Inskrywings | rooi rose

Kompetisie inskrywings

← Terug na alle inskrywings

Maria Duimpies Tyhler Duimpies, Scalia Duimpies & Taren Duimpies

Maria Duimpies Tyhler Duimpies, Scalia Duimpies & Taren Duimpies

Dorp: Beaufort West

Antwoord 1: ’n Goeie verhouding tussen ’n ma en haar dogters begin by liefde, respek en oop kommunikasie. As ma glo ek dat dit belangrik is om nie net ’n ouer te wees nie, maar ook ’n veilige ruimte waar jou kinders hul harte kan oopmaak sonder vrees vir oordeel. Luister met begrip, selfs wanneer jy nie altyd saamstem nie. Soms het ’n dogter nie antwoorde nodig nie, maar net ’n luisterende oor. Geloof speel ’n sentrale rol in ons verhouding. Wanneer Jesus Christus die fondament is waarop ’n gesin gebou word, leer ’n mens om mekaar met genade, geduld en vergifnis te hanteer. Gebed bring nie net vrede nie, maar help ook om moeilike gesprekke en uitdagings saam te dra. Ons het geleer om alles – die goeie én die swaar – voor die Here te bring. Respek vir mekaar se individualiteit is ook noodsaaklik. Elke dogter het haar eie persoonlikheid, drome en roeping. As ma is dit belangrik om dit raak te sien, aan te moedig en nie jou eie verwagtinge op hulle af te dwing nie. Vertroue groei wanneer kinders weet hulle word aanvaar vir wie hulle is. Laastens is dit belangrik om saam tyd deur te bring, te lag en herinneringe te bou. Gesinsbande word sterker wanneer daar ruimte is vir geselligheid, humor en eerlike gesprekke. ’n Verhouding verg moeite, maar met liefde, geloof en standvastigheid kan ’n ma-en-dogter-verhouding ’n lewenslange seën wees.

Antwoord 2: Ons verhouding is spesiaal omdat dit gebou is op ’n diep, onbreekbare band van liefde, eenheid en geloof. Ek, Maria Duimpies, en my drie dogters – Tyhler (27), Scalia (24) en Taren (22) – deel ’n dinamiese verhouding waar elkeen ’n stem het en elkeen gehoor word. Alhoewel ek hulle ma is, is hulle ook my vriende, my luisteraars en my grootste ondersteuning. Wat ons uniek maak, is ons standvastigheid in ons geloof in Jesus Christus. Hy is die middelpunt van ons gesin en die rede waarom ons selfs in moeilike tye saamstaan. Ons glo vas dat die Here altyd goed is en dat elke seën, groot of klein, gevier moet word. Daarom herdenk ons elke mylpaal en dank ons God vir elke oorwinning. Ons verhouding is ook vol lag en ligtheid. Ons kan saam sit, gesellig raak en mekaar uitmekaar uit skeer van die lag. Hierdie oomblikke bring balans en hou ons naby aan mekaar. Ons is eerlik met mekaar, ondersteunend en altyd bereid om ’n helpende hand of ’n bemoedigende woord te bied. Die feit dat my dogters sterk, onafhanklike vroue is wat steeds hul ma nodig het, maak my trots. Ons verhouding is nie perfek nie, maar dit is eg, vol liefde en diep gewortel in geloof – en dit is wat dit werklik spesiaal maak.

Antwoord 3: Een van die moeilikste tye in ons gesin se lewe was toe my dogters hul studies wou aanpak, maar daar geen finansiële voorsiening was nie. Dit was ’n tyd van onsekerheid, vrees en baie vrae. Tog was dit ook ’n tyd waarin ons geloof getoets én versterk is. Studie was elkeen van my dogters se hartsbegeerte, en saam het ons besluit om alles in die Here se hande te plaas. Ons het gebid, vertrou en geglo dat God ’n weg sou maak waar daar geen uitweg sigbaar was nie. Merkwaardig het die Here vir ons deurgekom, en vandag is al drie my dogters besig met hul studies. Tyhler is in die argitektuurbedryf in Stellenbosch, Scalia voltooi haar vierjarige LLB-graad, en Taren studeer Sielkunde met ’n hoofvak in Kriminologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hierdie seisoen het ons geleer wat ware vertroue in God beteken en hoe belangrik dit is om mekaar te ondersteun, selfs wanneer dinge moeilik raak. Daardie moeilike tyd het ons verhouding verdiep. Dit het ons geleer om saam te staan, saam te glo en saam dankbaar te wees. Vandag kyk ons terug met dankbaarheid, want dit was juis daardie uitdaging wat ons nader aan mekaar én aan God gebring het. En as ons enige iets vir die ander mammas en dogters kan gee, is dat die Here altyd voorsien, al lyk die situasie hoe mismoedig. Hy kom altyd deur op daardie minuut wanneer jy dit die minste verwag! Vertrou op Hom en Hy sal jou paaie gelyk maak... altyd!