. Daardie tyd was ’n groot seisoen van groei, genesing en nader beweeg. Ons kon daar wees vir mekaar, en ek kon haar as ma ondersteun op ’n manier wat voorheen nie moontlik was nie. Vandag is ons ongelooflik na aan mekaar. Ons is baie dieselfde, ons verstaan mekaar sonder baie woorde, en ons deel ’n diepe liefde vir ons Koning. Ons verhouding is ’n getuienis van God se genade, herstel en getrouheid.
Antwoord 2: Daar was ’n tyd in my lewe waar ek ’n intense vrees ontwikkel het dat iets met Candice sou gebeur. Daardie vrees het my heeltemal oorgeneem, en in haar laaste matriekjaar het my grootste vrees ongelukkig werklikheid geword. Dit was een van die moeilikste en pynlikste seisoene wat ons nog saam moes deurgaan. Ten spyte van die seer en die trauma het ek besluit om sterk te staan vir my dogter. Ek was daar vir haar — nie net as ma nie, maar as ondersteuner, beskermer en bidder. Candice sou maklik kon spiraal na wat met haar gebeur het, maar sy het gekies om dit nie toe te laat nie. Saam het ons alles volkome in Vader se hande gesit. Elke keer wanneer sy gehuil het of seer was, was ek daar om saam met haar te bid, haar te salf en haar te herinner wie sy in Christus is. Tyd het genesing gebring, maar dit was ook die liefde, teenwoordigheid en geloof wat ons verhouding versterk het. Ek het bo en behalwe gegaan en alles in my vermoë gedoen om haar deur daardie tyd te dra. Hierdie ervaring het ons ongelooflik na aan mekaar gebring. Vandag bly dit vir my soms moeilik om haar los te laat. In Desember 2025 het sy Engeland toe vertrek vir ses maande, en dit is tans een van my grootste uitdagings, want sy is regtig my steunpilaar. Ek is ongelooflik lief vir haar en dank Vader dat Hy haar gebruik, oral waar sy gaan.
Antwoord 3: Ons grootste raad is om te leer luister en mekaar te vertrou. Soms moet dogters foute maak, en soms maak mammas ook foute — en dit is reg so. Groei gebeur nie sonder foute nie. Niks is onherstelbaar by Vader nie. Daar was tye waar ek net moes terugstaan en vir Vader sê: “U het haar gemaak, en U is vir haar liewer as wat ek ooit kan wees.” Dit het my geleer om nie uit vrees te leef nie, maar uit vertroue. Om God regtig te vertrou met jou kind, is een van die grootste dade van liefde. Ons raad is ook om nie mekaar in ’n slegte lig by ander mense te bespreek nie. Neem alles na Vader toe — Hy is die enigste Een wat harte werklik kan genees en perspektief kan bring. Probeer altyd om jouself in die ander een se skoene te plaas. Dit het ons veral gehelp in tye waar ek te vasgehou het en gesukkel het om los te laat, omdat vrees my oorheers het. Onthou: niks is onmoontlik om herstel te word nie. Liefde verdra alles, gee alles en glo alles. Vertroue en vergifnis is noodsaaklik — moenie vashou aan klein goedjies wat net afstand skep nie. Laastens: onthou dat jy as mamma jou dogter se grootste voorbeeld is. Ek het eers besef hoe baie sy soos ek is toe sy groot geword het. Dit het my geleer om sagter, wyser en meer bewus te leef, want ons kinders kyk en leer meer as wat ons ooit besef.