
Dorp: Kaapstad
Antwoord 1: Wanneer 'n kindjie gebore word, merk dit die begin van baie. Die begin van 'n generasie, die begin van ouerskap, dalk vir die eerste keer, dalk vir 'n tweede of 'n derde keer. Die begin van 'n verhouding wat elke dag groei en omvou, wat deur mooi seisoene, seer seisoene, storm seisoene, maar in elke seisoen deur groei gaan. As klein dogtertjie het ek met stille verwondering na my Ma gekyk. Haar vermoë om te skep, haar kreatiwiteit, haar ingesteltheid op die fynste besonderhede. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy ken van planne maak en voer dit met so veel grasie uit. Ja sy kan ook gespanne raak, sy is mens, maar sy ken die Een wat haar in Woord en Waarheid lei. Haar lewe is nie sonder moeilikheid nie, maar sy hou haar kop omhoog, sy lewe en sy het voluit lief. Wanneer ek my stilte verbreek het, was dit baie keer om op my ma en pa se bed te gaan plak en my hart uit te praat oor dit en dat, terwyl my Ma eintlik net vir 'n oomblik haar boek wil optel om verder te lees, na 'n lang dag se woel en werk. Nietemin, het ek gesoek na 'n rede om bietjie te kan klets en te hoor wat my Ma dalk daarop sou sê, sonder dat ek dit besef het, my opinies, wêreldbeeld en perspektief getoets aan iemand se opinie wat ek baie hoog geag het, want sy was my eerste rolmodel. Soos my Ma wou ek wees, want sy was fantasties! Vandag kan ek met dankbaarheid sê, ons gesprekke het nooit opgehou nie. Wat ons verhouding besonders maak is dat ons saam kan bid, saam kan huil, mekaar kan bemoedig, die goud in mekaar kan raaksien en mekaar aanspoor om nie moed op te gee nie. Ons kan saam droom en wanneer ons iets aanpak, dan doen ons dit volstoom. Ons kan saam stilwees en uit ons maak uit lag. Ons verhouding is nie perfek nie, maar dit is 'n ope brief waaraan ons altwee mag skryf. Deursigtig en openhartig, vol liefde en uitbundig.
Antwoord 2: Ek was vier jaar en tien maande en my ousus 'n raps voor sewe toe ons baba-sussie, Johandrí, skielik aan kroep oorlede is. Die verlies aan haar is steeds dit, 'n leemte in ons huis en gesin, 'n gesinsfoto, wat nooit weer voltallig sal wees nie, tot ons Here kom. Haar dood was nog nooit 'n taboe om oor te praat nie. Elke jaar het weer vrae gebring. Elke jaar wat ons ouer geword het, en ons as kinders iets meer van wat gebeur het verstaan het, het dit die verlange opnuut afgestof. Tog, kon ons daaroor praat, kon ons daaroor vrae en het ek nie vir 'n oomblik gedink aan die seer en die vrae, waaraan my ma en pa dalk dra nie. Tot op 'n dag, dat ons eerste kindjie gebore is, ons sussie se naamgenoot en sy op dag drie van lewe, op hou asemhaal terwyl ek en my man alleen by die huis met haar was, in dieselfde huis waar my sussie oorlede is. Met die genade van Bo, en Sy ingrype, het sy weer begin asemhaal en is haar lewe gespaar. Hier het daar vir my 'n draaipunt in my en my ma se verhouding gekom. Skielik 'n nuwe vraag, 'n vraag aan my ma oor hoe dit met haar gaan. Voorheen wou ek by haar leer, nou wou ek vir haar kon omgee, wou ek haar kon troos en vashou, want ek het iets van die seer wat sy as ma dra, as vrou, geproe. Dit was asof ek vir die eerste keer besef het, my ma is 'n hele mens in haar eie reg, wat ek nog skaars leer ken het, en ek wou. Ek wou hierdie fantastiese vrou leer ken, haar hart se paaie, die seer en stukkend en die mooi, en ek wou haar lief hê, soos wat sy my nog altyd lief gehad het.
Antwoord 3: Raak nuuskierig oor die vrou wie jou ma is. Kyk verby dit wat sy dalk nie reg doen nie, en vra dalk hoekom. Sien haar deur die Here se oë raak en eer haar.