
Dorp: Mookgophong
Antwoord 1: Hallo liewe leser. Om ons verhouding te beskryf, is byna onmoontlik, want wanneer my hart klop, klop dit saam met dié van my lieflingdogter. Ons ken mekaar se “ins en outs” sonder om eers daaroor te praat. Ons is nie net mekaar se vlees en bloed nie, maar is die meeste van die tyd saam wanneer ons enige taak aanpak. Ons is albei kunstenaars: Corietha met die kwas en ek met die woord. Ons het ’n aanvoeling vir mekaar se idees en soms, sonder om te praat, dink ons aan dieselfde plan. Ons lag saam en huil saam. Vele kere sal ons selfs dieselfde kleur of klere dra sonder om dit te beplan. Ons is ook mekaar se steunpilare, en ons kan mekaar se werke kritiseer en daarna uitbundig lag wanneer ons foute maak. Ons dek saam tafel vir geleenthede en hou van uitspattige kleure. Ons maak grappies, en ek kan my nie ’n dag indink sonder haar nie. Ons bly net ’n straat van mekaar af en sien mekaar elke dag. Ons is lief vir die Here en staan saam om ander te help. Sy hou my jonk en ek sal nie waag om ’n “ou tannie” te wees nie. Ons dra elke dag “glitter”-grimering om onsself te herinner dat die lewe net een keer gebeur, en dat die lewe is wat jy daarvan maak. Ons leuse is: “Don’t blend in, if you can stand out.” Dit is wie ons is!
Antwoord 2: Ons het albei, op verskillende tye, hartsvriendinne op ’n onnatuurlike wyse aan die dood moes afstaan. Dit het ons nader aan mekaar gebring, want dit was dieselfde seer. Ons kon mekaar se rou hartseer verstaan en mekaar dra terwyl dit donker om ons was. Dit was twee tydperke waarin ons die waarde van die lewe diep besef het. Dit het die band tussen ons versterk — soms sonder woorde — en ons ook gehelp om ander met dieselfde seer te kan troos. Dit was donker, maar ons het geleer dat die son weer kan deurbreek, sodat ons die lig kan vang.
Antwoord 3: Wees ’n ma vir jou dogter en ’n dogter vir jou ma. Dit is die rolle wat vir elkeen gegee is. Leef passievol, gee mekaar respek en doen dinge saam. Tyd is al wat ons het — gebruik dit om mekaar te inspireer en mekaar te laat groei. Spog met mekaar en kyk die wêreld vierkantig in die oë, ongeag die uitkoms daarvan. Dra helder kleure en lag uit jou maag. Huil saam, bid saam en dra mekaar.