Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Michelle & Anke Alberts

Michelle & Anke Alberts

Dorp: Despatch/Port Elizabeth

Antwoord 1: Daar was ’n tyd toe ek besef het: ek kan nie altyd my dogter se storms vir haar stilmaak nie. Ek kan haar net vashou terwyl dit waai. Mense dink soms ’n ma en dogter se verhouding word gebou uit groot oomblikke. Vir ons is dit eerder gebou uit honderde klein oomblikke. Ons het geleer dat liefde nie altyd antwoorde bring nie – soms bring dit net teenwoordigheid. En dit is genoeg. Dis nie altyd oor groot gesprekke en perfekte oplossings nie, dis partykeer net 'n boodskap wat sê 'ek is hier'. Ek en Anke het ’n verhouding wat gebou is op lag, vertroue en saam-wees. Ons check reg deur die dag by mekaar in. Nie omdat dit nodig is nie, maar omdat dit natuurlik is. Ons ken mekaar só goed dat een al weet wat die ander gaan sê of hoe sy gaan reageer, lank voor die woorde daar is. Ons lag baie saam. Ons maak kos saam. Ons stuur vir mekaar resepte en beplan sommer net vir die lekkerte wat ons volgende gaan probeer. Anke deel my liefde vir kos maak, smaak en geure – maar sy het dit haar eie gemaak. Ons stem oor uitrustings voor ons erens moet gaan, doen mekaar se naels. drink saam ’n glasie wyn en gesels oor niks en alles . Ons lag tot ons trane rol! Ons het baie fun saam. En bo alles weet ons: wat ook al gebeur, ons is mekaar se mense.

Antwoord 2: Geen huishouding is perfek nie. Elke huis het seisoene waarin hulle pootjie en teruggesit word — oomblikke wat jou uit jou gemak ruk en jou dwing om anders te kyk. Ek het geleer dat dit nie beteken dinge sal altyd glad verloop nie, maar dat jou teenwoordigheid as ouer alles verander. Daar was ’n tyd toe dinge in ons huis nie maklik was nie. Dit het my diep bewus gemaak van hoe werklik tienerdepressie is, en hoe maklik dit gemis kan word as ’n ouer nie regtig teenwoordig is nie — nie net fisies nie, maar emosioneel. Om stil te wees, om te luister, en om regtig daar te wees, het ’n nuwe betekenis gekry. Party dae het dit beteken om net langs Anke te lê, sonder antwoorde, met trane wat stil loop , trane van dankbaarheid dat sy leef, en van 'n bewustheid dat die Here se genade en Sy hand oor ons lewens is. Daardie tyd het ons verhouding verander. Nie omdat alles skielik makliker geword het nie, maar omdat ons geleer het om anders by mekaar te wees. Om mekaar se hand vas te hou sonder om oplossings te hê. Om te verstaan dat stilte soms genoeg is. In sulke oomblikke ervaar 'n mens juis die nabyheid en kalmte, sonder woorde. Net die stille wete: ek is hier, jy is nie alleen nie. Mens is geneig om te dink, goeie raad vloei van oud na jonk. Maar toe ek deur 'n moeilike tyd gegaan het, was dit toe wat Anke dinge gesê en gedoen wat my verras het. Nie groot oplossing nie, maar eerlike perspektiewe en insigte wat my laat besef het hoe fyn kinders dinge waarneem en verstaan. Haar teenwoordigheid, haar raad, en selfs haar stil ondersteuning het my gedra toe ek dit die nodigste gehad het. Soms, wanneer ’n ouer swaar trek, is dit juis daardie stille wysheid van jou kind wat soos ’n anker voel — nie omdat dit alles regmaak nie, maar omdat dit jou herinner: jy staan nie alleen nie.

Antwoord 3: ’n Dogter verstaan eers regtig wat haar ma vir haar beteken het wanneer sy ouer is – of selfs self ’n ma word. Dan sien jy hoe sterk ’n vrou eintlik is, en verstaan jy die volheid van haar liefde en teenwoordigheid. Jy besef dat sy moontlik bitter swaar moes trek toe dinge in julle lewens gebeur het, maar tog was sy elke dag net daar. Sy het altyd gearriveer, reg waar jy haar nodig gehad het. Moenie probeer om die perfekte ma of dogter te wees nie. Wees net eg, teenwoordig en bereid om saam te lag, te luister, en die gewone oomblikke te deel. Soms is dit genoeg om net stil saam te wees, of ’n vinnige boodskap te stuur wat sê: “Ek dink aan jou.” Bou julle verhouding in die klein, alledaagse oomblikke: saam kos maak, saam lag, saam ’n outfit kies, skelm kitskos eet, of net ’n kort check-in deur die dag. Dit is in daardie alledaagse oomblikke waar vertroue, veiligheid en liefde gebou word. Onthou: jou dogter hoef jou nie altyd as probleem-oplosser te sien nie. Soms het sy jou net nodig as haar veiligheidspunt. En vir dogters – jou ma leer ook nog. Gee haar genade, lag saam met haar, deel jou dag en jou pret. Wanneer ’n ma en dogter mekaar kies, oor en oor, selfs in gewone dae, selfs in stil oomblikke, word die verhouding iets besonders: ’n vriendskap, ’n span, ’n tuiskoms.