Die veelsydige Lize Beekman is aangewys as een van die finaliste van die internasionale Wildlife Artist of the Year-kompetisie, ook bekend as WAY. Daar was vanjaar 1 340 inskrywings uit 68 lande en 151 kunswerke is uiteindelik gekies om deel van die uitstalling in Londen te wees.
“Toe ek die e-pos met die nuus lees, was dit een van daardie oomblikke waar jy net gou ’n tweede en derde keer lees om seker te maak,” sê sy oor haar reaksie op die nuus. “Vir wie op hierdie aarde is dit nié lekker om te hoor iets wat hulle geskep het word hoog aangeskryf nie? Ek was in ekstase!”
Lize, bekend as sanger-liedjieskrywer en wie se nuwe album, Tussen hier en daar, later vandeesmaand vrygestel word, se kunstalent is alombekend. Sy het naam gemaak vir haar mandala-kunswerke en het sedertdien ook in inkpen, akriel en collage as medium begin werk.

Lize Beekman (Foto: Verskaf)
“I see you”, haar WAY-kunswerk, is ’n inkpentekening van ’n maanhaarleeu in profiel.
“Ek dink die aanvanklike inspirasie was eerder die medium as die onderwerp,” sê Lize oor haar inskrywing. “Ek het ’n paar jaar gelede twee uitstallings gedoen met inkpensketse van honde, en ek het toe reeds die medium geweldig geniet. Daar was sedert die honde ander uitstallings met gemengde medium, maar ek het myself bly vang dat ek weer en weer terugkeer na ’n inkpen. Hoe het ek by leeus en luiperds uitgekom? Ek het een oggend wakker geword en die eerste gedagte wat by my opgekom het was: ek is lus om ’n leeu met inkpen te teken. Ek het en dis hoeka daai heel eerste skets van die leeu wat as finalis vir die WAY-kompetisie gekies is.”

“I see you”, haar WAY-kunswerk, is ’n inkpentekening van ’n maanhaarleeu in profiel. (Foto: Verskaf)
WAY is in 2008 deur die Britse kunstenaar David Shepherd (CBE) begin. Die kompetisie lok jaarliks duisende inskrywings en ’n deel van die verkope van die kunswerke gaan vir natuurbewaring. Vanjaar se uitstalling is van 9 tot 13 September by die Mall Galleries in Londen. Die kompetisie, wat as een van die grootstes wêreldwyd geag word, het sedert sy begin meer as £1 miljoen vir wildbewaring ingesamel. Die wenners in die onderskeie kategorieë asook die algehele wenner word op 9 September aangewys. Die werk van die finaliste kan hier gesien word.
“Ek kyk gedurig uit vir besonderse foto’s van wild op verskeie platforms,” sê Lize oor waar sy haar inpirasie vandaan kry. “Ek gebruik nie noodwendig altyd ’n foto presies soos hy geneem is nie. Ek sal dit dikwels anders spasieer of slegs ’n gedeelte gebruik, want die negatiewe spasie rondom die dier is vir my belangrik en het kenmerkend van my sketse geraak. So ek manipuleer dikwels die foto ter wille van die komposisie.
“Ek is baie bewus van wildfotografie, want dis vir jare al ’n passie van my broer Riaan. Sy besigheid, African Aerial Safaris, neem mense op ongelooflike safari’s en Riaan deel graag van sy foto’s en ervaringe. Die foto’s van die diere trek altyd my aandag – die komposisie, die houding van die dier, die kyk in hulle oë. Dis soos ’n magneet wat my aantrek en die lus om die dier te teken is nog altyd oorweldigend.”
Hoe lank neem dit haar om een skets te voltooi?
“Dit is ’n tydsame proses en wat die inkpen natuurlik anders as potlood of houtskool maak, is dat jy nie kan uitvee nie. As jy ’n lyntjie maak, is hy daar om te bly! Ek werk met geweldige fyn inkpenne van 0.3 mm tot by ’n maksimum van 1 mm. Só ’n skets neem soms tot ses weke om te voltooi.”
Sy het reeds tien sketse van leeus en luiperds voltooi en hoewel sy nog nooit voorheen afdrukke van haar werk laat maak het nie, gaan sy dit wel hierdie keer doen.
“Daar is ’n beperkte oplaag van 20 afdrukke van elke skets beskikbaar. Die afdrukke is van ’n hoë gehalte en word op Hahnemüle Photo Rag-papier gedruk. Die afdrukke se koste maak dit meer toeganklik vir kopers, want die oorspronklike sketse is duur weens die tyd wat dit neem en die eksklusiwiteit daarvan. Die beperkte oplaag van die afdrukke verleen egter ook ’n mate van eksklusiwiteit aan dié werke,” sê sy.
Die werke kan op haar webblad, www.lizebeekman.co.za, besigtig en aangekoop word. Dit is ook deel van die Melkbos Ateljee se Open Studios wat op 27 en 28 September in Melkbosstrand gehou word.
“Ek stal die werke in my studio by my huis uit en almal is welkom om te kom kyk. Dit bly maar net anders om ’n werk in lewende lywe te sien.”
Lees ook: My f*k, Marelize! verower die nommer-1-posisie by die loket in die openingsnaweek
