Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Elke Joubert

Elke Joubert

Dorp: Pretoria

Antwoord 1: Ek en my ma Elsje het nie altyd woorde nodig om te verstaan wat die ander een dink nie, ons kan dit sien in mekaar se oë. Toe ek gebore is en my ma op die eerste aand in die kraamsaal 'n baba hoor huil het, het sy dadelik geweet dis haar dogter! Ons ondersteun mekaar in tye wat die wêreld baie eise aan ons stel en as ons sien die een kom nie by iets uit sal die ander een inspring en help. Ons bid gedurig vir mekaar, kan saam lag en ook huil. Ons heg waarde aan dít wat vir mekaar belangrik is en maak altyd tyd vir 'n drukkie! Van kleins af doen ons wat ons noem 'n "vroumens dag" waar ons die manne by die huis los en gaan doen wat ons wil vir so lank as wat ons wil. Een van die vrae wat ek gereeld vir my ma vra is "lyk hierdie reg?" as ek 'n uitrusting bymekaar sit, haar bemoediging aan my is altyd om dit wat ek dra met selfvertroue en 'n glimlag te dra! "Own it!"

Antwoord 2: Toe my ma se ma (ouma Elsje) baie siek geword het, het ons baie op ons verhouding gesteun. My ma het probeer om alles self te doen en sy onthou hoe ek haar gevra het "maar wie kyk na jou?". Sy beskryf dit as 'n tyd waarin haar ma-en-dogter verhouding omgeruil was en sy die aflosstokkie by my ouma geneem het om vir my die ma te wees soos wat ouma vir haar was. Sy onthou hoe ek vir haar kos gebring het wanneer sy lang tye by ouma se bed gesit het, dat ek daar was toe sy 2 uur in die oggend gebel is en dat ek gaan inloer het na 'n moeilike dag al was dit vir my ook moeilik. Na haar afsterwe het ons saam haar goedjies opgepak en gehou wat vir ons sentimenteel is. Ons vier elke jaar haar verjaarsdag deur n pers ballon in die lug te laat gaan, dit was ouma se gunsteling kleur.

Antwoord 3: Ons raad aan ander ma's en dogters is om eerlik en opreg met mekaar te wees. Hê baie geduld. Wees mekaar se cheerleaders en ma's, gee jou dogter die geleentheid om haar vlerke te sprei en haar eie identiteit te hê. Geniet elke fase van groei in mekaar se menswees en wees 'n voorbeeld in daad. Deel julle geloofservaringe en groei met mekaar, dít is jul anker in die storms van die lewe! Bederf mekaar met dit waarvan jy weet jou ma of dogter hou. Wees vrygewig met drukkies. Raak saam opgewonde en dankbaar oor die klein en groot seëninge, en sien raak wat die ander een doen en sê "dankie". Neem tyd om na mekaar te luister. Vergewe mekaar.