Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Debora Meyer

Debora Meyer

Dorp: Brits

Antwoord 1: My ma is my beste vriendin. Wanneer daar moeilikheid is, is sy die eerste persoon wat ek bel – nie omdat sy al die antwoorde het nie, maar omdat sy my verstaan. Ons verhouding is spesiaal omdat dit gebou is op vertroue, eerlikheid en onvoorwaardelike liefde. Sy is my veilige plek. By haar kan ek alles sê sonder om geoordeel te word – die goeie, die slegte en selfs die dinge wat ek nog nie hardop vir myself kan erken nie. Sy luister met haar hele hart en gee raad wat uit wysheid en ervaring kom, nie uit kritiek nie. Selfs wanneer sy nie saamstem nie, bly sy aan my kant. Wat ons verhouding besonders maak, is dat sy my ondersteun om my eie mens te wees. Sy het my geleer om sterk te staan, maar ook dat dit oukei is om soms swak te voel. Sy vier my oorwinnings saam met my en dra my deur my moeilike dae. Ons lag saam, huil saam en deel klein oomblikke wat vir ander dalk onbelangrik lyk, maar vir my alles beteken. Sy is nie net my ma nie – sy is my vertroueling, my rolmodel en my grootste ondersteuner. Daarom is ons verhouding vir my iets kosbaars wat ek elke dag waardeer.

Antwoord 2: Een van die mees uitdagende tye wat my ma en ek saam deurgemaak het, was tydens my swangerskap met my eerste baba. Op 20 weke het my water gebreek, en ek moes vir nege weke lank in die hospitaal bly. Dit was ’n tyd vol onsekerheid, vrees en emosionele uitputting. Op 29 weke is my dogtertjie gebore, en daarna moes sy nog ses weke in die NICU deurbring. Gedurende hierdie hele tyd het my ma sonder om ’n oog te wink alles in haar vermoë gedoen om by my te wees. Sy het gereël, gereis en opgeoffer om my te kom besoek, my gunstelingkos saam te bring en seker te maak ek voel nie alleen nie. Terwyl ek in die hospitaal was, het sy ook na my man omgesien en hom ondersteun sodat hy sterk vir my kon wees. Haar teenwoordigheid het vir my veiligheid en rus gebring in ’n tyd waar niks seker gevoel het nie. Toe my baba vier weke in die NICU was, het ons nog ’n groot skok beleef. My pa was in ’n ernstige werksongeval en het byna gesterf. Hy was in ’n hospitaal sowat 30 minute van waar my dogtertjie was. Ten spyte van die angs en onsekerheid oor my pa se toestand, het my ma haar aandag tussen ons verdeel. Sy het nooit my of my baba afgeskeep nie. Selfs in haar eie pyn het sy my bygestaan terwyl ek vir die eerste keer ’n ma moes wees onder baie moeilike omstandighede. Hierdie tyd het ons verhouding ongelooflik laat groei. Ek het nie net my ma as my moeder gesien nie, maar as ’n vrou van onmeetbare krag, selfloosheid en geloof. Sy is vandag die beste ouma onder die son – iemand wat net aanhou gee, sonder verwagtinge of klagtes. My ma is vir my ’n ware voorbeeld van ’n Spreuke 31-vrou en ’n besonderse rolmodel. Wat ons saam deurgemaak het, het ons band verdiep op ’n manier wat woorde skaars kan beskryf. Ek is elke dag dankbaar vir haar liefde, opoffering en onwrikbare teenwoordigheid in my lewe.

Antwoord 3: My raad aan dogters is om te onthou dat jou ma ook eers ’n dogter was. Sy het waarskynlik baie van dieselfde dinge beleef waarmee jy nou worstel – onsekerhede, hartseer, vreugdes en moeilike keuses. Gee haar die kans om haar lewensverhale met jou te deel. Luister regtig, met ’n oop hart. Ek belowe, jy sal wegstap met nuwe begrip, respek en verwondering oor die vrou wat jou grootgemaak het. Aan ma’s wil ek sê: gee soms spasie, veral as jou dogter nog nie gereed is om jou beste vriendin te wees nie. Die tienerjare is nie maklik nie – nie vir ma’s of dogters nie. Vertrou haar oordeel genoeg om haar mens te laat wees, maar leer haar steeds die verskil tussen reg en verkeerd. Lei haar met liefde, geduld en konsekwentheid, selfs wanneer sy voorgee dat sy dit nie nodig het nie. Sy het jou leiding meer nodig as wat sy ooit sal erken. ’n Goeie verhouding tussen ’n ma en dogter word gebou op geduld, eerlikheid en genade – vir mekaar en vir jouself. Dit is ’n verhouding wat groei saam met tyd, foute en vergifnis, en wat uiteindelik een van die kosbaarste bande in ’n mens se lewe kan wees.