Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Ilze-dene Oberholzer Oberholzer

Ilze-dene Oberholzer Oberholzer

Dorp: Kaapstad

Antwoord 1: Party mense leer jou hoe om groot te word. Ander leer jou hoe om te lééf. My ma is albei. Die girl is sonskyn en sy lewe met haar oë oop, arms wyd en ’n lag wat ander mense ook laat asemhaal. Sy het ’n energie wat nie uitgeput raak nie. Dit is asof sy altyd een tree voor my is, al is ek lankal volwasse. Wanneer ek moeg raak vir die wêreld, wanneer ek begin twyfel of ek nog kan aanhou, gaan sit ek by haar. Ek drink tee, luister, en sonder dat sy dit agterkom, tap ek weer van haar lewenslus. Sy gee energie sonder om dit ooit op te eis. Ons deel nie net ’n verhouding nie; ons deel alles. Ek noem haar Partykeer Bellville-stereo, want ons pak alles aan deur te leer van mense om ons. Ons doen dinge saam; soms beplan, soms impulsief, maar altyd met dieselfde gemak. En wanneer ons nie fisies saam is nie, word daar heeltyd geklets. Die lyn tussen “ek moet bel” en “ek wil bel” bestaan eenvoudig nie. Ek het 10 jaar oorsee gebly en sy was altyd ingelig oor waar ek is en watter lande ek besoek. So travel sy saam. Sy wil my mening hê oor alles. Sy skuif nie eers ’n “scatter cushion” in haar huis sonder om my te raadpleeg nie. Ek sê dit met ’n glimlag, want dit is haar manier om te sê: jy hoort hier, jy tel hier. Ek is deel van haar wêreld soos sy deel is van myne. My ma beweeg maklik tussen mense, sy onthou name, en sy luister regtig. Mense voel raak gesien deur haar, en dis hoekom hulle haar liefhet. Ek hoor dit gereeld: “Jy is beslis jou ma se kind.” En elke keer voel dit soos ’n kompliment wat ek nie verdien nie, maar dankbaar aanvaar. Ek sal waarskynlik my hele lewe probeer om by haar uit te kom, en nooit heeltemal daar wees nie, maar dis ’n poging wat die moeite werd is. Ons deel ’n ligsinnigheid, ‘n nuuskierigheid oor mense en het ‘n aansteeklike geneigdheid om gesprekke met vreemdelinge te begin en dit as vriendskappe te beëindig. Tog is sy die beter weergawe, meer geduldig, meer wys, meer geanker. Ek is die storm; sy is die wind wat my rigting gee. Sy is ook my grootste ondersteuner. Nie die stil, agter-die-skerms tipe nie—nee, sy is daar, hardop, hande klappend, oë blink. Elke aansoek, elke droom, elke waagstuk. Toe ek by Emirates aansoek doen, toe staan sy reg met lisptick en ‘n nuwe koffer. Daar is nie baie trane tussen ons nie, net trane vir ander. En tog lag ons saam. Baie. Oor onbenullighede, oor onsself, oor die lewe se vreemde draaie. Ons neem nie alles te ernstig op nie, maar ons neem mekaar ernstig op. Ek is haar grootste bewonderaar, en sy is myne. Ons loop langs mekaar, nie voor of agter nie, en dit is dalk die grootste geskenk van alles. Want in haar teenwoordigheid voel ek nie net geliefd nie; ek voel “magical”.

Antwoord 2: My verhouding met my ma is gevorm in afstand, stilte en oomblikke wat ons gedwing het om vinniger groot te word as wat ons wou. Vir tien jaar was ek oorsee, ’n lewe vol beweging en vlugte, terwyl sy in Suid-Afrika die anker gebly het. Ons het verjaarsdae oor “voicenotes” gevier, Kersfees met foto’s en laatnag-oproepe probeer vasvang, en die alledaagse dinge van mekaar se lewens dikwels net ‘aangeneem’, gewonder. Die afstand het nie minder liefde beteken nie, maar dit het ons geleer hoe broos tyd is. Toe my pa oorlede is, was ek in Tbilisi. April 2025. Die nuus het my soos ’n koue golf getref, maar dit was my ma se oproep wat alles stil gemaak het. Min woorde. Groot skok. En toe: “Ek kom dadelik.” Twee vlugte en vier-en-twintig uur later was ek in die Kaap. Daardie reis voel vandag nog soos ’n tydlose spasie tussen wie ek was en wie ek moes word. Waar sy nie kon sterk wees nie, was ek. Ek het ingestaan. Familie gebel. Besluite geneem. Praktiese dinge hanteer terwyl my hart nog probeer het om by te hou. My ma, altyd die een wat alles bymekaar hou, moes hierdie keer rus op my skouers. En sonder dat ons dit hardop gesê het, het iets tussen ons verander. Nie gebreek nie, maar dieper geword. Rou het ons nie sag gemaak nie; dit het ons eerlik gemaak. Ons het mekaar se seer gesien sonder versiering. Daar was dae van stilte, en dae waar trane sommer onverwags gekom het. Maar daar was ook iets anders: ’n nuwe vorm van nabyheid, gebou op wedersydse respek en begrip, nie net die rol van ma en dogter nie, maar op twee vroue wat dieselfde verlies dra. Vandag bly ek in die Kaap. Ek het ‘n maand later huistoe getrek, gelukkig genoeg om my pos te hou en hier te kan bly. Naby haar, my broer, sy vrou en hul kinders. Ons pak saam my pa se goed weg. Stadig, met sorg. Elke laai hou ’n storie. Elke item ’n herinnering. Soms huil ons. Soms lag ons so hard oor ou stories dat dit voel asof hy net in die volgende kamer is. Ons deel wyn of warm koffie op aande waar die wêreld stil raak, en praat oor alles en niks. Die pyn is nie weg nie, maar dit het ’n plek gekry. Wat eens ’n slegte tyd was, het ons sterker gemaak. Nie omdat dit maklik was nie, maar omdat ons gekies het om saam daardeur te gaan. My verhouding met my ma was nog altyd eg, en vandag net SO lekker.

Antwoord 3: Ons raad? Moenie mik vir perfeksie nie, mik vir eerlikheid. Praat, selfs wanneer dit ongemaklik is. Lag saam, selfs oor die dinge wat seer was. Wees mekaar se span wanneer die wêreld laf raak. Kêrels gaan hul kans kry, werk en drome gaan draai, die lewe gaan sy eie plan maak en die Springbokke mag dalk ‘n wedstryd verloor. (Kyk dan mors dit my ma se dag op, maar ek maak tee) Hê pret saam. Lag oor julle verskille. Dans in die kombuis. Drink koffie wat koud raak omdat die “chats” te goed is. Maak herinneringe wat julle later weer sal onthou en sê: hoe lucky was ons.