Deur Riëtte van der Wat. Foto’s: Willem Botha
Mandi du Plooy-Baard het dalk haar veertigerjare geslaan, maar die aktrise bekend vir haar rol in Getroud met Rugby bly steeds onopgesmuk, eerlik en spontaan, terwyl sy haar kinders leer om in hulself te glo.
Hier’s een van ons gunsteling-onderhoude met haar:
Daar is ’n blaffende brakkie onder Mandi du Plooy-Baard se arm waar sy my by die voorhek van haar Johannesburgse gesinshuis ontmoet.
Mika, die tweejarige miniatuur-Schnauzer, knor toe ek haar ounooi groet en by die groot eetkamertafel gaan sit, maar kort voor lank spin sy soos ’n katjie op my skoot.
“Sy is ’n bietjie soos ’n goudvis wat vinnig vergeet sy’t nou net vir jou geblaf,” sê Mandi laggend.
Die aktrise, aanbieder en motiveringspreker, het nog die oefenklere aan waarmee sy vanoggend die kilojoules verbrand het en ’n pet is oor haar hare getrek. Onopgesmuk, eerlik en spontaan.
“Ek lyk meestal só,” sê sy en beduie na haar uitrusting, met daai bekende mooi glimlag. “Toe ek nou die dag ná die rooi rose-fotosessie met my gegrimeerde gesig by die skool aankom, wou die mense by my weet wat dan nou aangaan!”
Mandi is deesdae as Theresa in kykNET se Diepe Waters te sien. Sy werk op roepbasis by dié sepie en hoewel dit ’n aanpassing was om ná Getroud met rugby weer as vryskutaktrise te werk, is sy tog dankbaar dat sy deesdae ’n meer buigsame skedule het.
“Ek is nou in daai stadium van my lewe waar my kinders se programme baie besig is,” sê Mandi, ma van Jeandré (10) en Sumé (8). “Dis vir my heerlik om ’n soccer mom te wees, hoor. Ek’s daai tipe ma wat voor die skoolhek met bottels koue water staan en wag voor die sport begin, en wat daarvan hou om by álles te wees waaraan my kinders deelneem. My ma was ook so.”
Net omdat dit haar liefdestaal is, beteken egter nie sy dink vroue wat nié kies om kinders te hê, of ma’s wat ander tipe keuses maak, is slegte ma’s nie.
“Ons moet ophou om mekaar so te veroordeel en om te verwag dat almal in dieselfde boksies pas. Ons lewe in onsekere tye en dis klaar moeilik genoeg om ’n ouer te wees.”
Jeandré is vanjaar in graad 5 en Sumé in graad 3, en Mandi geniet dit om haar kinders se unieke persoonlikhede te sien ontvou.
“As ouer moet jy jou kinders se persoonlikhede aanvaar en geniet,” glo sy. “Sumé is ’n ekstrovert en die een wat nog altyd makliker deur die lewe gaan. Soos sy ouer word, besef ek sy probeer eintlik altyd die regte ding doen.
“Jeandré is ’n introvert wat dinge diep voel, maar hy het baie ekstrovert-eienskappe. Kinders begin mos al op vier vra ‘hoekom’, maar Jeandré het nog nooit opgehou nie! En terwyl my familie my altyd daaroor spot dat ek so baie kan praat, praat hý my onder die tafel in.”
Sy en haar man, Schalk, wat in die mediese veld werk, glo in ’n gebalanseerde leefstyl.
“Dis vir ons belangrik dat die kinders by skooldinge betrokke is, maar omdat hulle aan ’n verskeidenheid sport- en kultuuraktiwiteite deelneem, is die dae skielik baie kort,” sê Mandi. “Dis nogal ’n game changer as jou kinders hierdie ouderdom bereik en jy moet begin remme aandraai as hulle by nog iets wil inskakel. ’n Mens wil so graag vir jou kinders álles gee, maar ons moes begin nee sê vir goed.”
Toe Jeandré verlede jaar begin eksamen skryf het, was dit asof Mandi opnuut agter die boeke moes inskuif.
“Dis moeilik om te dink ék moet hom leer hoe om te leer. Ons is mos verskillende mense en ons koppe werk anders. In die proses is dit belangrik om ’n humorsin te behou, maar ek moet bieg, ek verloor soms my cool. Dan moet ek maar teruggaan en jammer sê,” sê sy en onthou die keer toe sy Jeandré een middag met ’n wit vredesvlaggie by die skool gaan oplaai het.

Oor woorde met mag
Die dinamika van ouerskap verander gedurig namate kinders ouer word.
“As jy klein babatjies het, besluit jy wanneer hulle eet en slaap, maar hulle weet eintlik van niks. Wanneer jou kinders ouer is, moet jy besluite neem waarvan hulle bewus is en waarvan hulle dalk nie gaan hou nie. Dis ekstra moeilik, want jou besluite kan groot gevolge hê en die dinge wat jy sê, kan skade maak.
“Woorde het mag en jy kan jou kinders óf seermaak, óf hulle help om te floreer. Ouerskap is ’n reuse-verantwoordelikheid en die werklikheid is dat ’n mens gaan foute maak. Dit is waar jy die Here moet vertrou om jou gemors in iets moois te verander.”
Sy het ook geleer dis nooit te laat om dinge anders te doen en haar weerloosheid soms te wys nie.
“Toe Jeandré so agt jaar oud was, het hy my gevra hoekom ek dan nooit huil nie. Ek het besef dis oor ek altyd agter ’n toe deur gaan huil, omdat ek geglo het ek moet altyd sterk vir my kinders wees. Maar ek het geleer dis nie nodig nie. Dalk sal my kinders meer gemaklik wees met hul eie emosies as ek oper is met myne.”
Toe hul Jack Russell, Jasper, twee jaar gelede dood is, het sy die oggend in die bed gaan lê en haar kop onder die kussings gedruk.
“Ons het Jasper gekry toe ons getroud is en dit was baie swaar om hom te verloor. Teen die einde van daai dag het Jeandré kom vra of Mamma dan nou ooit gaan ophou huil …”
In dieselfde asem beskut sy hulle nie meer soos voorheen teen die harde werklikhede van die lewe nie.
“Ek wou hulle in ’n stadium in ’n borrel grootmaak, maar ek het besef dat ek hulle aan die regte lewe sal moet blootstel as ek empatie by hulle wil kweek. So soms wys ek hulle hoe min kinders elders ter wêreld, of sommer hier naby ons, het en dan is hulle vies vir my, maar so leer ek hulle ons móét ingelig wees oor wat in die wêreld aangaan.”

Oor vroue en die veertigs
Sy koester reeds van kleintyd af haar kinders se selfvertroue en gee vir hulle geleenthede soos oorklankingswerk saam met legendes in die bedryf, soos Henriëtta Gryffenberg en Karin Retief, om vaardighede soos deursettingsvermoë te slyp.
“Nederigheid is mooi, maar daar is ook niks fout met ’n goeie selfbeeld nie. Ons maak ons kinders groot om in hulself te glo, maar sê in dieselfde asem ‘net nie te veel nie’. Ons het so teenstrydige wêreld geskep.
“As my dogtertjie haarself deesdae so in die spieël bekyk, dink ek dis wonderlik. Ek wil hê sy moet haarself kan vier vir wie en wat sy is.”
En hoe voel sý oor haarself en haar lyf noudat sy in haar 40’s is?
“Om nou te sê ‘ek is so gemaklik in my eie lyf’ of ‘in myself’, hang heeltemal af van die dag waarop jy my vra. Ek dink nie ek’s so uniek in dié opsig nie, want nes die meeste vroue voel ek sommige dae fantasties oor myself, ander dae nie.
“Vandag sit ek hier met my gim-klere aan en my hare onder my pet ingedruk en dis ook oukei,” sê sy. “Om die waarheid te sê voel ek op my heel mooiste sonder grimering aan.
“En nes ander vroue kyk ek soms in die spieël en probeer verstaan waarom daai romp nie meer pas nie. Dan praat ek maar met myself om nie weer daai tjoklit te verslind nie. So dalk is ek tog ’n bietjie wyser noudat ek ouer is …”
Sy voel egter nie juis anders in haar vel noudat sy 42 is nie, erken sy.
“Op 42 moet ek seker sê ‘ek ervaar nou soveel vrede’, maar eintlik voel ek net dieselfde as voor 40. Die ironie is dat ek in my veertigerjare minder werkstabiliteit het as ooit tevore. Ek hou daarvan om in beheer te wees en dis moeilik as vryskut aktrise. Wat my veertigerjare wel meegebring het, is dat ek doelbewus ander tipe besluite neem. In die verlede het ek altyd op korporatiewe werk teruggeval as die kreatiewe wêreld verander, maar noudat ek al 16 jaar getroud is en my kinders ouer is, het my prioriteite verander.”
Mandi dink haar uniekheid is gewortel in die feit dat sy net altyd probeer om haarself te wees, sonder voorgee.
“Hoe ek op sosiale media lyk, is hoe ek daai dag voor mense gelyk het. Maar dit beteken nie ek kies nie net my beste foto’s nie en gebruik nie ook soms ’n filter nie. Mense moet nooit my beste foto met hul slegste dag vergelyk nie.”

Oor chaos en dissipline
’n Gedissiplineerde lewe laat haar tiek en sy staan elke oggend douvoordag op om saam met twee vriendinne te gaan oefen – soms by ’n trampolienklas, ander kere vir ’n drafsessie en ook by die gim.
“Ek belowe jou, ek sou eerder in die bed bly as ek kon, maar ek was nog nooit spyt as ek gaan oefen het nie. Net as ek nié gegaan het nie,” sê Mandi. “Ek sit al saans my klere reg, sodat ek nie in die oggend rondstrompel nie en ek’s betyds tuis om my kinders wakker te maak. Slaap is vir my baie belangrik en omdat ek so vroeg opstaan, gaan slaap ek vroeg, anders gaan ek ’n vreeslike onplesierige mens wees.”
Sy verpes chaos en verkies om vooruit te beplan.
“Kosblikke en skooltasse word die aand vooraf gepak, anders is dit ’n geskarrel en ’n geskree voor skool. Ek het ’n verantwoordelikheid teenoor my kinders om die dag nie met ’n deurmekaarspul te laat begin nie. Die ongemak van beplanning is veel minder as die impak van nié beplan nie.”
Haar jare as jong aktrise op die Egoli-stel het haar gedissiplineerdheid geslyp.
“Kyk, ek kan ook maar ’n bietjie lui wees partykeer, maar dit is ’n wilsbesluit om gedissiplineerd te leef.”
Hierdie artikel het oorspronklik in ons Augustus-uitgawe van 2024 verskyn.
Lees ook: Vier Koffiedag met hierdie resepte!
