
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: My ma is nie net die vrou wat my grootgemaak het nie — sy is die persoon wat my lewe gevorm het. Wat ons verhouding besonders maak, is nie een groot oomblik nie, maar duisende klein opofferings wat sy gemaak het, sonder om ooit iets terug te verwag. Toe ek getrou het, het my ma drie verskillende werke gewerk om my troue moontlik te maak. Nie omdat sy moes nie, maar omdat dit vir haar ’n eer was. Vir haar was dit nie net ’n dag nie — dit was ’n droom wat sy saam met my wou leef. Daardie selflose liefde is iets wat ek nooit sal kan terugbetaal nie. My ma is die tipe mens wat altyd daar is. Nie net wanneer dit maklik is nie, maar veral wanneer dit moeilik raak. Toe my seuntjie op vyf maande oud in die hospitaal opgeneem is, het sy om drie-uur die oggend in haar nagklere deurgejaag om by ons te wees. Sonder vrae. Sonder huiwering. Net liefde. Wat ons verhouding uniek maak, is dat my ma meer as net my ma is. Sy is my beste vriendin wanneer ek wil praat, my sielkundige wanneer my kop vol is, en my steunpilaar wanneer ek voel ek kan nie meer nie. Sy luister sonder oordeel, dra sonder kla, en gee sonder om ooit iets terug te eis. Ek dink dit is baie min dat kinders werklik hulle ma as hulle beste vriendin beskou.
Antwoord 2: Toe ek vyftien jaar oud was, is my boetie op net 21 oorlede. Dit was ’n tyd wat ons lewens vir altyd verander het. Vir my ma was dit elke ouer se grootste vrees. My ma het op daardie punt elke rede gehad om op te gee. Om haar lewe, haar vreugde en haar menswees te verander maar sy het nie. In plaas daarvan om my vas te hou uit vrees uit, het sy my laat leef. Sy het my nie gekeer om dinge te doen of nuwe ervarings te he nie. Sy het my aangemoedig in alles wat ek wou doen. Toe ek later die kans kry om na Nieu-Seeland te trek, het sy my ondersteun, en dit was ook n uitdaging want dit was ook die eerste keer wat ek my ma vir n jaar en 5 maande nie gesien het nie. My ma het gekies om nie bitter te wees na my boetie se dood nie. Daardie tyd het ons verhouding baie verander. Ek het haar nie net as my ma gesien nie, maar as ’n ongelooflik sterk vrou. Ek dink dit was n uitdaging vir ons om aan te gaan soos normaal, maar ook dit was n uitdaging om n sterk verhouding te behou deur die tyd verkil in NZ asook die tyd wat ons mekaar nie gesien het nie.
Antwoord 3: My raad is dat daar ’n fyn lyn is tussen ’n ma wees en ’n vriendin wees — maar dit ís moontlik om albei te wees. My ma het my geleer dat jy nie hoef te kies tussen streng of sag nie. In ernstige situasies is jy ’n ma: jy gee leiding, jy praat reguit, jy staan op vir jou kind en jy tree op wanneer dit nodig is. Maar in ander oomblikke moet jou kind ook die vrymoedigheid hê om met die lelike, swaar en ongemaklike goed na jou toe te kan kom — sonder die vrees vir onmiddellike oordeel. ’n Kind moet weet: “Ek kan fout maak, maar ek kan steeds huis toe kom.” As kind kon ek altyd na my ma toe gaan, al was ek skaam, verleë of selfs bewus dat ek verkeerd was. Selfs wanneer ek kattekwaad aangejaag het, sou sy my eers help, my veilig laat voel, en dán eers die situasie aanspreek. Ek moes steeds die gevolge dra — maar ek was nooit alleen daarin nie. Ek was bang om my ma teleur te stel, ja. Ek was bang om in die moeilikheid te kom. Maar ek was nooit bang dat sy my sou los, wegstoot of nie bystaan nie. En dit, glo ek, is die balans: om jou kind te leer verantwoordelikheid dra, maar terselfdertyd seker te maak hulle weet jou liefde is onvoorwaardelik. My ma het my geleer dat wanneer ’n kind weet hulle het ’n veilige plek, hulle altyd sal terugkom — maak nie saak hoe groot die fout nie.