
Dorp: Edenburg
Antwoord 1: Wat maak jul verhouding so spesiaal sal ek nooit net so in 500 woorde kan beskryf word nie, want dis so voorreg om eerstens ń mamma te kan wees en dan nog ń mamma te wees van ń dogter en ń seun. Ek het met altwee my kinders ń spesiale band en hulle verskil. Maar die band tussen my en my dogter Lize-Marie is verseker baie spesiaal. Ons is mekaar se beste vriendinne. As ons harte seer is huil ons bymekaar, as ons gelukkig is deel ons dit dadelik met mekaar en as ons laf wil wees en net lekker wil lag is ons mekaar se beste kombinasie, want ons sal lag tot die een huil of die een se maag pyn. Ons verhouding is spesiaal want, ons deel alles met mekaar. Sy sê altyd ek is haar ryk vriendin as ons bietjie winkels toe gaan. Mamma koop maar, want sus studeer vêr van my af. Ek is ń boer se vrou en sy het van kleins af groot geword met diere om haar, maar sy het nog altyd ń slag met die perde gehad, en so het dit gebeur dat sy nou ń tweede jaar student is by BSET Academy in Howick waar hulle met perde werk wat probleme het met spiere ens. Ek het altyd gesê sy is my arend wat nog baie hoog gaan vlieg. Ek is baie trots op haar en baie lief vir haar. Ek kan nie wag om te sien wat sy in die toekoms gaan bereik nie. Dankie vir die geleentheid om te kan inskryf.
Antwoord 2: Daar was al baie goeie en slegte dinge. Maar toe sy in graad 1 was in die koshuis, het sy op ń Maandag oggend baie hard geval en haar hele lip geskeur. Die skoolhoof het my dadelik gebel en gesê hulle het alles onder beheer en hulle is alreeds oppad Dr toe, ek kan rustig wees. Ek was nooit in ń koshuis nie, ek het die voorreg gehad om uit my ouers se huis skool te gaan, so mamma en pappa was altyd daar, so ek het nie lekker die koshuis ding verstaan nie. Ek vertel my man van die geval by die skool en ek sê vir hom ek gaan nou ry ek kan haar nie net so los nie. So sê my man ewe vir my nee jy gaan nie gaan nie. Baie ontsteld vra ek vir hom, nou hoekom kan ek nie gaan nie? Hy verduidelik toe vir my as mens in die koshuis is moet jy vinnig leer dat jou ouers nie elke oomblik daar vir jou kan wees nie en dat jy ander mense moet vertrou om na jou te kyk en die ouer moet leer om die skool te vertrou. Jou kind moet leer dat mens nie altyd net kan ry nie, want mens bly vêr. So as die hoof gesê het sy is in goeie hande moet jy hom vertrou. Daai was vir my glad nie maklik nie. Ek bedoel sy was maar net in graad 1. So het ek nie gegaan nie, maar ek het ook nie veel met manlief gepraat nie bygesê. Daai week was die langste week ooit. Toe Vrydag aanbreek en ek kon ry het ek dadelik gery. Toe my en haar oë mekaar sien het sy dadelik in my arms ingehardloop en my ń stywe drukkie gegee. Sy is ń baie selfstandige en verantwoordelike jong mens en die koshuis lewe het haar verseker dit geleer, maar sy het altyd geweet dat as sy wil praat is ek net ń oproep van haar af weg. Koshuis is verseker nie vir sussies nie. Om soms deur moeilike dinge te gaan bou karakter.
Antwoord 3: Dis ń moeilike vraag, want ons almal verskil. Maar ons sal sê wees altyd daar vir mekaar. Geniet mekaar ten volle. Tyd is kosbaar. Het respek vir mekaar, maak tyd vir mekaar. Dit hoef nie geld te kos nie. As jou dogter of ma nog by jou in die huis is, gaan sit en gesels net met mekaar. Vertel mekaar van mekaar se dag. Wanneer dinge bietjie warm raak, luister na mekaar en probeer verstaan hoe die ander ene voel. Werk mooi, en praat mooi met mekaar. Mens kan vinnig te kwaad raak, maar tyd het my en vir haar geleer om rustig met mekaar te praat. Om in vandag se tyd ń dogter groot te maak is nie maklik nie, leer haar van self respek en respek vir ander mense, leer haar om vir haarself mik punte te stel en leer haar van hoe liefde moet wees. Leer haar dat sy weet dat sy waardig is en as iemand haar nie so behandel nie dat sy vir haarself moet opstaan. Ondersteun mekaar en wees daar vir mekaar. En dan die heel belangrikste is maak God deel van julle verhouding, bid vir mekaar, want sonder ons Hemelse Vader kan ons nie gaan nie.