Verlede jaar het kykNET aangekondig dat die gewilde werklikheidsreeks In die sop ’n nuwe baadjie aantrek. Die fokus verskuif in die vierde seisoen van restaurante na gastehuise.
In die sop: Gastehuisrevolusie, wat op 23 April op kykNET begin, gaan 13 gastehuise help – van Bethulie tot Worcester, en verder noord, verder suid en sommer ook op allerhande lekker plekke tussenin.
Die aanbieder van die reeks is Janie du Plessis, wat in die 80’s behoorlik naam gemaak het. As aanbieder van gewilde joernaalprogramme vir jong mense, soos Teletien en Graffiti, was sy ’n baie gewilde voorbladgesig. Sy was destyds ook saam met Arnold Vosloo te sien in die trefferrolprente Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op manoeuvres (1985).

Die aanbieder van die reeks is Janie du Plessis (Foto: Gys Loubser)
Verskeie gastehuise het gehoop dat In die sop: Gastehuisrevolusie vir hulle net die regte reddingsboei sal wees. Hulle het laat waai met hul inskrywings om baat te vind by daardie vars kennersoog en professionele wenke wat Janie en haar knap span hulle kon bied.
Die gedugte taakspan het bestaan uit ’n ou bekende lid van die In die sop-span, Misi Overturf, en twee ander binnenshuise ontwerpers, Griki Lubbe en Willus Bosch. Dié drie het beurte gemaak om hulp aan die gastehuise te verleen, terwyl ander kenners deur die loop van die reeks sake- of bemarkingsadvies gedeel het.
Voordat Janie en haar span by die gastehuise weggespring het, is daar natuurlik goeie navorsing gedoen. Janie en die taakspan het ’n “spioen” vooruit gestuur om ondersoek na die potensiële probleme by die gastehuise in te stel.
Volgens Janie het die vervaardigers beslis met die In die Sop-formaat ’n aar in die Afrikaanse gemeenskap raakgeboor.
“Baie mense het hulle gastehuisdroom sien vervaag met die uitdagings wat deur Covid, politiek en die ekonomie veroorsaak is,” vertel sy.
“Die gastehuise wat ons besoek het, was werklik almal diep in die sop.”
Janie is van mening dat dit grootliks te wyte is aan gebrekkige kennis van bemarking en insig in die gasvryheidsbedryf.
“Die verskil wat ons as ’n span gemaak het, was baie bevredigend. Ons weet wat om te doen om dinge weer reg te ruk. Ons het eerstehands gesien hoe ons mense se lewens binne ’n paar dae verander het en hoe dit hulle weer hoop gegee en aan die gang gekry het met hernude energie en ’n positiewe uitkyk.”

(Foto: Gys Loubser)
Wat was volgens Janie en die span die gastehuise se mees algemene uitdagings?
“Onderhoud wat agterweë bly. Baie mense is ook nie tegnologies vaardig nie. Hulle is oorwegend mense van die platteland wat nog nooit digitale platforms ingespan het nie, en hulle weet ook nie hoe om kliënte te bereik nie. Mense besef nie hoe maklik dit eintlik is om jou eie bemarking te doen nie.”
Maar, het sy bygevoeg, daar is nie een resep wat op alle gastehuise van toepassing is nie. Elkeen se behoeftes en uitdagings is uniek.
“Om ’n besigheid om te draai, verg veel meer as net die mooimaak van die uiterlike. Daar is ook die kwessie van begrip. Die eienaar van ’n gastehuis moet die veranderinge wat ons maak, verstaan en dan self toepas.”
Hoe voel sy uiteindelik oor die proses wat hulle aangepak het?
“Die verskil wat ons in mense se lewens gemaak het, het my diep getref. Dit was ’n besonderse ervaring, en ek voel baie bevoorreg om deel te kon wees van hierdie program.”
In die sop: Gastehuisrevolusie begin op Donderdag 23 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod terug met nuwe seisoen vol adrenalien, avontuur en natuurskoon
