Inskrywings | rooi rose
Mon-Fri 09.00 - 17.00

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Heléne Coetzer

Heléne Coetzer

Dorp: Ermelo

Antwoord 1: ’n Verhouding is ’n baie delikate aangeleentheid, veral tussen familielede. Daar is soveel faktore wat invloed uitoefen op ’n verhouding. My ma, Hendrina Helena (Ané), het op die koue hoëveld van Mpumalanga grootgeword. Na haar universiteitsjare het sy en my pa, Nico, teruggekeer na die hoëveld om ’n lewe op ons plaas, Florence, te bou. Drie kinders is gebore, en ek, ook Hendrina Helena (Heléne), is die middelkind. Sy het haar liefde vir die natuur en perde met ons gedeel, en ons het wonderlike tye as kinders saam met hulle in die veld en op die rug van ’n perd beleef. Die lewe op die plaas was nie altyd maklik nie, en my ma moes haar kreatiwiteit en besigheidsvernuftigheid aanwend om die pot aan die kook te hou. Sy het ’n gastehuis op die plaas begin, en so het ons saam met haar geleer om met min iets te skep. Hierdie kreatiewe samewerking het ons karakter en verhouding versterk. Ek was toegelaat om te help met mure verf, ou meubels afskuur en nuwe lewe aan ou dinge te gee. Dié skeppende kreatiwiteit het ’n basis gevorm vir ’n spesiale verhouding tussen ons. My siviele ingenieursgraad het ook bygedra tot die kleur in ons verhouding. Hierdie saamwerk-tye het ons geleer om mekaar te vertrou. Ons het besef dat ’n goeie begrip net ’n halwe woord nodig het. Ons kon na ’n "coffee date" en ’n halwe skets op ’n servet voortbou en iets pragtig skep. Ons het nie baie woorde nodig nie; met ’n kopkrap, ’n sug, of ’n stem wat bewe aan die ander kant van die telefoonlyn, weet ons presies wat aangaan. Ons het ’n interessante verdraagsaamheid met mekaar. Aangesien ons dieselfde DNA het, werk en beplan ons albei op dieselfde half-ongeorganiseerde manier. Ons verstaan mekaar, en dit frustreer ons nie, want ons weet die resultaat sal perfek “genoeg” wees. Albei van ons se geaardheid is daarop ingestel om konflik te vermy, wat ons baie aanpasbaar maak in verskeie situasies. Ons het ’n gedrewenheid en ’n werksvermoë wat skrik vir niks. Gesamentlik het ons groot waardering en dankbaarheid vir mekaar vir wat elkeen doen. Ons is nie net wat ons bereik het nie, maar ons waardeer ook die liefde en waardering in hierdie spesiale verhouding tussen ma en dogter. Dankie, “Nokhutula” (die een wat nie baie praat), vir jou hart! Mamma.

Antwoord 2: Ons het reeds 'n paar wonderlike groot projekte saam onderneem, en dit het gelei tot die ontstaan van ons eie baie suksesvolle trouvenues, www.Florence en www.Smitsfield. Toe ons Florence bou vir Heléne en Marius se troue, het ons saam in hierdie bedryf begin werk. Heléne het waardevolle insette gelewer, en uiteindelik het hulle selfs die voorportaal se houtvloer self ingesit. Vyf jaar later, toe ons die kans kry om nog 'n trouvenue te begin, was Heléne swanger. As 'n siviele ingenieur het sy die wens gehad om haar kinders op die plaas groot te maak. Ons het saamgedroom en planne getekening, op ons half-georganiseerde manier, mekaar en ons mans se bouvaardighede vertrou. Vandag is Smitsfield ons trots. Die hoogtepunt was verlede jaar (Aug 2025) toe ons vir ons jongste sussie, Jana, 'n troue uit die blouboek kon aanbied op ons familie bosveld plaas, waar daar geen fasiliteite is nie. Ons het twee koördineringsvergaderings gehou en ons drome op 'n “moodboard” saamgestel. Ons het die take rofweg verdeeld, met die hoop om ons gaste en familie na 'n ander wêreld te vervoer vir 'n hele naweek. Die naweek was 'n viering van kreatiwiteit en ruimte. Die bosveld, met sy majestueuse blou Drakensberge op ons voorstoep, was ons speelgrond. Die troue het 'n keurige sensoriese reis deur smake geword. Dit was Heléne se droom om vuurkos aan ons gaste voor te sit. Ané het spyseniers gevind, en dit was 'n gesamentlike poging om hulle te lei na ons visie. Getrou aan ons geaardheid het ons weer die perfekte binne-in die onvolmaakte geskep. Dit was wonderlik om 'n bietjie te kan uitrafel aan al ons idees . Heléne het die dekor gedoen met ou meubels op die plaas, wat net met linne toegedraai is. Dit is te warm vir blomme, en Ané het ook getrou aan haar beginsels, die plaaslike mense ondersteun deur 120 kleipotjies te laat maak, wat witgekalk is en saam met groot kerse op die tafels geplaas is. Pa Nico kan enigiets bou wat sy dogters kan droom, en sonder hom sou ons dit nie reggekry het nie. Ons is geseënd om te doen en te leef wat ons kan droom. Ons is vol dankbaarheid oor die reis wat ons saam kon aanpak. Ten spyte van groot uitdagings, kan ons stories vertel, saam lag, en soms 'n traan met mekaar deel (eintlik is ons albei huilers... tot ons albei se verleentheid).

Antwoord 3: Wees trots en fokus op die aspekte wat dikwels oor die hoof gesien word, die stil en kalm dinge soos: - Hoe een van julle nooit opgee in donker dae nie. - Hoe een om verskoning gevra het wanneer die ego in die weg gestaan het. - Hoe een nederigheid kies bo die vraag wie reg is. - Hoe julle dankie sê vir mekaar. Vir hierdie eienskappe ontvang niemand sertifikate nie, maar dit is 'n teken van 'n verhouding wat gegrond is op sterk fondasies. Onthou die goeie, vergewe die foute. ‘n Dogter is jou spieëlbeeld wat in die wêreld rondloop; sien jou jonger self in haar optrede en hanteer haar soos jy graag hanteer sou wou word. Wees daar vir elke geleentheid so veel as moontlik. Doen goed saam en bou aan mekaar se drome, maak nie saak hoe klein of groot die taak is nie. ‘n Ma se insig en perspektief is altyd die mees opregte. Dogters, onthou jy is die kosbaarste geskenk vir jou ma; sy is ook net 'n mens wat jou die beste wil gee. Jou ma ken jou die beste van almal en sal altyd daar wees vir jou. Bel haar so dikwels as wat jy wil, oor alles – sy wil dit hoor. Daar is geen beter span maat vir die lewe soos jou ma nie; saam kan julle berge versit.