
Dorp: Paarl
Antwoord 1: Wat my en my ma se verhouding werklik besonders maak, is die unieke manier waarop ons verskillende rolle met respek en balans kan dra. Ons is nie net ma en dogter nie, maar ook werkgewer en werknemer, kollegas en uiteindelik twee vroue wat mekaar diep verstaan en respekteer. Ons is in baie opsigte eenders. Ons deel dieselfde sin vir humor, en saam met my suster kan ons drie vreeslik baie lag en soms heerlik verspot wees. Hierdie ligtheid is ’n belangrike deel van ons band. Haar menswees inspireer my daagliks om ’n beter vrou vir my man en ’n beter ma vir my kinders te wees. Sy is ongelooflik nederig, soek nooit die kollig nie en stel haarself dikwels tweede vir die mense om haar. Selfs in ’n moderne tyd waar sy ’n mede-broodwinner is, het sy daarin geslaag om ’n ouerhuis te skep wat warm, verwelkomend en veilig voel - ’n plek waar ’n mens altyd tuis is.
Antwoord 2: Om dat ons nie net ma en dogter is nie, maar ook kollegas, het dit ons verhouding verdiep en versterk. Sy behandel my soos enige ander lid van die span, en juis omdat ek haar dogter is, verwag sy dat ek my werk met integriteit en toewyding sal doen. Daar is geen voorkeurbehandeling nie—slegs hoë standaarde en wedersydse vertroue. Ons werk al meer as tien jaar saam by AmazingBrainz NPC, ’n nie-winsgewende organisasie waarvan sy die CEO is en wat sy van die begin af help bou het. Deur uitdagings (selfs deur die onsekerheid van Covid, toe befondsing ‘n groot uitdaging was), het sy nooit moed verloor nie. Haar geloof in die Here en haar vaste oortuiging oor die belangrikheid van vroeë kindontwikkeling het nie net my nie, maar die hele span geïnspireer om aan te hou. Nou, op die randjie van haar aftrede, kan ek met trots langs haar staan en weet dat ons opofferings nie verniet was nie. Om hard te werk, maar met sagtheid en menslikheid, was en is ons doel. Sy is vir my ’n lig in hierdie wêreld en ’n voorbeeld van hoe ware leierskap lyk. Ek is trots om nou in die posisie te wees om voort te gaan met hierdie werk en voort te bou aan ons droom: om Suid-Afrika deur vroeë kindontwikkeling te help verander. Saam glo ons dat selfs ’n klein verskil ’n groot impak kan hê - veral vir die klein kinders in ons mooi land.
Antwoord 3: ’n Goeie verhouding tussen ’n ma en dogter begin by eerlike gesprekke – al is baie ongemaklik. Om dit deur te praat, eerder as om dit te vermy, maak jou ligter. Ons besef dat ons as vroue van verskillende generasies, omstandighede verskillend ervaar, maar dit maak dit juis interessant. Ons het ook geleer dat dit help om te weet wanneer jy ma en dogter is, en wanneer jy bloot twee volwassenes is wat mekaar respekteer. Daardie grense beskerm nie net die verhouding nie, dit gee ook vir elkeen ruimte om asem te haal. Humor speel ’n groot rol. Om saam te kan lag, selfs oor ons eie foute en blapse, maak moeilike dae draaglik en goeie dae nóg beter. ’n Goeie lag herinner jou vinnig dat julle in dieselfde span is. Dit is net so belangrik om mekaar nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar om mekaar raak te sien en erkenning te gee. Ons glo ook sterk daaraan dat ’n gesonde verhouding ruimte laat vir elkeen om hul eie mens te wees. Jy hoef nie altyd dieselfde pad te loop om naby te bly nie. Inteendeel, om mekaar aan te moedig om te groei—sonder vergelyking of verwagtinge—bring ’n dieper respek. En laastens: kies mekaar. Oor en oor. In die gewone, alledaagse oomblikke. Maak tyd, wees teenwoordig, en hou vas aan dit wat julle deel—of dit geloof, waardes of ’n gemeenskaplike droom is. Vir ons is dit juis hierdie kombinasie van eerlikheid, ligtheid en liefde wat die verhouding laat werk.