
Dorp: Centurion
Antwoord 1: Ons verhouding is alles behalwe normaal – dit is verseker buitengewoon en ongewoon spesiaal, iets wat die woorde “net ek en jy vir altyd” kliphard skree. Ons pad was nog nooit net glad nie...maar die belofte 18 jaar terug, sal ons band net eenvoudig nooit kan breek nie. Deur ons “journey of life” sover, het ons nog nooit die beste weergawe van mekaar verwag nie. Nee... ons het eerder ‘n weergawe gekies wat saam groei, saam leer, saam vorm, saam verstaan en saam vorentoe beweeg sonder oordeel... ons spannetjie van 2, soos vinkel en koljander - die een maller as die ander. Soos die norm is ons tienermeisie & ma-verhouding nie altyd op dieselfde bladsy nie, en soms voel dit of die wêreld daarbuite ook nie die die memo ontvang het nie. Die druk, verwagtinge en gejaag van die lewe kan soms erg oorweldigend wees vir albei van ons. Ja, ons “freak” uit, sê dinge wat ons nie bedoel nie, en voel partykeer mal van frustrasie – maar dis juis deel van hierdie unieke “net ek en jy vir altyd” reis....want tog, in die middel van dit alles, kan ons elke keer mekaar se emosies op 'n afstand lees en weet presies wanneer die ander een nodig het om asem te skep of wanneer dit tyd is vir ’n ernstige “one on one, -freedom of speech” -gesprek. Al die op- en afdae maak ons band verseker sterker, want dis hoe ons harder leer om mekaar se harte beter te verstaan. Dis juis die ding- wanneer die golwe van die lewe daarbuite die hardste slaan, is dit ons 2 se onbreekbare band wat elke keer wen, oor en oor. Ons het geleer hoe om mekaar se innerlikke wipplank te balanseer...en so besef dat hierdie band nie net iets is om te beleef nie, maar iets wat ons elke dag kies. Ons is ver van perfek, maar so “in sync” met ons gedagtes en woorde - soms tot voordeel...en soms effe gevaarlik... Ons kan saam die hardste lag, lief en leef - en die rofste dans, ons weet wanneer stiltes die meeste sê, en ons waardeer daardie oomblikke net so veel soos al ons lawwe tye. Ons sal verseker altyd aanhou baklei, aanhou lag en aanhou mekaar ondersteun op hierdie ma en-dogter reis... wantl is die pad nie altyd reguit nie, is dit ONS unieke, super-spesiale pad.
Antwoord 2: Daar is soveel tye wat uitstaan, goeie en minder goeie tye. Die dag toe ek uitgevind het ek is swanger, was ek nie baie gesond nie (Veelvuldige Sklerose), en was nie seker of ek ooit hier sal wees om haar groot te maak nie. Sy was my klein wonderwerkie, ek sou nie kon swanger raak nie, en daar was sy – perfek. Ek het nie geweet wat die toekoms met my gesondheid inhou nie - maar ek het daai dag ’n belofte gemaak dat sy altyd versorg en geliefd sal wees, dat ek vir haar sal baklei...maak nie saak wat dit sou verg nie. Vandag weet ek dat die Here reeds ons lewensplanne in plek gehad het, ’n groter doel vir elkeen van ons. Dit sluit aan by ’n groot uitdaging wat ons saam deurgemaak het- toe ek en haar pa geskei het toe sy net 5 jaar oud was. Alhoewel ons nie ’n slegte egskeiding gehad het nie, en alles moontlik probeer het om dit so maklik moontlik vir haar te maak, weet ons ook dat dit werklik die beste besluit was, ook vir haar onthalwe. Dit was nie ‘n maklike pad vir een van ons nie – daar was baie skade aan ons verhouding weens 'n verlede wat net eenvoudig nooit sal ophou spook nie. Ons het probeer om die huwelik te red, maar dit was reeds so stukkend, dit wou nie en kon nie herstel nie. Ons moes aanpassings maak – twee huise vir 'n 5-jarige dogtertjie wat nog nie eers die grootskool “geleef” het nie. Dit was 'n groot uitdaging en nie lekker vir ons as ouers om haar daardeur te laat gaan nie. Ons moes dieselfde reëls en disipline probeer handhaaf, wat verseker in beide huise tog gevaal het. Op die ou einde maak dit nie saak hoe mooi mens ‘n egskeiding hanteer nie, dit maak skade aan die hart en lewe van enige kind. Spelterapie het baie gehelp, en ek moet sê, sy het oor die jare baie goed aangepas. Maatjies het nie altyd die “twee huise” scenario verstaan nie, en spesiale dae soos verjaarsdae, Kersfees en vakansies was dikwels moeilik om te hanteer. Soms was dit sakke en tasse oor en weer – dan hier, dan daar. En wanneer ons by skoolfunksies was, maak nie saak hoe respekvol en mooi ons mekaar probeer hanteer nie, dit was altyd ongemaklik, en sy het dit verseker aangevoel. Namate sy ouer geword het, het sy natuurlik baie slimmer geword, dinge makliker aanvaar..sy was baie meer gemaklik daaroor. Sy weet van die verlede se spoke en verstaan dit baie beter as wat ek ooit sou dink. Ons praat daaroor...openlik en so maklik. En sy weet...al was foute gemaak, is vergifnis aan die dag die belangrikste, en werk die Here selfs in die grootste foute aan die mooiste storie. Vandag het beide ek en haar pa al aanbeweeg, en sy ervaar ‘n “best of both worlds.” lewe tussen 2 huise. Sy floreer...en almal van ons probeer saam die tasse en harte ligter maak soos ons aangaan. Hierdie uitdaging van (sover) 13 jaar, het my en my dogter selfs nog nader aan mekaar gebring as die onbeskryflike ma-vas kleuterdae. Ek kan werklik getuig dat die waarheid en vergifnis mens vry maak en verhoudings herstel. Ek en Zinnaé het nog dieper in mekaar se wêrelde ingetrek deur hierdie uitdaging, nie net mekaar se hartseer raakgesien nie, maar ons hegte band het toegelaat om mekaar se emosies dieper te verstaan. Dit het ons met hart en siel gebind, niemand en niks sal dit ooit kan breek nie.
Antwoord 3: LUISTER aktief na mekaar. Moenie net die woorde hoor nie, probeer soms in mekaar se skoene staan...KOMMUNIKASIE is regtig alles. Of dit hard, sag, mooi of kwaai is... PRAAT, want dis hoe julle harte mekaar keer op keer vind. Wees oop vir verandering, ma’s en dogters verander SAAM met die lewe. Laat mekaar ook toe om elkeen haar eie afdraai te neem op julle reis..., selfs al is daar dorings, julle paaie sal in elkgeval weer kruis. BID SAAM, bid vir mekaar. Respekteer mekaar se ruimte, soms is stilte ook ’n goeie gesprek. Alles hoef nie dadelik opgelos of uitgesorteer te word nie, moenie mekaar probeer “fix” nie. HUMOR. HUMOR HUMOR. Mens se band bly sterkter wanneer mens nie altyd die perfekte ma-dogter verhouding najaag nie.... Kry net mekaar se ritme, en jy sal sien, die verhouding sal altyd op dieselfde "beat" dans - al verskil die musiek se era. Wees geduldig met mekaar se proses van groei en leer, elke era het ook sy eie pas (ma’s is bietjie stadiger as dogters...). Moenie te hard wees op mekaar of op jouself nie...baklei en verskil het ook ’n plek in die bou-proses. Dis hoe ons saam opstaan en regmaak wat werklik saakmaak. Liefde, geduld, respek, kommunikasie, begrip, vergifnis en humor – kry hierdie 7 dinge in BALANS van albei kante af - en julle band sal nie net onbreekbaar wees nie, maar ook onvergeetlik interessant....soms is dit die chaos wat die beste stories vertel!