
Dorp: hoedspruit
Antwoord 1: My en my ma se verhouding is iets besonders – dit was nog altyd so vandat ek kan onthou. Hierdie jaar maak dit nóg meer spesiaal, want ons vier twee groot mylpale saam: my 40ste en haar 70ste verjaarsdag. Daar gaan nie ’n dag verby wat ons nie met mekaar gesels nie. Ons kan oor absoluut enigiets praat, en haar raad is altyd reg. Ons verstaan mekaar sonder woorde – elke gesigsuitdrukking, elke stukkie lyftaal. Ons ken mekaar se grense, weet waartoe die ander in staat is en respekteer dit. Ons verhouding is gevul met liefde, lag en ’n oorvloed wonderlike herinneringe. Ons dink baie dieselfde en hou van dieselfde dinge. Hulle sê mos ’n dogter leer alles by haar ma, en in my geval is dit 100% die waarheid. Ons het n baie sterk emotionele band en ken mekaar se harte. Ons deel nie net geluk nie maar, dra ook mekaar in moeilike tye. Hope lewenslesse kom van my ma af. Sy het my geleer om onvoorwaardelik liefde te gee en lief te he. Sy is n perfekte voorbeeld van n dapper vrou. Die waardes wat sy my geleer het, leef nou voort in my en my kinders. Ek sien haar liefde weerspieël in hoe sy ’n ouma is en haar invloed op my lewe is iets wat ek elke dag dra. Dit is ’n voorreg om ’n ma te hê wat enige tyd van die dag langs my sal staan – iemand wat my nooit in die steek sal laat nie en altyd eerlik met my sal wees. Sy is ’n puik ma én ’n ongelooflike ouma. As daar een mens is soos wie ek graag wil wees, is dit sonder twyfel my ma.
Antwoord 2: My en my ma se lewe was nie net gevul met maklike oomblikke nie. Sy was ’n ysterma wat dit nie altyd maklik gehad het toe ons kinders was nie. Tog het sy drie dogters grootgemaak en elkeen met sorg, wysheid en liefde gevorm en geleer oor die dinge van die lewe. Ek was beslis nie altyd ’n maklike tiener nie, maar haar geduld en liefde vir my het nooit opgeraak nie. In die minder goeie tye was my ma altyd my anker en my raadgewer. Wanneer ek siek was of met ’n stukkende hart gesit het, het sy altyd presies geweet watter “medisyne” ek nodig gehad het. Na laat aande van harde werk en lang dae op my voete, was sy die een wat altyd die perfekte boodskap gestuur het – woorde wat my weer moed gegee het en my laat aanhou het. Haar ondersteuning was konstant, selfs wanneer dinge swaar was. Ten spyte van die uitdagings, het ons soveel meer goeie en positiewe tye gedeel as swaar oomblikke. Ons het ongelooflike herinneringe wat ons altyd saam sal dra. Lag was nog altyd in oorvloed, want ons glo lag is die heel beste medisyne. Alle eer aan ons Vader vir al die goeie dinge wat al op ons pad gekom het en vir die besondere band wat ek en my ma deel.
Antwoord 3: Kommunikeer altyd en wees eerlik. Luister om te verstaan en nie te reageer nie. Soms is n oor wat luister meer as genoeg. Respekteer mekaar se verskille. N ma en dogter hoef nie identies te wees nie. Deel in mekaar se lag en suksesse. Wees daar in moeilike tye vir mekaar. So groei bande. LIEFDE, LIEFDE EN NOG LIEFDE is die antwoord tot enige suksesvolle verhouding. Die belangrikste van alles: bid vir mekaar en dra mekaar elke dag aan ons Vader op. Dis gebed wat harte verbind, krag gee in moeilike tye en dankbaarheid bring in goeie tye. Wanneer alles swaar raak, is dit geloof wat ons deurtrek en ons verhouding versterk.