Leer uit jou ouers se foute deur Anet Schoeman
Enige ouer sal jou vertel jy kan duisend keer vir ’n kind sê om “asseblief” en “dankie” te sê sonder dat dit enigsins tot hulle deurdring. Maar boetie, sê net een keer “dêmmit” en dit word hul gunsteling-woord by die kleuterskool, voor ouma en oupa …
Kinders grootmaak is seker die verantwoordelikste werk wat jy ooit in jou lewe gaan doen. En dit sonder enige aanwysings. Radelose ouers het al moedeloos gegrap dat daar by elke stuk toerusting ’n stel aanwysings ingesluit is wat waarsku dat jy nie eens daaraan moet dink om dit aan te skakel voor jy nie elke woord in die lywige instruksiebybel bestudeer het nie. Maar babas daag kaalbas op.
Lees ook: Die beste pa – betrokke ouerskap
Kinders veroorsaak konflik
Mamma, pappa en baba: die perfekte prentjie van harmonie en geluk. Dis wat jy dink wanneer jy swanger is en al daardie piepklein kleertjies in afwagting in die babakas pak. Maar dis verstommend hoeveel konflik so ’n klein bondeltjie in ’n verhouding kan veroorsaak. Dis die eerste keer dat twee mense deur hul eie kindertyd en hul ouers se opvoedingsmetodes gekonfronteer word en dié kan hemelsbreed verskil. Elke ouer het sy eie persoonlikheid, vaardighede en unieke agtergrond wat alles ’n groot invloed gaan hê op hoe hulle hul kinders grootmaak. Tog het bitter min ouers voor die tyd gesprekke oor hul benadering tot ouerskap.
Ilze Alberts, ’n familiesielkundige van Fourways, sê die meeste ouers wil werklik net die beste vir hul kinders hê en doen dinge met die beste bedoelings. “Dis eers wanneer ons self kinders het en besef hoeveel uitdagings ouerskap het, dat ons empatie met ons ouers het en besef dat ouers selfs met die heel beste bedoelings gedrag toon wat maklik as foute uitgewys kan word.”
Lees ook: Laat gaan en laat groei jou kind
Slegte gedrag word geprogrammeer
’n Vriendin vertel hoe sy haar altyd voorgeneem het om nooit as te nimmer haar kinders teen die kop te klap soos wat met haar gebeur het nie. En toe kom die dag wat sy moeg en geïrriteerd is en die kind teen die kop klap. “Ek was so geskok en teleurgesteld in myself. Dis die een ding wat ek tot elke prys wou vermy.”
Herhaalde gedrag word in ons geheueselle vasgelê, sê Nikki Bush, ouerskapkenner en skrywer van ouerskapboeke van Bryanston. Dis soos om ’n potlood verkeerd vas te hou. As jy dit genoeg kere doen, is dit moeilik om dit af te leer. Boonop word dit jou outomatiese reaksie, soos ’n default setting. Al dink jy jy het dit afgeleer, gaan jy in minder ideale omstandighede, soos wanneer jy moeg, onder druk of ongeduldig is, dadelik terugkeer na jou ou gewoonte.
Dieselfde gebeur met hoe ons as kinders geprogrammeer is. As jou ma jou ’n paar klappe gegee het, of op jou geskree het wanneer sy ongeduldig was, is die kanse goed dat jy ’n begeerte gaan hê om dieselfde te doen wanneer jy onder druk is. Die programmering keer terug.
Lees ook: Mamma, help jy te veel?
Die versoeking
Ilze sê as ons iets verdoem en dink dis só verkeerd dat ons dit nooit ooit wil doen nie (soos om ’n kind teen die kop te klap), is dit soms soos die appel in die paradys: ’n versoeking en uitnodiging om net mooi dít te doen. As dit gebeur, verstaan ons soms beter hoe ons ouers foute gemaak het. Ouers doen dit nie om skade te berokken nie. Iets wat haar altyd bybly, is ’n opmerking wat haar Amerikaanse lektor gemaak het: “Dis nie wát jy doen nie, maar wat jy agterna doen.”
Dus, as jy ’n fout begaan en impulsief iets doen of sê wat jy agterna besef verkeerd is, dink na daaroor en sê vir die kind jy is jammer, en sê jy wil dit nie doen nie. Verduidelik ook hoekom jy so opgetree het. “Ek was so kwaad en gefrustreerd dat ek my humeur verloor het.” Dit leer die kind dat ’n mens foute maak, verskoning moet vra en verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar.
Ma’s is ook soms in ’n “onderdanige” posisie wanneer hulle na die kinders omsien. Dit kan frustrerend wees. Dalk het sy haar werk opgegee om na die kinders om te sien en verdien nie haar eie geld nie; of sy werk fleksietyd, wat minder geld beteken en haar onder druk plaas; of sy worstel met skuldgevoelens omdat sy werk en nie by die huis is nie. As jou weerstand laag is, gaan jou eerste programmering vir optrede terugkom en siedaar! Boetie kry ’n klap teen die kop.
Lees ook: Maak ’n gelukkige kind groot
Bespreek ouerskap vooraf
Nikki sê dis ’n goeie idee om voor julle kinders het oor ouerskap te praat. Dan kan albei ouers dink oor hoe hulle grootgemaak is en wat vir hulle gaan werk.
“Ouerskap is een van die gebiede wat konflik in die huwelik kan veroorsaak, want hierdie verskille kom eers na vore wanneer julle kinders het. Dit kan ’n slagveld raak as niemand wil toegee nie. Dis belangrik om verskille eenkant toe te skuif en saam te besluit hoe julle saam kinders gaan grootmaak.
“Ek verduidelik dit vir ouers as die proses om mayonnaise te maak: Water en olie kan nie meng nie, maar as jy ’n emulsifiseerder soos eier byvoeg (nuwe planne), en dit skud (aktief daaraan werk), kan jy ’n splinternuwe en beter produk kry.”
Moenie verwag dat albei altyd op dieselfde bladsy gaan wees nie, sê Ilze. “Ons almal kom uit verskillende agtergronde, en het uiteenlopende persoonlikhede. Jy kan dink dis opwindend vir jou kinders om uit te slaap, en jou wederhelf mag sê “oor my dooie liggaam”. Dan is dit goed om vir mekaar te verduidelik hoekom jy so voel en toeskietlik te wees.”
Lees ook: 5 ankers wat jou kind laat veilig voel
“Onthou, daar is baie maniere om die regte ding te doen.”
Stel voorwaardes vir die betrokke kwessie, soos dat kinders eers op ’n sekere ouderdom mag uitslaap en dat julle die ouers moet ontmoet.
Die voordeel van ouers met verskillende ouerskapstyle is dat julle met ’n beter produk na vore kom en ’n sagter uitgangspunt het. Kinders leer ook dat daar verskillende maniere is om dinge te doen en dit berei hulle op die lewe voor. Julle mag verskillende uitgangspunte hê, maar dis belangrik om ’n gesamentlike front voor te hou, anders verwar dit kinders en hulle kan die situasie misbruik om ouers teen mekaar af te speel. Dis veral belangrik wanneer dit ’n saamgestelde gesin is met my, jou en ons kinders.
Hier moet ouers katvoet loop en seker maak dat hul ego’s nie in die pad kom van goeie ouerskap nie, sê Nikki. “Ouers kom maklik in die versoeking om kinders as pionne in hul eie magstryd te gebruik. Vra jouself altyd af of jy die kind se behoeftes eerste stel. Dit vereis dat ’n mens skik sonder dat elkeen sy sin kry.
Lees ook: Bou jy of breek jy jou kind se selfbeeld?
Jy moet jou unieke rol kry
“Of jy bewustelik of onbewustelik besluit, jy beoordeel altyd jou ouers se metodes en neem standpunt in vir die grootmaak van jou eie kinders,” sê Ilze. Maar selfs al is jou ouers as die beste ouers in die wêreld aangewys, baan jy die weg vir mislukking as jy hulle wil navolg.
“Ons is almal unieke mense, en jou ma was dalk die mees ondersteunende ma wat elke middag ure agter ballet- en sanglesse aangery het, maar jy het nie dieselfde persoonlikheid nie. Miskien het sy van die huis af gewerk om tyd vir julle te maak. Maar jy is ’n korporatiewe dier wat op die kantooratmosfeer gedy en kortasem raak as jy dink jy moet heeldag by die huis wees met net klein mensies as geselskap.
“Jy moet gemaklik wees met die rol wat jy vertolk, anders gaan jy dit nie kan volhou nie. Jou ma was ’n goeie ma, maar jy kan op ’n heel ander manier ook ’n goeie ma wees. Onthou, daar is baie maniere om die regte ding te doen.”
Ouerskap-eise het ook beduidend verander omdat die wêreld waarin kinders nou grootword soveel anders is. Ons moet vars en nuut dink om relevant te bly in ’n ewig veranderende wêreld. Moenie net op jou eie kennis staatmaak nie. Rus jou met nuwe vaardighede toe, lees ouerskapboeke, google, leer by vriende, woon praatjies by … Goeie inligting is so maklik bekombaar dat jy geen verskoning het nie.
En nes jy dink jy het die ouerskapding onder die knie, kry jy ’n tweede kind en kom agter wat vir die een werk, werk nie noodwendig vir die ander nie. “Die wonderlike ding van kinders is dat hulle vir jou goeie aanduidings gee oor hoe jy hulle moet grootmaak,” sê Ilze. “Solank jy ontvanklik is, sal die kind jou laat weet wat werk. Onthou net dat elke kind uniek is.”
Lees ook: Wat jy kan doen oor gevoelens van minderwaardigheid
Moenie probeer vergoed nie
As ons voel ons het onder swak ouerskap gely, is dit natuurlik om vir daardie leemte te probeer vergoed wanneer ons ons eie kinders het. Ongelukkig skep dit weer ander probleme as jy na die ander kant toe oorhel.
’n Sielkundige vertel van ’n pa wat deur sy eie pa geïgnoreer is en hy het hom voorgeneem om altyd daar vir sy kinders te wees. Hy het elke enkele wedstryd bygewoon en hulle met geskenke oorlaai. Die seun het so oorweldig gevoel met sy pa se konstante teenwoordigheid dat hy in homself gekeer het en geweier het om aan enigiets deel te neem. Die dogter het pleks van waardering vir al die geskenke bederf geraak en niks waardeer of dankie gesê nie. Balans is die wagwoord.
Lees ook: Besige ouer, eensame kind
Doen dit
Ons is soms so besig met mikrobestuur dat ons die groter prentjie vergeet, sê Ilze. Ouers moet gaan sit en besluit wat is die belangrikste eienskappe en waardes wat hulle wil hê hul kinders moet op 18 hê.
Kies vyf tot ses dinge soos selfstandigheid, verantwoordelikheid, ’n goeie selfbeeld … Gebruik dit as ’n kompas vir ouerskap en maatstaf om klein onderonsies teen te meet. ’n Netjiese kamer is verkieslik, maar gaan dit enige verskil maak aan die ander waardes?
Lees ook: Hoe gedrukte foto’s jou kind se selfwaarde kan bevestig
Hoe raak jy van aangeleerde verkeerde gedrag ontslae?
Herhaalde gedrag word in jou geheueselle vasgelê en word jou outomatiese reaksie wanneer jy onder druk is. Daar is maniere om dit af te leer, sê Nikki Bush.
- Wees uiters bewus van wat jy doen en hoe jy reageer.
- Neem bewustelik beheer as jy voel ’n situasie laat jou beheer verloor. Wees pro-aktief. Los wat jy doen. Verlaat die vertrek. Sê ek is nou te kwaad om met jou te praat.
- Kry ondersteuning. Jy het ’n rasieleier nodig om jou aan te moedig en te ondersteun. Sluit by ’n ouerskapgroep aan, gaan sien ’n ouerskapkenner, kry ’n groep vriende wat mekaar ondersteun of gaan vir terapie by ’n sielkundige as jy vasbrand met ’n gewoonte wat nie wil wyk nie. Dis ’n proses van herontdekking.
Vir meer inligting besoek nikkibush.com en bellavida.co.za
Lees ook: Jou kind – met alle respek gesê