Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Gael Collins Gael

Gael Collins Gael

Dorp: Mosselbay

Antwoord 1: Ek dink my en my ma se verhouding is besonders omdat dit nog altyd net ek en sy was, van so ver ek kan onthou – saam met my ouma. Van kleins af het ons deur alles saam gegaan, en dit het ons band net sterker gemaak. Wat vir my ons verhouding so spesiaal maak, is dat ons nie net ’n ma-en-dogter verhouding het nie, maar ook ’n vriendskap. Sy is my beste vriendin. Ons kan oor enigiets praat, saam lag, saam huil en mekaar deur moeilike tye dra. Deur dik en dun was sy altyd daar vir my, en ek vir haar. Ons het saam grootgeword deur baie uitdagings, en elke moeilike oomblik het ons nader aan mekaar gebring. Sy het my geleer hoe om sterk te wees, hoe om lief te hê, en hoe om aan te hou selfs wanneer dinge swaar raak. Ek sien haar nie net as my ma nie, maar as my veilige plek en my grootste ondersteuning. Ons verhouding is gebou op vertroue, eerlikheid en onvoorwaardelike liefde. Dis ’n band wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie, en ek is ongelooflik dankbaar dat ek haar my ma én my vriendin kan noem.

Antwoord 2: My ma het van kleins af ongelooflik hard gewerk om my te ondersteun. Die lewe was nie altyd sag met ons nie, en daar was tye waar dit gevoel het asof alles telkens weer van voor af moes begin. Ek onthou toe ons nog in Johannesburg gebly het, is daar drie keer by ons ingebreek en alles gesteel. Elke keer moes ons net weer opstaan en aangaan. In daardie tye het my ma baie keer haarself opsy gesit om seker te maak ek kort niks nie. Sy het altyd eerste aan my gedink, selfs wanneer sy self moeg, bekommerd of oorweldig was. Ek het eers later in my lewe begin verstaan hoeveel sy eintlik opgeoffer het. Soos baie tieners het ek ook deur ’n fase gegaan waar ek gedink het ek weet beter en te “cool” is vir my ouers. Eers toe ek uit skool is, het ek besef hoe klein ek eintlik is, en hoe my ma altyd daar was om my te dra en op te vang wanneer ek val — selfs in tye waar ek nie altyd mooi of reg teenoor haar was nie. My ma moes al baie keer van voor af begin, maar sy het dit altyd met liefde en krag gedoen. Deur alles wat ons saam beleef het, het ons geleer om sterk te bly vir mekaar. Daardie moeilike tye het ons verhouding verdiep en ’n band geskep wat vandag nog my grootste veiligheid is.

Antwoord 3: My raad vir ander ma’s en dogters sal wees om mekaar eerste as mense te sien. Grootmense is ook net kinders wat grootgeword het. ’n Ma sal haar kind beskerm met alles wat sy het en altyd haar bes doen om seker te maak haar dogter is veilig en reg, maar sy is ook net ’n mens. Mense maak foute, en dit is nie altyd regverdig om al jou emosies en verwagtinge op haar te plaas nie. ’n Ma-en-dogter verhouding kan soms moeilik wees, maar die belangrikste woord bly liefde. Liefde vra geduld, begrip en respek aan albei kante. Ma’s moet hul dogters vertrou en ruimte gee om hul eie mens te word, sonder om te beheer of oor te beskerm. ’n Verhouding kan net groei waar daar vryheid is. Dogters moet ook onthou dat hul ma’s nie perfek is nie, maar altyd uit liefde optree. Elke verhouding verg werk, kommunikasie en vergifnis. Wees lief vir mekaar, wees sag, wees in vrede en wees dankbaar vir mekaar. En laastens: elke dogter het haar eie pad. Moenie jou eie tienerfoute op jou kind projekteer nie. Lei haar eerder met wysheid, liefde en begrip, en vertrou dat sy haar eie lesse op haar eie tyd sal leer.