Project Flamingo, ’n nie-winsgewende organisasie wat reeds 1800 gratis borskanker-operasies sedert 2010 voltooi het, maak gebruik van vrywilliger-dokters en narkotiseurs om die wagtye by vyf staatshospitale verminder.
Op Saterdag 19 Julie 2025 mik Project Flamingo om ‘n rekord 40 gratis borskanker-operasies te doen by Groote Schuur-hospitaal en Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, George-hospitaal, en in die Oos-Kaap by Cecilia Makiwane-hospitaal (in Oos-Londen) en Livingstone-hospitaal (in Gqeberha).
Op Mandeladag sal Project Flamino ook die Make Room for Her -veldtog loods as bewusmaking van die werk wat gedoen word om te help verseker dat vroue wat met borskanker gediagnoseer, word tydige behandeling kry. ‘Of ons plek maak op waglyste vir operasies, plek maak vir sielkundige berading, plek maak vir emosionele ondersteuning of belangrike diagnostiese dienste – elke vrou met borskanker verdien die kans op tydige behandeling.’
Deur Project Flamingo se werk te ondersteun kan die publiek ook help om vroue ’n kans op oorlewing te gee.
“Hierdie Mandeladag, vier ons nie net die nalatenskap van ’n merkwaardige man nie, ons verander lewens,” sê Dr. Liana Roodt, Uitvoerende Hoof en Stigter van Project Flamingo. “Daar is geen beter manier om ’n leier te vereer as om sy nalatenskap van positiewe verandering proaktief na te volg nie. Ons skep ruimte vir vroue om gehoor te word, om behandel te word, en om hul gesondheid en waardigheid terug te eis. Deur dit te doen, vereer ons Madiba se nalatenskap deur aksie wat gewortel is in deernis en ’n verbintenis tot geregtigheid. Ons hou spasie vir mekaar deur die manier waarop ons praat, dink en optree. Tydige en waardige kankersorg is nie ‘n voorreg nie; dit is ’n basiese menseregte kwessie wat beskerm moet word.”
Megan Jane Jacobs (35), ’n Project Flamingo-pasiënt wat laasjaar tydens Mandeladag haar operasie ontvang het, sê: “Ek sal vir altyd dankbaar wees vir die Project Flamingo-span en die ongelooflike dokters en verpleegkundiges vir wat hulle vir my gedoen het. Dit was soveel meer as net ’n operasie – hulle het my deur een van die mees kwesbare en lewe-veranderende tyd van my lewe gehelp. Hul deernis, vaardighede en toewyding het nie net my kanker behandel nie; hulle het ‘n deel van my vrouwees herstel en weer vir my selfvertroue en hoop gegee. Ek het nie net oorleef nie, ek het ’n tweede kans gekry.”

Besoek www.projectflamingo.co.za vir meer.
Lees ook: ADHD: is dit dalk jy?


