Daar waai vandeesweek ’n welkome vars briesie deur Ruiterbosch se strate wanneer die gewilde aktrise Lindie Strydom permanent by die rolverdeling van kykNET se treffersepie Suidooster ingesluit word. Ná haar eerste verskyning in die reeks verlede jaar as Amanda van Wyk, keer sy nou terug as ’n voltydse karakter – en dié keer het sy gekom om te bly.

Vir baie Suid-Afrikaanse kykers roep Lindie se gesig ’n sterk gevoel van nostalgie op. Jare voor sy haar opwagting in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, gemaak het, het sy reeds ’n onuitwisbare indruk op kykers gelaat as die geliefde Karin Edwards in die ikoniese sepie Egoli: Plek van Goud.
Destyds was Lindie skaars uit die skool toe sy in 1997 by Egoli aangesluit het en vir jare daarna was sy een van die bekendste jong karakters op die skerm.
Sedertdien het baie water in die see geloop. Ná haar tyd in sepieland het Lindie aan die sogenaamde “universiteit van die lewe” studeer – sy het getrou, kinders grootgemaak en nuwe lewenshoofstukke aangepak. Intussen het haar kinders opgegroei en nou het die lewe haar uiteindelik na die Kaap gebring.
Deesdae, amper 17 jaar nadat sy vir oulaas permanent in ’n TV-sepie te sien was, is sy terug – wyser, ryker aan lewenservaring en gereed vir ’n nuwe televisiereis.

Ná Lindie Strydom se eerste verskyning in ‘Suidooster’ as Amanda van Wyk, keer sy nou terug as ’n voltydse karakter. (Foto: Gys Loubser)
Lindie se Suidooster-karakter is ’n bekende sielkundige en skrywer wat haarself in ’n nuwe fase van haar lewe bevind nadat haar huwelik van 32 jaar op die rotse beland het. Frankie (Mienke Ehlers) is haar en haar eksman, Mike (Anrich Herbst), se dogter.
Kykers het Amanda reeds verlede jaar ontmoet toe sy en haar familie vir ’n besoek aan Ruiterbosch opgedaag het, maar nou keer sy terug met die vooruitsig van ’n vars begin vir haarself.

Frankie (Mienke Ehlers) is Amanda en haar eksman, Mike (Anrich Herbst), se dogter. (Foto: Gys Loubser)
Vir Lindie is dit ’n besondere ervaring om ’n permanente lid van die Suidooster-familie te wees.
“Ek kyk letterlik elke dag na die verskillende foto’s wat die mure van ons ateljee versier,” vertel sy.
“Dit voel soos ’n nostalgiese uitstalling van tydskrifvoorblaaie, toekennings en agter-die-skerms-prentjies van die span. Dan is daar hierdie lang gang wat soos ’n hall of fame voel van almal wat al deel was van Ruiterbosch se stories. Ek knyp myself nog om te dink ek mag nou elke dag hier speel.”
Toe Amanda en haar eksman, Mike, in September 2025 vir die eerste keer in Ruiterbosch opgedaag het, was dit net ’n kort besoek. Hierdie keer kry haar karakter kans om regtig wortel te skiet in die gemeenskap – en natuurlik saam met die ander inwoners van Ruiterbosch in diepe drama betrokke te raak.
“Nou loop jy mense raak by Oos-Wes vir koffie, by die Anker na werk of sommer in die mall,” sê Lindie. “Amanda is nie meer net ’n inkommer nie – en ek voel self ook al hoe meer tuis as deel van hierdie besonderse Suidooster-familie.”

Amanda is ’n komplekse karakter: ’n gerespekteerde verhoudingskenner en skrywer wat daaraan gewoond was om haar lewe noukeurig te beplan. Maar ná die einde van haar huwelik staan sy voor die uitdaging om ’n nuwe blaadjie om te slaan – en dalk ook ’n bietjie meer spontaan te leef.
“Ek dink baie mense gaan kan identifiseer met Amanda se reis om oor te begin,” sê Lindie. “Sy is in ’n nuwe seisoen van haar lewe – op haar eie – en dit hang van haar af hoe dapper sy gaan wees.”
Volgens haar kan kykers in die komende weke uitsien na ’n Amanda wat soms verrassende, selfs impulsiewe besluite neem – iets wat tot interessante nuwe dinamika in Ruiterbosch kan lei. En natuurlik is daar ook ’n onverwagte romantiese kinkel wat die kykers se oë gaan laat rek.

Met Lindie Strydom se permanente terugkeer na sepieland kry Suidooster nie net ’n geliefde aktrise by nie, maar ook ’n karakter wat nuwe energie en intrige na die wel en wee van Ruiterbosch bring.
En soos Lindie self sê: dit voel vir haar soos die begin van ’n heel nuwe seisoen – op én van die skerm.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.
Lees ook: Maak reg, die mense wil kom kuier! In die sop: Gastehuisrevolusie is hier
