
Dorp: Bela Bela
Antwoord 1: Dit is net haar menswees. Haar energie is aansteeklik, haar lewenslus is ooglopend, haar sin vir humor trek jou in, haar sagtheid maak jou deel voel van al die planne wat sy in haar mou voer, haar sin vir humor maak jou gemaklik voel, haar geselsies laat jou van die tyd vergeet, haar warm motiverende liefdevolle persoonlikheid maak dat jy nie genoeg van haar kan kry nie… Tussen snyplanke, potte, panne en voorskote is dit daar waar “werk” en “te veel moeite” nie in ons woordeskat val nie. Dit is daar waar ‘n gemeenskaplike liefdestaal saam mekaar smelt, dit is daar waar ons die langtafel dek en kerse aansteek vir vriende, familie en kennisse wie ons vermoed eensaam is en verdien om in hierdie huis vol liefde te deel. Tussen die Namakwaland se blommeprag by die rotstuin en die roosbome daar in die sonhoek… Dit is daar waar ons Liewe Jesus se goedheid en genade kan aanskou, dit is daar waar twee harte saam kan stil raak net om Dankie te sê vir die reën, vir die sonskyn, vir die voorreg om saam tuinmaak te kan geniet. Tussen Retinol en vitamiene C serums, tussen oefenprogramme om te werk aan ons Desember lyfies, tussen oor en weer gesondheidsrespte stuur van ontbyt regdeur al die tussentydse happies tot daardie soet koppie rooibostee net voor slapenstyd dit is daar waar ek geinspirëer word en haar bewonder vir hoe sy deur alles en altyd haarself so mooi versorg. Dit is daar waar sy en kollageen sinonieme vir my lewe raak. Wanneer ons lewens hul eie rigting inslaan en ek by my gesin is en sy by haar huis is, is dit daardie telefoonoproepe wat nie korter as 40 minute is nie, waar sy my foute kan uitwys (en ek soms hare) waar ons mekaar op die regte pad hou en moed inpraat om elke dag te probeer om net fisies ‘n beter mens as gister te wees. Dit is die moed wat sy jou kan inpraat selfs al is jy moedeloos, die ekstra myl wat sy sal stap selfs al is haar skoene moeg en deurgeloop. Dit is die verhouding tussen Ma en Dogter. Sy is nie net my mentor nie, maar my kook en geniet vir die lewe, my kunsmis wat toelaat dat ek in my lewe kan blom en my kollageen wat verhoed dat ek te vining verouder. Dit is my beste vriendin en my Liewe Ma.
Antwoord 2: Mamma ek is weer swanger, Mamma hier is ‘n komplikasie ons is oppad Pretoria toe om die Dokter te gaan sien, Mamma dis ‘n dreigende miskraam…. Mamma dis ‘n ou dogtertjie, my eie ou dogtertjie, haar naam gaan Jané wees. Mamma op 16 weke gaan ek moet ingaan vir ‘n prosedure om te verhoed dat ek vroeg in kraam gaan… Dit was maar net die begin van my tweede swangerskap. Op 24 weke was ek opgeneem met kontraksies. In ‘n kwessie van ‘n oggend het die lewe my mat onder my uitgetrek. Ons bly 2 ure van die naaste hospitaal af. In die kar wag my een jarige seuntjie wat glad nie verstaan het wat aangaan nie. Ek en my man het besluit dat ek na sy geboorte vir eers moet ophou werk en na hom moet omsien. Hy het op daardie stadium ook baie van die huis af gewerk so dit was net ek en Jantjie. Hy so uit die aard van die saak ander verblyf moes kry terwyl ek in die hospital moes baklei (en hierdie Mamma hart wou breuk, want hy was so verward). Ek was vir 2 weke in die hospitaal en 5 keer in spontane kraam. Op daardie stadium was my ginekoloog baie eerlik en het hy verduidelik dat sy tenminste tot 26 weke binne moet bly anders is haar kans op oorlewing minimaal. En daar was sy weer, die onselfsugtige, sagte en liefdevolle Mamma wat net daar en dan haar lewe kant toe geskuif het en my rol as Mamma oorgeneem het. Ek sou nie sê dit het ons verhouding sterker gemaak nie maar eintlik net beklemtoon hoe onvervangbaar sy is. Intussen het ek en my Man besluit dat die naam Marizel baie meer gewig sou dra as Janè. Marizel (Marieta en Anzel). Sy is nou die trotse naam genoot van ‘n steunpilaar en rolmodel. Marizel was op 26 weke en 1 dag gebore. Die Pediater se eerste woorde aan my was, Anzel ons gaan baie moet bid, sy is bitterlik klein en die eerste paar dae is kritiek (sy was maar 940gram). Daarna het 84 dagies verloop, vol uitdagings en terugslae. 84 dae waar ons oornag ons sakke moes pak en in Pretoria in ‘n bitterklein kamertjie van ‘n gastehuis moes deurbring met ‘n 1 jarige wat gewoond is aan baie spasie en om elke dag plaas paaie te stap. Die 40 minute oproepe het daarna verander na ongeveer 2 aande ‘n week wat my ma gereis het van Thabazimbi af om my te kom help. Gesprekke wat ek seker lewenslank saam met my sal dra… Mamma syt gisteraand 5 keer ophou asemhaal, Mamma sy kort ‘n bloedoortapping, Mamma sy het grys geword toe ek haar vandag vashou, Mamma sy moet dalk oorgeplaas word vir ‘n hart operasie. Mamma, Mamma, Mamma …. My grootste troos, my grootste anker, my bene in ‘n tyd wat ek gevoel het ek nie kon staan nie.
Antwoord 3: Indien ek reflekteer op die afgelope jaar se gebeurtenisse in my lewe sal ek met oortuiging kan sê jy is werklik gelukkig en ongelooflik baie gesëend indien jy deel kan wees van ‘n Ma en Dogter verhouding. Ek dink ons as mense vat baie maklik hetsy ‘n Ma, ‘n Pa, ‘n Dogter of ‘n seun as vanselfsprekend en vergeet te maklik dat daar ander Mamma’s is wat al menigte miskrame gehad het, of wat ‘n ou dogtertjie by geboorte alreeds verloor het sonder om hul eers werklik te kon vashou. In sekere gevalle verloor die ou dogtertjie ook ‘n Mamma nog voor sy self die woord Mamma kan uitspreek of die warm liefde van ‘n moeder hart kan ervaar. Ek onthou die afgelope jaar wanneer als te veel geraak het by die hospitaal en ek jammer vir my en my gesin en die omstandighede begin voel het, (want jy kry jouself so maklik jammer veral as jy jouself vergelyk met ander Mamma’s wie se geboorte verhale “normaal” was) het ek myself altyd forseer om te sê ”Anzel, wees DANKBAAR, jy het ‘n dogtertjie sy lewe sy is daar. Sy is dalk in ‘n broeikas opgesluit en jy voel in die pad en onder die susters se voete as jy haar wil besoek MAAR JY HET ‘N OU DOGTERTJIE so baie ander Mamma’s sou wens om soos jy ‘n ou dogtertjie te kan hê. En ek dink as beide Ma en Dogter daardie uitkyk oor hul verhouding teenoor mekaar het, is dit ‘n resep vir sukses. My advies is dus vir enige Mamma en enige Dogter wees Dankbaar vir mekaar en leef asof die julle laaste sien van mekaar is, of dit julle laaste oproep is, asof dit julle laaste vakansie saam is. Sodat as jy eendag terug reflekteer op jou lewe saam met jou Dogter of saam met jou Ma jy dit net so stap vir stap sou oordoen en niks sou wou verander nie.