
Dorp: Pretoria
Antwoord 1: Ek wil graag glo dat verhoudings tussen 'n ma-en-dogter in die meeste gevalle altyd 'spesiaal' is. Ek dink die beste manier om te beskryf hoe óns verhoudig 'spesiaal' is, is om 'n vriendin aan te haal wat onlangs swanger geword het. Sy het vir my gesê: ''Ek hoop om 'n ma soos jou ma te wees, en 'n verhouding met my dogter te hê soos wat julle twee het''. Woorde wat ek nooit sal vergeet nie! My ma vertel graag die storie van my geboorte. Dit was ’n nood-keisersnee, en nadat die personeel my na haar toe gebring het en sy gesê het: “Hallo, my Poppie,” het ek glo dadelik my koppie gedraai om haar te soek. Dit beskryf vir my perfek hoe ons verhouding nog altyd was. Van die eerste oomblik af was sy my anker. My veilige plek in 'n ietwat chaotiese wêreld. Tot vandag toe noem sy my steeds “Poppie”. En elke keer wanneer ek dit hoor, roer daar iets binne my. Net soos op daardie heel eerste dag weet ek instinktief dat ek veilig is, dat ek verstaan word, en dat ek onvoorwaardelik liefgehê word. Dit is vir my só wonderlik om lewe saam met haar te kan doen. Veral op 'n geestelike vlak. Sy is vir my 'n reuse inspirasie. Ons deel graag Bybelversies, ‘worship’ liedjies, dagstukkies en gaan saam kerk toe wanneer die geleentheid dit toelaat. Ek weet ook dat sy ELKE dag vir ons bid. Nie net af en toe nie, maar getrou en vol oorgawe. Ek kan regtig die krag van haar gebede voel — asof dit my dra, selfs wanneer sy nie fisies by my is nie. Daar was tye in my lewe waar ek nie woorde gehad het vir wat ek gevoel het nie, maar ek het geweet: my ma bid, en ek is nie alleen nie. Nou is ek ook in die bevoorregte posisie van "ma''-word, en my wens is presies dieselfde as wat my vriendin sn was, want vir beter kan mens werklik nie vra nie!
Antwoord 2: My ouers het geskei toe ek vyf jaar oud was, en ek het vir die grootste deel daarna saam met my ma gebly tot sy weer getrou het. Vir ‘n lang ruk was dit net die twee van ons, alleen op ’n groot plot. Ek was verskriklik lief vir die spasie waarin ek grootgeword het met soveel ruimte en natuur, maar dit het wel ook sy uitdagings na vore gebring. Ek onthou spesifiek die aand toe ek en sy gekonfronteer was deur 'n Kaapse spoegkobra. As 5-jarige besef mens nie hoe sterk jou ma eintlik deur dit alles was nie, maar ek weet dit nou baie, baie goed. En ek is só trots op en dankbaar vir haar! In retrospek glo ek dat daardie tyd ons verhouding n unieke diepte en sterkte gegee het. Ons het saam grootgeword — ek as kind en sy as ma — en ons het geleer om op mekaar staat te maak. Daardie jare het ’n fondasie gelê van vertroue, eerlikheid en onbreekbare verbondenheid. Ons is sedertdien al saam deur DIEP waters, maar ook GROOT vreugdes. Sy-aan-sy. Onwrikbaar.
Antwoord 3: Moet NIKS as vanselfsprekend ag nie! Ná skool het ek in Potchefstroom gaan studeer, daarna Kaap toe getrek vir werk, getrou, en kort ná die troue Nederland toe geëmigreer. Met elke nuwe seisoen het die oomblikke waarin ons fisies saam kon wees, al hoe minder geword. Tegnologie maak baie moontlik met video-oproepe, maar daar is iets 'anders' daaraan om sonder woorde langs haar te sit en net te wees. ’n Paar maande gelede het ek vinnig in Suid-Afrika gaan kuier. Met my terugkeer na Nederland vra my man wat my hoogtepunt was. My antwoord: daardie oggend by die boeremark, net ek en sy, bo-op die koffiestalletjie se dak, met twee pannekoeke. So eenvoudig, maar in daardie oomblik het ek besef: daar is dinge wat al die euros in die wêreld nie kan koop nie, en dit is juis die dinge waarop ek nie bereid is om uit te mis nie. Daarom, kort daarna, toe my man en ek uitvind dat ons ’n kleintjie op pad het, het ons besluit om op te pak en terug te keer na ons geliefde Suid-Afrika. Ons vlug is 28 Februarie 2026! Om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie, is ’n denkwyse wat jou, onder andere, help om minder onnodig vies of geïrriteerd te raak, en jou herinner om meer intensioneel en werklik teenwoordig te leef. Klein oomblikke, groot oomblikke en alles tussenin — koester dit, bewaar dit. Maak die beste van elke geleende oomblik.