
Dorp: Potchefstroom
Antwoord 1: Ons was van die begin van die skepping af daar vir mekaar. Toe ek op agt weke swangerskap kraampyne kry, was ek daar vir haar, om haar deur te dra. Op sewe maande was dit weer sulke tyd, en het my lyf geduldig doodstil gelê sodat ons die nege-maande eindstreep saam kan haal. Sy was daar vir my tydens die geboorte toe ons naelstring afbreek, en een kyk in haar helder ogies my deurgedra het toe ek my wou doodbloei. Sy het my van 'n ver maar bekende plek geroep, haar mondjie om my bors gevou en my teruggebring aarde toe. En so was dit vir altyd: Daardie beurte-maak om mekaar deur die lewe te navigeer en te dwing. Soms is sy die ma: "Ek is nie jou vyand nie, mamma, jy moet opstaan en die dinamiese deel van jouself terugroep." Soms is ék die ma: "Hestia, hou op om vir alles jammer te sé, jy is in alle opsigte meer as genoeg." Ons verhouding is ons blyplek, ons baklei-plek en ons liefhê-plek. Ons veilige plek, En eendag, as ons Skepper ons kom haal, sal ons hand-aan-hand, steeds daar vir mekaar, die ver, maar bekende ewigheid, ingaan.
Antwoord 2: Watter tyd was minder goed? Ons was dan altyd daar vir mekaar (gryswordende hare en al) want dit was van die begin van die skepping af so bedoel. As haar pappa vir lang tye ver weg gewerk het, en sy, met haar afwesige maagkleppie, vir ure aanmekaar gegil het, was ek daar vir haar om haar oor my skouer aan haar eie gewig te laat "hang" om die ongemak en pyn te verlig. Dan het ons dikwels saam gehuil. Sy was in daardie tyd daar vir my om my te herinner daaraan dat sy kosbaar genoeg was om te baklei vir haar, selfs as dokters my het dat ek 'n oorspanne ma is wat self virhaar gegil verantwoordelik was. Ek was daar vir haar toe 'n chirurg sewe-en-twintig jaar later eers daardie kleppie herstel het. Ons was steeds daar vir mekaar elke keer as een van ons (of albei) dodelik siek geword het as haar geliefde pappa weer en weer moes weggaan vir werk. Saam-saam hospitaal toe, dokter toe, lam en tam en sommer net keelvol. Dan het ons weer saam gehuil, later geskel, nog later gelag en aangegaan. En so is elke slegte tyd tog 'n goeie tyd. Ons is daar vir mekaar.
Antwoord 3: Wees altyd daar vir mekaar. Onthou, julle is nie mekaar se vyande nie. Julle is beide meer as genoeg en meer as goed genoeg. Julle is deur 'n baie groter Goddelike plan bymekaar gevoeg om Sy werk op aarde voort te sit en Sy liefde en trou, en ook regverdigheid en vergifnis, ten toon te stel. Sê dus jammer. En bedoel dit. En beweeg aan (ou koeie hoort in die sloot). Bid sonder ophou vir mekaar, soms op jou knieë in die stilte van jou kamer, soms terwyl jy jou tande stukkend kners, soms sommer in die straat en in die winkel as ons nie presies die regte skoene kry om by die geleentheid te pas nie (selfs al is daardie skoene nog nooit eers vervaardig nie, nie eers deur Prada nie). Praat met mekaar, noem jou emosies op die naam, respekteer mekaar as volledige individue met eie unieke drome en planne. Bly in liefde glo in mekaar. En wees altyd bietjie liewer vir die ander een as vir jouself.