Vader God U ken my naam
My binnegoed en buitestaan
My grootpraat en my klein verdriet
My vashou aan als wat verskiet
U ken my vrese en my hoop
Die pad wat ek so kaalvoet loop
Die pad het U lankal berei
U maak die pad gelyk vir my
Alle pelgrims keer weer huis toe
Elke swerwer kom weer tuis
Maar ek verdwaal steeds op die grootpad
Soekend na U boardinghuis
“Ek is Amanda Strydom, en ek is net mens.”
Só het die tweede episode van die nuwe reeks van Net mens, met Amanda Strydom as gas, afgeskop. In die program het sy van haar grootwordjare as eersgeborene in Port Elizabeth vertel en met opregte liefde van haar ouers en sibbe gepraat. Reeds van kleintyd was sy lief vir die verhoog en stories vertel.
Sy is ná skool aanvanklik na die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, maar ná ’n paar draaie op die rooi tapyt is sy geskors en het sy haar studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Een van haar lektore, die veteraan-akteur Carel Trichardt, was een van die gaste, en hy het gesê hy het van die begin af geweet sy is besonder talentvol.
Ander gaste was Coenraad Rall, haar vriend en jarelange begeleier, en Karen Meiring, Saartjie Botha en Margit Meyer-Rödenbeck – almal mense wat Amanda al jare deur die kunste ken.

Amanda het oor die beginjare van haar loopbaan gepraat en het met rou eerlikheid vertel van die miskraam wat sy gehad het terwyl sy met die kopieskrywer Jeff Nauss getroud was. Sy het by haar ooievaarspartytjie in Port Elizabeth begin bloei. Later in Johannesburg het haar ginekoloog haar meegedeel die baba, ’n seuntjie, nie meer lewe nie. “Ek dink nie ek het dit ooit verwerk nie,” het sy gesê.
Maar kort daarna het sy die rol van die Poolse sangeres Elzbieta Karski in die TV-reeks 1922 gekry en het sy, soos sy dit stel, daaraan geklou soos aan ’n stuk dryfhout. “Dit was een van die wonderlikste rolle wat ek nog ooit vertolk het,” het sy gesê.
Amanda het deur haar pyn gewerk en meer werk gekry, maar alles het ’n dramatiese wending geneem toe sy aan die einde van ’n konsert by die Oude Libertas in 1986 “amandla!” uitgeroep het. “All hell broke loose,” het Amanda gesê. Die skrywer Hennie Aucamp – Amanda noem hom “Meester” – het ná die tyd na haar toe gekom en vir haar gesê sy moet besef niks gaan weer dieselfde wees nie.
“Ek het probeer cope daarmee. Soos met die miskraam, dit probeer onderdruk, onderdruk. Maar as mense se psige te veel aanhou om die seer, vernedering, dit was jou siel vertrap het, te onderdruk, is jy besig om ’n bom in jouself op te bou – ’n bom wat onwrikbaar een of ander stadium gaan ontplof.”
Sy het stemme begin hoor, en al die emosies wat sy onderdruk het, is omgesit in waansin. Sy is in ’n sielkundige inrigting opgeneem waar sy, onder meer, skokterapie ondergaan het. ’n Psigiater het haar aanbeveel om ’n werk te kry waar sy roetine het – ’n 9-tot-5-werk wat haar weer menswaardigheid gaan gee.
Amanda het in hierdie tyd besef sy is tevrede om alleen te wees en het vriende met haar bure gemaak. Toe hulle huis verkoop is, het daar ’n man ingetrek, en dit is waar sy haar man, Tony de Beer, ontmoet het.
Sy het weer die verhoog betree en haar loopbaan het daarna van krag tot krag gegaan. Vandag word uit vele monde gesê dat Amanda Strydom pionierstatus as kabaretkunstenaar verdien en ’n ikoon geword het.
Hierdie episode was nie net ’n program met staaltjies en sielstories nie. Amanda het ook dele van haar gewildste liedjies gesing, soos “Ek loop die pad”, die eerste liedjie wat sy geskryf het.
“Dis soos ’n genesing wanneer jy skryf oor iets wat eintlik seer binne jou is, en dan ook ’n sin vir humor daaroor het,” sê Amanda.
In 46 jaar in die bedryf, het sy nooit haar siel verkoop nie en bly sy dankbaar vir elkeen wat een van haar vertonings bywoon. Al het sy al toekennings vir haar lewensbydrae tot die vermaakbedryf gekry, is sy nog lank nie klaar nie, het sy gelag.
Die laaste woorde het aan Carel Trichardt behoort: “Daar sal nooit weer ’n Amanda wees nie.”
Die derde seisoen van Net mens bestaan uit drie episodes. Hierdie is die tweede episode. In die derde episode, wat volgende Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, is die aktrise Hanna Grobler die gas. Die volledige reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Karlien van Jaarsveld maak hart oop oor haar lewe se oppe en affe in Net mens
