
Dorp: Port Elizabeth
Antwoord 1: Uit Ada se pen: Die band tussen ’n ma en haar dogter is soos ’n goue draad wat deur elke seisoen van die lewe geweef word — sag, sterk en onbreekbaar. Reeds tydens my eerste gesonde swangerskap het haar naam in my hart geleef: Anjuné. Ná twee kosbare seuntjies uit God se hand, het Hy my weer verras met my laaste wonderwerk — my dogter, my kroon. Van kleins af het sy haarself “klein Ada” genoem, sonder aanmoediging, sonder twyfel. Sy was my skaduwee in die son en my lig in donker tye. Saam het ons grootgeword: van pop speel tot bak en brou, van hare vasmaak tot rokkies dra, van Bybel lees tot hokkie speel. As onderwyseres het ek elke vakansie herinneringe gebou — kombersies geknoop, lappe geverf, vis gevang en met klei gedroom. In my swaarste dae was my kinders my asem, my rede om op te staan en weer te glo. Tydens Anjuné se hoërskooljare het sy gereeld in my klas kom rus — waar ons gelag, gehuil en harte oopgemaak het. Vandag is sy my kompas, my waarheid, my rigtingwyser. Want Anjuné wandel nie in grys areas nie — sy kies altyd die lig. Uit Anjuné se pen: Een van my mees geliefde herinneringe van my ma is toe sy ure lank my hare met kombuispapier gekrul het vir ’n skoolrevue. Ek wou mooi lyk vir die geleentheid, en alhoewel haarstilering nie haar sterkpunt was nie, was sy vasbeslote om dit perfek vir my te maak. Sy het talle aanlyn video’s gekyk, geduldig geoefen en tot laat wakker gebly net om seker te maak ek voel selfversekerd daardie dag. Wat hierdie herinnering so besonders maak, is nie die haarstyl self nie, maar die moeite daaragter. Dit weerspieël haar bereidwilligheid om nuwe dinge aan te leer en om haar tyd op te offer bloot omdat dit vir my belangrik was. Hierdie oomblik vang die kern vas van wie sy as mamma is — iemand wat dalk nie altyd al die antwoorde het nie, maar wat altyd haar bes sal doen vir haar kind. My ma is die Ester in my lewe – in elke moeilike situasie wat ek in die oë staar bied sy wysheid aan oor hoe om dit te trotseer. My ma is die Rut in my lewe – elke hokkiewedstryd, redenaarstoespraak, gradeplegtigheid en spesiale geleentheid het sy getrou bygewoon en my geondersteun. My ma is die Marta in my lewe – sy het my altyd (en doen steeds) met liefde gedien. My ma is die seën in my lewe. Ons verhouding is ñ konstante - daar in die beste en moeilikste tye. Dit maak dit spesiaal. En ek is bevoorreg!
Antwoord 2: Die dag toe Anjuné op vierjarige ouderdom haar pappa in ’n motorongeluk verloor het, het ’n onsigbare wond in albei ons se harte oopgebreek. Mense het gesê sy is te klein om te onthou, dat sy sal “okay” wees. Ek het probeer glo, maar diep binne my het ek geweet ’n kind se hart onthou anders as haar kop. Die jare het aangegaan, sy het skool toe gegaan, en stadig het iets begin verander. Haar buie het nie by haar ouderdom gepas nie. Dit het gevoel asof ek soms ’n tiener in die huis het, vasgevang in ’n kinderlyf. In graad 7 het ’n sielkundige voorgestel dat sy in Denmar Hospitaal opgeneem word. My moederhart het gebreek. Ons volgende stap was ’n pediatriese psigiater wat haar as bipolêr gediagnoseer het. My wêreld het tot stilstand gekom. Ek is grootgemaak om te glo depressie bestaan nie regtig nie — jy moet net sterker wees, harder bid, beter voel. Skielik moes ek erken dat pyn soms dieper lê as woorde en raad. Elke maand het ons stad toe gery vir nog medikasie en nog swaar nuus. My kind het voor my oë verdwyn. Haar lag het stil geword, haar oë het hul vonkel verloor. Sy het soos ’n skaduwee van haarself gelyk. Ek het met God geworstel. Hoekom sy? Hoekom ons? Hoekom moet my kind swaarkry terwyl ander kinders nog albei ouers het? Ek was net die mamma, onseker, moeg en stukkend. Ek het hulp gesoek by mense wat veronderstel was om antwoorde te hê, maar soms was daar min tyd en min begrip vir my kind se seer. Toe het God ons pad gekruis met ds Danie Oosthuizen van Primrose Gemeente — ’n man met ’n sagte hart en ’n sterk geloof. Deur gebed, leiding en liefde het hy ñ instrument geword in God se hand. Stadig, amper onmerkbaar, het die donker begin lig word. Ek het my dogtertjie stukkie vir stukkie teruggekry. Dit was nie ’n kitswonderwerk nie, maar ’n pad van genesing, trane, hoop en vasbyt. Elke klein oorwinning het ons nader aan mekaar gebring. Ek het geleer om haar nie net as my kind te sien nie, maar as ’n dapper siel wat elke dag kies om op te staan. Vandag is Anjuné ’n mooi jong vrou. Die pad was lank, maar die band tussen ons is sterker as ooit. Ons gesels steeds elke dag, al is dit soms net oor die foon. Ons verhouding is gebou op gedeelde pyn, oorwinning en onvoorwaardelike liefde. Wat eens ’n breekpunt was, het uiteindelik die gom geword wat ons vir altyd aan mekaar bind.
Antwoord 3: My ma sê altyd dat die Here weet watter mamma jy nodig het nog voor jy gebore is en my raad is om die Here te vertrou want Hy het vir jou die beste mamma gegee. Hierdie woorde het my geleer dat ’n verhouding tussen ’n ma en dogter nie toevallig ontstaan nie, maar doelbewus gevorm word deur liefde. Daarom is my ander advies aan mammas en dogters om altyd bereid te wees om by mekaar te leer. ’n Gesonde verhouding vereis nie volmaaktheid nie, maar begrip, geduld en wedersydse respek. Foute is onvermydelik, maar dit is juis in hierdie oomblikke waar ware liefde sigbaar word. Hanteer mekaar se foute met genade en groei saam deur elke lewensfase. Liefde word nie gemeet aan perfeksie nie, maar aan die moeite wat ’n mens doen om te probeer, om te luister en om teenwoordig te wees vir mekaar.