
Dorp: Porterville, Western Cape
Antwoord 1: My verhouding met my ma, Yula, is een wat oor jare heen gegroei het — nie net as ma en dogter nie, maar as twee vroue wat mekaar leer verstaan het deur verskillende lewensfases. As kind was sy my veilige plek. As tiener my anker. En nou, as volwassene en self ’n ma, is sy my steunpilaar, my klankbord en iemand by wie ek altyd tuis kan kom. Wat ons verhouding besonders maak, is die feit dat dit saam met ons gegroei het — van leiding na gelykwaardigheid, van beskerming na wedersydse respek. Sy het my geleer om sag te wees, maar ook sterk. Om hard te werk, maar nie myself te verloor nie. In haar sien ek wysheid, geduld en ’n ongelooflike vermoë om te gee sonder om iets terug te verwag. Sy ken my hart — selfs wanneer ek nie altyd my woorde reg kry nie. Ons verhouding is nie net gebou op goeie tye nie, maar op eerlikheid, vergifnis en ’n diep liefde wat nie afhanklik is van omstandighede nie. Dis ’n band wat voel soos huis.
Antwoord 2: My ma is my inspirasie agter my handelsmerk. Sy is my hulp, my steunpilaar en die persoon sonder wie ek eerlikwaar nie sou kon wees waar ek vandag is nie. Een van die tye waar ons verhouding ongelooflik gegroei het, was in 2017 toe ek deel was van The Intern by David Tlale. Vir ses maande het ek in Johannesburg gewoon terwyl die TV-reeks geskiet is — ’n tyd wat opwindend was, maar ook uitmergelend en soms alleen. Agter die skerms was sy my grootste motivering. Sy was die een wat my aangemoedig het om nie op te gee nie, selfs wanneer dit moeilik geraak het. Sy het my in die aande “skelempies” kom besoek, net om te kyk of dit goed gaan, en my stil-stil vorentoe gedruk tot by die finaal. Haar teenwoordigheid, selfs in klein oomblikke, het my krag gegee. Ek het daardie selfde ondersteuning weer beleef met die bekendstelling van my laaste reeks, wat ek spesiaal aan haar opgedra het. Petal & Pause SS25/26 was ’n groot sukses, en dit is in groot mate te danke aan haar. Sy het aande saam met my deurgebring om die versameling te ontwerp en te maak — geduldig, toegewyd en altyd met geloof in my. Deur my hele swangerskap het ek aangehou werk, en sy was daar in elke stadium. Deur al drie trimesters het sy my gedra waar ek self nie meer kon nie — fisies, emosioneel en geestelik. Waar ek moeg geraak het, het sy oorgeneem. Waar ek getwyfel het, het sy geglo. Hierdie ervarings het ons verhouding verdiep tot iets wat veel meer is as net ma en dogter. Sy is my fondasie, my veilige plek en my grootste ondersteuner. Ons band is gebou op liefde, opoffering en ’n diep, stil vertroue — een wat ek elke dag koester.
Antwoord 3: Ons raad aan ander ma’s en dogters is om ruimte te gee vir groei — vir verandering, vir foute en vir verskillende seisoene. Leer om mekaar te hoor sonder om dadelik te verdedig. Soms is begrip belangriker as om reg te wees. Koester eerlike gesprekke, wees sag met mekaar en onthou dat liefde nie altyd perfek lyk nie, maar altyd teenwoordig kan wees. Respek, vertroue en tyd saam is die fondasie van ’n sterk verhouding. En bo alles: wees dankbaar vir mekaar. ’n Ma en dogter se band is iets kosbaars — een wat oor ’n leeftyd gebou word.