Deur Christa Swanepoel
“Dit het gevoel of ek per ongeluk my energiekraantjie oop vergeet het; asof al my energie en ‘lus om iets te doen’ net leeg geloop het. Waar ek tevore altyd bedrywig was, het ek gevoel of ek sommer net sleg geword het. Ek was tot die dood toe moeg. Ek kon heeldag voor die TV lê en niksdoen, en het skuldig gevoel.”
Só beskryf Marlize Cloete Fourie haar ervaring voor sy uiteindelik dokter toe gegaan het.
“Soms het my hart woes vinnig en hard in my bors begin klop. Ek kon dit letterlik op my bors sien. Dit was skrikwekkend, maar het darem nooit lank geduur nie. Ek het gewonder of dit iets is wat ek eet of die koffie wat ek drink. Dit het egter lukraak enige tyd van die dag of nag gebeur.
“Ek het agtergekom my hare val ook verskriklik uit. My gemoed was op en af. My man was raadop. Ek was die een oomblik heel gelukkig en opgeruimd, en dan met die klap van my vingers sommer erg geïrriteerd en mislik. Ek het gedink dis dalk maar PMS of vroeë menopouse. My siklusse was hoeka erg deurmekaar en ongereeld.”
Op ’n dag het hulle rustig voor die TV gesit, toe haar hart weer woes begin klop het.
Hierdie keer het dit al erger en erger geword. Sy het haar horlosie dopgehou en gesien hoe dit versnel … 150 …170 …180 … 211!
“Ons het besluit om liewer ongevalle toe te gaan, waar ek dadelik aan die EKG-masjien gekoppel is, maar niks het makeer buiten net die vinnige hartklop nie.
“’n Dokter is ontbied en hy het my twee keer met ’n middel ingespuit wat jou hart stop en dan weer laat klop. Dis definitief ’n ervaring wat ek nie graag weer sal wil beleef nie. My hart het hierna op 153 gestabiliseer.”
Die spesialis aan diens het ’n sonar van Marlize se hart en ander organe gedoen en tot die gevolgtrekking gekom dat dit heel moontlik haar skildklier is.
Ná drie dae in die intensiewe sorgeenheid en hope toetse is daar vasgestel dat haar skildkliertelling baie hoog is en haar skildklier baie vergroot is.
“Ek het uiteindelik geweet wat al die simptome veroorsaak en was verstom dat ’n mens se skildklier so groot invloed op jou lyf kan hê. Ná drie opvolgondersoeke, nog toetse en medikasie, lyk dit darem of my skildklier nou weer onder beheer is. ’n Mens moet dit nie ignoreer as jou liggaam vir jou iets probeer sê nie.”
Lees ook: 7 mites oor griep
WAT EN WAAR IS JOU SKILDKLIER?
Jou skildklier is ’n klein klier in jou nek net onder die adamsappel en het die vorm van ’n vlinder.
WAT DOEN DIE SKILDKLIER?
Die skildklier skei die skildklierhormoon af wat in jou bloed na alle dele van die liggaam vervoer word.
Die hormoon beheer jou metabolisme, onder meer hoe vinnig jy kalorieë verbrand en hoe vinnig jou hart klop. As die skildklier probleme ontwikkel, skei dit óf te min óf te veel van die hormoon af en voel jy dit aan jou liggaam. Jy kan rusteloos of moeg voel, gewig aansit of gewig verloor.
Lees ook: Vyf voetsorgwenke om jou voete tydens jou ouer jare gesond te hou
HOE RAAK DIT VROUE?
- Dit beïnvloed jou menstruele siklus. Te veel of te min van die skildklierhormoon kan daartoe lei dat ’n maandstonde baie lig, baie swaar of ongereeld is. Dit kan jou maandstonde vir etlike maande laat stop en word amenoree genoem. As jou immuunstelsel die skildkliersiekte veroorsaak, kan jou eierstokke ook betrokke wees en kan dit ’n vroeë menopouse veroorsaak.
- Dit kan voorkom dat jy swanger raak. As die skildkliersiekte jou menstruele siklus affekteer, raak dit ook jou ovulasie en kan dit moeilik wees om swanger te raak.
- Dit kan gesondheidsprobleme vir die ma en baba tydens swangerskap veroorsaak.
WAT IS JOU KANSE OM DIT TE KRY?
- As jy voorheen skildklierprobleme gehad het.
- As jy ’n operasie of bestraling gekry het wat die skildklier affekteer.
- As jy probleme het met ander outo-immuunsiektes, bloedarmoede of Tipe-1-diabetes.
- As jy ’n sterk familiegeskiedenis daarvan het.
ONDERAKTIEWE SKILDKLIER
’n Onderaktiewe skildklier, hipotireose of hipotiroïdisme beteken die skildklier maak nie genoeg skildklierhormone nie. Dit vertraag dan verskeie van jou liggaamsfunksies, soos jou metabolisme.
Hipotireose kan veroorsaak word deur:
- Hashimoto se siekte, ’n immuunsiekte waar die immuunstelsel verkeerdelik die skildklier aanval.
- Behandeling vir hipertiroïdisme (radio-aktiewe jodium).
- Bestraling van sekere soorte kankers.
- Die verwydering van die skildklier.
SIMPTOME
Simptome ontwikkel stadig oor jare.
- Aanvanklik kan jy moeg en traag voel.
- Jy kry maklik koud.
- Hardlywigheid.
- Spiere verswak.
- Jy sit gewig aan al eet jy nie meer nie.
- Gewrigs- en spierpyn.
- Voel hartseer en depressief.
- Voel baie moeg.
- Vel is bleek en droog.
- Hare is dun en val uit.
- Stadige hartklop.
- Sweet minder as gewoonlik.
- Gesig lyk pofferig.
- Hees stem.
- Meer as gewoonlik menstruele bloeding.
- Jy kan ook LDL of “slegte” cholesterol hê wat jou kanse vir hartsiektes verhoog.
Behandeling
Die dokter sal pille voorskryf wat aan die liggaam die skildklierhormoon verskaf wat dit nodig het en jy sal dit die res van jou lewe moet gebruik.
OORAKTIEWE SKILDKLIER
Ooraktiewe skildklier, hipertireose of hipertiroïdisme wanneer die skildklier meer hormone afskei as wat jou liggaam nodig het. Dit versnel die liggaam se funksies, soos metabolisme en hartklop.
Grave-siekte is ’n outo-immuunsiekte wat die skildklier aantas.
Lees ook; Wen groot met The Harvest Table!
SIMPTOME
Die simptome ontwikkel ook stadig. Met tyd kan jy die volgende waarneem:
- Gewigsverlies (kom nie by almal voor nie). Jy verloor gewig al eet jy dieselfde of meer as voorheen.
- Eet meer as gewoonlik.
- Vinnige of ongereelde hartklop of hart wat fel klop.
- Voel senuweeagtig en angstig.
- Voel geïrriteerd.
- Sukkel om te slaap.
- Hande en voete bewe.
- Sweet meer.
- Kry maklik warm.
- Spierswakheid.
- Diarree of meer gereelde stoelgang as gewoonlik.
- Minder en ligter maandstondes as gewoonlik.
- Verandering in die oë. Dit kan uitpeul, rooi of geïrriteerd wees..
- Dit verhoog die kanse vir osteoporose. Dit kan jou bene affekteer voor jy besef jy het hipertireose en raak veral vroue ná menopouse.
Behandeling
Die behandeling sal afhang van jou simptome en die oorsaak. Dit kan insluit:
- Anti-skildkliermedikasie wat keer dat jou skildklier die hormoon vervaardig.
- Betablokkeerders wat die effek van die hormoon op jou liggaam blokkeer, soos om jou hartklop te verlangsaam. Dit verminder nie opsigself die hoeveelheid hormone wat afgeskei word nie.
- Radio-aktiewe jodium. Dit maak die skildklierselle dood en veroorsaak hipotiroïdisme.
- Chirurgie. Die skildklier of ’n deel daarvan word chirurgies verwyder en kan permanent hipotiroïdisme veroorsaak.
INFLAMMASIE VAN DIE SKILDKLIER
Inflammasie van die skildklier of tiroïditis gebeur wanneer die liggaam teenliggaampies maak wat die skildklier aanval.
Dit kan veroorsaak word deur outo-immuunsiektes, soos Hashimoto-siekte, Tipe-1-diabetes en rumatoïede artritis, genetika, ’n virale of bakteriese infeksie en sekere medikasie.
Nageboortelike tirioditis affekteer sowat 10% van vroue en word dikwels nie gediagnoseer nie omdat dit dieselfde simptome as die sogenaamde “baby blues” het, naamlik om moeg en geïrriteerd te voel.
Gewoonlik keer die skildklier na ’n jaar tot 18 maande na normaal terug. As jy ’n geskiedenis van nageboortelike tiroïditis het, is jou risiko hoër om binne vyf tot tien jaar permanent hipotireose te ontwikkel.
Wat sê ’n kenner?
Dr Marisa Noeth, ’n endokrinoloog van Pretoria, beantwoord ’n paar vrae.
- Hoe algemeen is skildkliersiektes onder vroue in Suid-Afrika?
Die voorkoms van hipotireose (uitgesproke en subklinies) is 16% in vroue in die ouderdomsgroep 65-74 jaar en 21% in vroue ouer as 74 jaar.
- Wat is die algemeenste simptome wat pasiënte ervaar?
Moegheid, hartkloppings en droë vel.
- Is daar sekere kosse wat ’n mens verkieslik moet eet of vermy?
Voldoende jodium-inname is noodsaaklik vir normale skildklierfunksie. Daar is egter geen spesifieke dieet wat skildklierfunksie verbeter nie.
- Is die behandeling lewenslank?
Dit hang van die oorsaak van die skildklierprobleem af, maar in die meerderheid van gevalle sal dit so wees.
- Kan kinders daarmee gebore word?
Ja, veral as die ma gedurende swangerskap skildklierprobleme gehad het.
- Wat is die gevolge as mense met skildklierprobleme dit nie opvolg en behandel nie?
Skildklierhormone is noodsaaklik vir lewe. Tekorte of ’n oormaat kan nadelige gesondheidsgevolge inhou.
Opvolgtoetse moet gedoen word om te verseker die behandeling optimaliseer die vlakke, aangesien dit nie altyd stabiel bly nie.
Lees ook: Hoekom jy nie moet oefen as jy griep of verkoue het nie