Dorp: Potchefstroom
Antwoord 1: JANET (Ma): Ons is nie net Ma en dogter nie, ons is ook besigheidsvennote en sy is my beste maatjie. Ons spandeer die meeste van elke dag in mekaar se geselskap en bou ons besigheid saam. Ons deel frustrasies, stry soms, lag baie en buite besigheidsverband kan ons baie laf raak en mekaar terg oor elkeen se geite. Ons albei is opgeteken by dieselfde Model Agentskap in Johannesburg en ons albei het al in advertensies verskyn vir groot handelsmerke in Suid-Afrika. Ek het die skoonheidskompetisiebedryf betree in my 40’s en het sukses bereik in Suid-Afrika en oorsee. Ek het ook verskeie nasionale en internasionale toekennings verwerf vir liefdadigheidswerk in SA, asook in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Marinet het ook ‘n skoonheidskompetisie plaaslik gewen en daarna ‘n Nasionale Modelkompetisie. Deurentyd het ons mekaar ondersteun. Alhoewel sommige karaktertrekke baie dieselfde is, verskil is tog op ander vlakke hemelsbreed, maar ons ken mekaar goed genoeg om te weet wanneer om te praat en wanneer om dit eers kans te gee. Maar die grootste kenteken van ons verhouding is ons albei se liefde vir Jesus Christus. Ons bid oor alles – ons en ons familie, ons besigheid en elke persoon wat met ons in aanraking kom. As ons nie weet hoe om ‘n situasie te hanteer nie, dan gee ons dit oor vir Jesus. En elke liewe dag sê ons dankie vir alles wat ons het en die voorreg om ons besigheid en ons persoonlike verhouding te bou. MARINET (Dogter): Ek gaan begin met die feit dat ek werklik in my kort 21 jaar nog nooit n verhouding tussen Ma en dogter soos ons gesien het nie. My Ma is iemand wat my oplig maar tog op my plek sit sonder om my te verander, want ons is nie dieselfde nie. Ek is maar n emosionele mens wat maklik ander se gevoelings raaksien en soms eerste met myne dink. My Ma is weer meer logies oor meeste dinge en dis nie altyd maklik om oog tot oog te sien oor alles in ons kantoor nie. Tog het my Ma n baie sagte hart, sy gee meer om oor mense as wat ek partykeer dink is nodig en aan die ander kant het ek soms nie tyd vir geite nie. So ballanseer ons mekaar uit, ons sien dieselfde dinge raak maar elkeen op ‘n ander manier van dink. Ons kommunikasie is vir ons alles, want alhoewel ons dieselfde dinge kan sê in verskilende woorde gaan dit nie help as ons nie mekaar verstaan en waarvandaan die ander een kom nie. Tog bly gene, gene. Ons sin van humor, ons klere smaak, ons liefde om ander te help en toevalig ons loopbane, is alles in dieselfde rigting. Baie se hulle Ma is hul beste maaitjie, maar ek lewe dit elke dag. Veral die moeilike dae wat ons besluit die beste vir ons albei is maar om vandag in die kantoor te bly met ons slaapklere aand en ‘n glasie wyn.
Antwoord 2: JANET (Ma): Ek het in 2013 die skoonheidskompetisiebedryf betree om ‘n groter platform vir my liefdadigheidswerk te kry. Ek het floreer en ek was orals in ons plaaslike nuus en in ‘n kleiner dorp soos Potchefstroom, versprei nuus gou. Marinet was in ‘n Afrikaanse Laerskool en in dieselfde tyd het my pragtige, atletiese en akademiese dogter begin verander in ‘n oorgewig, ongelukkige en depressiewe dogtertjie. Ek het met die skool gaan praat met geen verandering en ek was geskok toe ek agterkom dat die snedige aanmerkings aan haar oor my gegaan het, van tot mense wat ek as vriende beskou het. Ek het besef ek gaan iets drasties moet doen, toe skuif ek haar na ‘n Engelse multi-ras laerskool in Graad 6. Dit was die beste besluit wat ek kon neem. Sy het binne ‘n jaar 10 kg verloor, weer begin presteer in sport en akademies uitgeblink. Sy het my omtrent altyd vergesel, gehelp waar sy kon en tot die koreografie van my een talent item uitgewerk. Ek het van kleins af haar talent raakgesien en sy het voorheen niks geweet van my geskiedenis in die bedryf nie. Ek het altyd gesê as sy in die bedryf wil ingaan, moet dit haar eie keuse wees. Die hardste les wat ek my pragtige meisiekind moes leer is dat bullies altyd deel van jou lewe sal wees. JY gaan moet leer hoe om dit te hanteer en hulle nie toe te laat om jou drome te steel nie. Vandag kyk ek na haar, en ek bars van trots. Sy is voorwaar die verhaal van die lelike eendjie wat in ‘n pragtige swaan verander het. MARINET (Dogter): My kinderjare was nie van maklik nie. Ek het nie vriende gehad nie was baie alleen, net omrede ek gebullie was oor die fenominale mens wat my Ma is. Sy het my nooit geforseer om enigiets te doen wat ek nie wou nie, maar toe ek niks anders wou doen as om voor die TV te sit en gemorskos eet, het sy geweet iets moet verander. ‘n Groot deel van wie ek is vandag en hoekom ons verhouding so sterk is, is omdat my Ma my geglo het. Ek het begin oopmaak oor alles en inplaas van om net n paar mooi woordjies te sê, het sy my geskuif na ‘n ander skool. Sy het my betrek by alles wat sy gedoen het waaroor ek gebullie was en sy het vir my ‘n groter uitkyk op die wêreld gegee. Ek het weer myself geword en begin presteer, maar my gunsteling was om saam met my Ma enigiets te doen. My hele lewe het verander omdat my Ma sterk genoeg was om die beste te doen vir my. Ek het geleer en verstaan van ander mense, kulture, beroepe en ondervindings wat nie my eie was nie. Deur dit alles het ek myself weer begin vind, nie in die skaduwee van my Ma nie, maar met die lig aan die einde van die tonel wat sy vir my aangesteek het.
Antwoord 3: JANET (Ma): As ‘n suksesvolle sakevrou, skoonheidskoninging en wenner van verskeie nasionale en internasionale toekennings, is dit baie maklik dat jou dogter kan verkrummel en geen selfbeeld het omdat sy dink sy moet met haar Ma kompeteer. Jy as suksesvolle Ma, moet wegbeweeg om nie ‘n wolk voor haar son te word nie, en sodoende nie op haar eie met haar eie talente en drome, kan floreer nie. Moenie van haar verwag om dieselfde as jy te wees nie, maar leer haar om selfstandig en sterk te wees, met waardes, in wat sy ookal wil doen en wees altyd daar vir haar, sonder om te kritiseer. Moenie jou dogter probeer verander in wat jy dink sal goed wees vir haar nie. En kommunikasie – PRAAT met mekaar, maak nie saak hoe moeilik dit soms is nie. Jy as Ma was haar ouderdom en as jy eerlik is met jouself, het jy baie van dieselfde situasies beleef en nou is jou tyd om raad te gee, maar ook die vryheid om haar eie besluite te neem en ook haar eie foute te maak. Dis hard, want jy wil nie hê sy moet seerkry nie, maar dis soms al hoe mens leer. Al wat jy kan doen is om daar vir haar te wees en nooit op te hou bid vir haar nie. MARINET (Dogter): As ‘n dogter was my eerste doel altyd om my Ma trots te maak, en alhoewel dit altyd die geval was, het ek dit nie altyd geglo of raakgesien nie. Jy as ‘n dogter oordeel jouself veel meer as wat jou Ma ooit sal. Ek het grootgeword met ‘n ma wat almal ken, wat die wêreld in haar hande het en ek moes leer om nie teen my Ma te draai wanneer sy my probeer help het nie, veral omdat my bullies my Ma teen my gebruik het. Dis baie makliker om te verdwyn in die skaduwee as om uit te styg en trots langs jou ma te staan. Dit bly jou, as dogter, se keuse om ‘n verhouding met jou Ma te bou en nie toe te laat dat stemme van buite wat eintlik irrelevant is, julle verhouding oordeel nie. Jy as dogter moet ook besef, jou Ma is net ‘n mens. Sy het ook haar eie gevoelings, maak foute, het verskeie verhouding met ander mense gehad, ‘n hele lewe se ondervinding voor jy in haar lewe ingekom het. Praat met jou Ma. Ek het uitgevind wie Janet is, nie net my Ma nie, maar ‘n vrou wat ek myself moes toelaat om te leer ken en na haar stories te luister as n mede-mens. Sy bly jou Ma en jy bly haar dogter, en julle gaan verskil en daar sal moeilike tye kom wanneer julle nie mekaar verstaan nie, maar probeer sien waar sy vandaan kom en luister soms. Onthou, die Here maak nie foute nie en jy is met ‘n doel vir jou Ma gegee.