
Dorp: Klerksdorp
Antwoord 1: Karien (Ma): Ek en my oudste dogter, Alicia, is baie dieselfde in geaardheid. Beide saggeaard en taamlik sensitief. Ek wou van jongs af in sielkunde studeer maar sy het dit toe reggekry en as Sielkundige gekwalifiseer. Die ander lede in ons gesin is sterk in sport, maar hoewel ons sterk gebou is, is balans ‘n uitdaging waaroor ons net kan lag want ons loop gereeld in goed vas en mors ons koffie op die skoot uit. Ons is baie naby aan mekaar en sy is so maklik om mee te gesels en ons is meestal op dieselfde golflengte. Sy het die mooiste hart en gee om vir ander, wat ek baie waardeer want familie is vir haar ‘n prioriteit. Alicia (dogter): Ons lense waarmee ons na ander en die lewe kyk is baie soortgelyk en ons kan soms net vir mekaar kyk en weet iets pla nou en verstaan. As daar twee dae verby gaan sonder ‘n inloer boodskappie of oproep trek ons harte na mekaar toe. Ons kan lekker saam lag en as ons ‘n kans kry gesels ons tot dagbreek toe of raak so in die gesels aan die slaap op die bank. Jy kan ons in ‘n wip vang met ‘n sjokoladetjie en as ons saam in die winkels kom, sien ons gou iets raak wat die ander sal komplimenteer. Ons stap nie sommer uit sonder ‘n paar skoene nie. Dis vir ons heerlik om tyd saam te spandeer. My Ma is van kleins af ‘n mooi voorbeeld vir ons van liefde vir jou naaste, sy toon so maklik egte medelye met ander, en is altyd vriendelik en hoopvol. Sy is altyd daar vir ons.
Antwoord 2: Ek was so bevoorreg dat Alicia vir ‘n jaar saam met my skool gehou het. Haar kunstigheid het baie gehelp want sy kon vir ons die mooiste hart en dekor verf vir die Winterspele wat die skool moes aanbied vir gestremde leerders. Omdat sy so ‘n pligsgetroue onderwyser was, het ek sommer baie gestyg in aansien by my kollegas. Op ‘n dag moes ek gaan vir ‘n paspoort en is ons drie meisies (ek, Alicia en Lanél, my ander dogter) af Kaap toe. Dit was ‘n wonderlike tyd- ons het Tafelberg plat gestap en aan die verste punt twee Mediese studente teëgekom wat gou tussen klasse die berg kaalvoet uitgeklim het. Ons was so beïndruk, en ook papnat van die mis wat oor die berg kom hang het. Alles was wonderlik, van Babylonstoren tot wyn en kaas proe. Wat my hart geroer het was toe Alicia eers vir die straatmense, wat ons elke dag van ons stoepie af kon sien, moes gaan kruideniersware koop voor ons kon ry huis toe. Dit maak my as ‘n moeder hartseer van dankbaarheid.
Antwoord 3: Wees lief vir die Here, want Hy seën verhoudings. Deel soveel as moontlik met mekaar en ondersteun mekaar sonder om mekaar se spasie te oorheers. Bid vir mekaar, gebed is kragtig. Maak tyd vir mekaar, al is dit net ‘n vinnige “love you” boodskap op ‘n besige dag. Tyd in die natuur is ons gunsteling saamwees tyd.