
Dorp: Mokopane
Antwoord 1: Ons verhouding is spesiaal omdat dit eg is. Dis nie perfek nie en nie altyd maklik nie, maar dis eg. Ons kan saam lag tot ons maag seer is, en ons kan saam huil sonder om te verduidelik hoekom. Pa en kleinsus lag altyd vir ons 2 wat so lekker kan huil wanneer ons ‘n mooi storie kyk. Ons hoef nie altyd te praat nie, selfs die stilte tussen ons, is gemaklik. Saam-saam kan ons sit en boek lees, elkeen besig met sy eie ding, maar tog saam. Wat ons verhouding besonders maak, is dat ons mekaar kies. Elke dag. Ons kies om te luister, selfs wanneer ons nie saamstem nie. Ons kies om te vergewe, selfs wanneer trots wil wen. Ons kies om lief te hê, selfs op dae wanneer ons mekaar irriteer (want ja… dit gebeur ook). Ons ken mekaar se harte. Ons weet wanneer die ander een sterk probeer wees, en wanneer sy eintlik net ’n drukkie nodig het. Ons ondersteun mekaar – soms met sagte woorde, soms met harde eerlikheid. Ons ken mekaar só goed dat ons mekaar se sinne klaar maak en ons ken ook mekaar se swakpunte. Ons kan stry oor niks, lag oor alles, en steeds vyf minute later saam in die kombuis staan asof niks gebeur het nie. Ons weet dit maak nie saak hoe moeilik en hard die wêreld raak nie, ons sal altyd mekaar se veilige plek wees. Ons vertrou mekaar ten volle en ons respekteer mekaar se menswees. Daar is ‘n band tussen ons wat nie woorde nodig het nie.
Antwoord 2: Ons verhouding is nie noodwending altyd goed nie, maar die slegte tye laat dit groei. Soms is daar misverstande en sterk emosies en eie opinies. Ons kies om te praat, te luister en jammer te sê al is dit soms moeilik.Daar is dae waar ons albei oortuig is die ander een is hardkoppiger… en natuurlik is ons albei reg . Soms praat stilte harder as woorde. Maar juis in daardie stilte het ons geleer dat liefde nie wegstap nie. Dit bly. Dit wag. Dit kom terug. Ons is in so baie opsigte presies dieselfde tog is ons ook verskillend en elkeen haar eie mens. Ons is ‘n gelukkige, geseënde gesin wat nie baie slegte tye al beleef het nie, die wat wel daar was, het ons as gesin saamgestaan, mekaar ondersteum en saam daardeur gekom. Die mees onlangste “slegte ervaring” was om ‘n bestuurderslisensie te kry…vir iemand wat al van 10 jaar oud op die plaas bestuur, het dit 4 toetste, ‘n baie geduldige Ma wat orals saamgaan, emmers vol trane en ure en ure se sit en wag, gevat om dit uiteindelik te kry ! In ons huis is daar nie so iets soos tou opgooi nie, jy doen jou beste, soos wat jy kan
Antwoord 3: Ons raad is eenvoudig, praat met mekaar – regtig praat. Nie net oor skool, werk of take nie, maar oor gevoelens, vrese en drome. Luister om te verstaan, nie net om te antwoord nie. Wees geduldig met mekaar. Julle gaan nie altyd dieselfde dink of voel nie, en dis ook goed. Moenie die klein oomblikke onderskat nie. Dis nie altyd die groot gesprekke wat saak maak nie, maar die alledaagse dinge: saam lag, saam stil wees, saam deur iets gaan. En laastens: kies mekaar, selfs op moeilike dae. Liefde is ’n keuse. Wanneer ma’s en dogters mekaar met respek, humor en opregtheid hanteer, bou hulle ’n verhouding wat enigiets kan oorleef. Moenie dink julle moet altyd “besties” wees nie – party dae is dit meer “ek is lief vir jou, maar moenie nou met my praat nie” .Maar onthou dit: tyd is kosbaar en nie gewaarborg nie. Hou vas. Sê die sagte dinge. Gee die drukkies. Kies mekaar weer en weer. Want ’n sterk ma-dogter-verhouding is nie net ’n geskenk vir vandag nie, maar ’n nalatenskap vir ’n leeftyd