
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: Ek lyk soos my ma. Nie net ’n bietjie nie. Op ’n druppel. Ons het dieselfde stemtoon, dieselfde gewoontes, dieselfde manier van dink en voel. As kind het dit my soms onstel as mense dit uitgewys het. Ek wou uniek wees, my eie mens, maar soos ek ouer geword het, het ek besef dat dit my grootste eer is om soos my ma te lyk. Want om soos sy te wees, beteken om sag en sterk gelyktydig te wees. Wat ons verhouding besonders maak, is die veiligheid daarin. Ons oordeel mekaar nooit. By my ma hoef ek nie my woorde te weeg of myself te beskerm nie. Ek kan net wees. Ons kan oor enigiets praat, eerlik en sonder vrees. Sy is my anker, my rolmodel en my tuiste. Sy sê dikwels dat ek vir haar die rustigheid van self is. Wanneer ek naby is, ontspan sy, en haar probleme voel kleiner. Ek dink dit is omdat ons mekaar nie probeer verander of regmaak nie. Ons luister. Ons bly. Ons dra mekaar. Ons kan vir ure gesels sonder om moeg te raak vir mekaar. Sy sê ek het wysheid, maar ek weet dit kom van haar af. Wysheid word nie aangeleer nie - dit word geleef, en ek het dit langs haar geleer. In die manier waarop sy mense hanteer, hoe haar hart altyd plek het vir nog een, hoe sy sag bly in ’n wêreld wat dikwels hard is. My ma se ondersteuning is stil, maar diep. Wanneer dinge te veel raak, is haar teenwoordigheid genoeg. En wanneer ek haar ’n drukkie gee, voel dit asof al my stukkende stukkies weer bymekaar pas. Ek het twee broers en ’n suster, en ons gesin se band is sterk omdat my ma ons grootgemaak het met gevoel. Ons is ’n huis waar emosies welkom is. Wat ek met my ma deel, weet ek my broers en suster doen ook, want dit is wie sy is. Ons verhouding is nie perfek nie, maar dit is eerlik, veilig en vol liefde, en dit is ’n band wat ek elke dag met dankbaarheid dra.
Antwoord 2: In 2018 het ons alles verloor. Nie net materielistiese dinge nie, maar ook die gevoel van sekerheid wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar. Emosies was rou, spanning hoog, en ons het seer gehad op maniere wat nie altyd maklik verwoord kon word nie. Een aand, ná ’n argument aan die tafel oor aardse dinge wat toé groot gevoel het, het my ma probeer om haar eie lewe te neem. Wat daarna gevolg het, was ’n stilte wat alles verander het. Skuld het swaar kom lê. Sy het gevoel dit is haar skuld dat ons alles verloor het. Ek het skuldig gevoel dat ek so lelik met haar was daardie aand. Daardie oomblik het my weer geleer hoe kort die lewe werklik is. Hoe alles in ’n oogwink kan verander. Hoe dit waaroor ons baklei, skielik niks werd is as jy amper iemand verloor nie. Want as ons nie mekaar het nie, het ons niks. Die pad daarna was nie maklik nie. Genesing is nie reguit nie, maar ons het gekies om mekaar vas te hou eerder as om mekaar weg te stoot. Ons het gepraat, gehuil en soms net saam gesit. Ons het geleer om sag te wees met mekaar se seer. Ek en my ma het ons verhouding doelbewus herbou. Met eerlikheid, vergifnis en baie liefde. Ons het mekaar ondersteun waar ons kon, hard gewerk om weer op te staan, en mekaar herinner dat ons meer werd is as wat ons verloor het. Daardie tyd het my geleer dat foute nie die einde van ’n verhouding is nie. Dit kan die begin wees van iets dieper. Vandag weet ek: dit wat ons oor baklei het, was tydelik. Die liefde wat ons gekies het, is blywend.
Antwoord 3: ’n Goeie moeder-dogter verhouding gebeur nie vanself nie. Dit word gebou met tyd, met geduld en met baie genade. Ons grootste raad is om oop te wees met mekaar. Om regtig te luister, sonder oordeel en sonder om dadelik oplossings te soek. Wanneer ’n mens voel jy word gehoor, begin vertroue groei. Ondersteun mekaar volhartig. Nie net wanneer dit maklik is nie, maar veral wanneer dit nie is nie. Ondersteuning beteken nie altyd groot woorde nie, soms net om daar te wees. Stil. Teenwoordig. Lag saam. Lag baie. Humor dra ’n mens deur swaar tye en herinner jou dat jy nie alleen is nie. Lag bou brûe waar woorde soms tekortskiet. Moenie bang wees om jammer te sê nie. My ma sukkel nie om jammer te sê wanneer sy verkeerd is nie, en dit het my geleer dat volwassenheid nie beteken jy maak nooit foute nie, maar dat jy verantwoordelikheid neem wanneer jy dit doen. Dit skep veiligheid en respek. Ons het eerstehands gesien hoe vinnig die lewe kan verander. Daarom glo ons mens moet nie mekaar as vanselfsprekend aanvaar nie. Sê dankie. Sê ek is lief vir jou. Gee meer as wat jy terug verwag. Gee baie drukkies. Hou vas aan mekaar. Wees sag met mekaar se seer. En kies mekaar, elke dag, selfs wanneer dit moeilik is. ’n Goeie moeder-dogter verhouding is nie perfek nie, maar as dit gebou is op liefde, eerlikheid en vergifnis, kan dit enigiets oorleef.