Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Chantelle kruger

Chantelle kruger

Dorp: Kempton Park

Antwoord 1: Ek beskou myself as ongelooflik bevoorreg om die ma van twee baie spesiale dogters te wees. Met opregtheid kan ek sê dat ek ’n besondere, hegte verhouding met albei my dogters het. Elkeen van hulle is uniek in haar eie manier, en dit maak ons verhouding só besonders. Ek het twee baie verskillende kinders grootgemaak. Die een is ons drama-baba, vreeslik kreatief, artisties en vol emosie. Die ander een is meer die “blokkie-kind”, gestruktureerd, georganiseerd en lief vir orde waar alles mooi in plek moet wees. Hulle is verskillend, maar elkeen het haar eie plek in my hart, en my verhouding met elkeen is uniek gevorm volgens wie sy is. Wat ons verhouding besonders maak, is dat daar ’n balans is tussen ma wees en vriendin wees. Hulle weet ek is altyd daar vir hulle, om te luister, te ondersteun en raad te gee. Hulle weet ook waar die fyn lyn lê tussen respek en vriendskap. My dogters deel baie van hul lewens met my, en dit is vir my iets kosbaars wat ek nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Hulle vul my lewe aan op maniere wat ek nie eers altyd kan beskryf nie. Hulle bring vreugde, lag, uitdagings en groei. My dogters is tans 20 en 23 jaar oud, en ek kon regtig nie vir beter gevra het nie. Hulle maak my lewe vol, en dit is ’n voorreg om hul ma te wees. Trots voel amper te klein om te beskryf hoe ek oor hulle voel.

Antwoord 2: Soos met meeste ma’s en dogters, het ons ook ons moeiliker tye beleef. Een van die uitdagendste fases was toe albei my dogters hul eerste liefdes teleurstelling ervaar het. Hulle moes leer dat dinge nie altyd uitwerk soos ’n mens hoop nie. Met my oudste dogter was dit veral moeilik, want sy was my eerste kind en ek het saam met haar geleer hoe om ’n ouer te wees in sulke emosionele situasies. Ek moes leer hoe om haar seer wees te hanteer, hoe om haar te ondersteun sonder om alles vir haar te probeer oplos, en hoe om haar te help om weer op te staan toe haar hart gebreek was. Met my jongste dogter het dieselfde situasie later gekom, maar teen daardie tyd het ek reeds geleer. Al is sy ’n heeltemal ander persoonlikheid, het my ma-instink en die lesse wat ek vroeër geleer het, my gehelp om dinge rustiger en meer self verseker te hanteer. Hierdie ervarings het ons verhouding verdiep en versterk, want my dogters het geweet ek is daar, nie net in die goeie tye nie, maar ook in die seer tye. Ons het natuurlik ook baie goeie tye saam beleef. My oudste dogter staan nou op trou, en dit is ’n ongelooflike voorreg om deel te wees van daardie proses. Om saam haar troue te beplan en hierdie nuwe hoofstuk in haar lewe te deel, is ’n fees. Daarby was dit ’n groot seën om albei my dogters deur universiteit te sien gaan. Hierdie oomblikke het ons band net nog sterker gemaak.

Antwoord 3: My grootste raad vir ander ma’s en dogters is om altyd oop en eerlik met mekaar te kommunikeer. Luister regtig! Nie net om te antwoord nie, maar om te verstaan. Soms het ’n kind nie oplossings nodig nie, net ’n veilige plek om haar hart uit te praat. Respek is ook ongelooflik belangrik, aan albei kante. Ma’s moet onthou dat hul dogters hul eie mense is, met hul eie persoonlikhede, drome en foute. Dogters moet weer besef dat hul ma’s nie perfek is nie, maar altyd met liefde en die beste bedoelings optree. Gee mekaar ruimte om te groei, maar wees altyd daar vir mekaar. Wees ’n veilige hawe in ’n wêreld wat soms hard en verwarrend kan wees. En laastens: Moenie wag vir perfekte oomblikke nie. Bou julle verhouding in die alledaagse dinge, in geselsies, lag, trane en tyd saam. ’n Goeie ma-dogter-verhouding word nie oornag gebou nie, maar met liefde, geduld en begrip oor jare heen.