Foto’s: RDK Photography
In die Februarie-uitgawe het rooi rose saam met die bekende ontwerper Diaan Daniels een gelukkige matriekmeisie die kans gegee om haar droomrok, ter waarde van R20 000, te laat ontwerp. Vir Willanda Els van Hoërskool Pretoria-Noord het hierdie droom ’n werklikheid geword!

Toe Willanda, ’n matriekleerling van Hoërskool Pretoria-Noord, hoor sy is die gelukkige wenner wie se skets van haar droomrok deur die bekende Diaan Daniels gekies is, was dit ’n oomblik wat sy nooit sal vergeet nie.
“Ek en my ma was besig om materiaal te kies vir my oorspronklike rok toe ek die boodskap gekry het,” vertel sy. “Vir ’n paar sekondes het alles stilgestaan – toe bars ons uit in trane en lag tegelyk! Ons het op en af van pure vreugde gespring. Die winkelpersoneel het nie geweet wat aangaan nie! Dit was ’n droom wat letterlik voor ons oë waar geword het.”
Haar wenontwerp is geïnspireer deur tydlose elegansie met ’n moderne kinkel. “Ek wou iets hê wat my persoonlikheid weerspieël – stylvol, uniek en met ’n bietjie drama. Ek het nog altyd gehou van sagte, vloeiende materiale wat vroulik is sonder om oordrewe te wees.”
Haar skets het ’n spesiale snit, unieke kleur en fyn detailwerk ingesluit.
Om saam met Diaan Daniels te werk, beskryf Willanda as “’n sprokiesverhaal.”
“Om te sien hoe ’n eenvoudige skets voor my oë lewe kry, was asemrowend. Hy is briljant!”

Willanda vertel haar matriekafskeid was ’n aand vol emosies. “Ek was opgewonde, ‘n bietjie senuweeagtig, maar so tevrede. Toe ek oor die rooitapyt stap, het dit gevoel asof alles vir ’n oomblik stil staan. My ma het trane van trots afgevee.”
Vir haar was die onvergeetlikste oomblik egter die dag wat sy die finale skepping vir die eerste keer kon aantrek. Diaan het ook gereël dat ‘n fotograaf hierdie oomblik vasvang.
“Toe ek daardie rok aantrek en voor die kamera staan, het ek beeldskoon gelyk en gevoel – dit was alles wat ek wou hê in een oomblik.”
“Elke detail was perfek – van die snit tot die manier waarop die materiaal geval het. Dit was méér as net ’n rok; dit was ’n droom wat waar geword het,” vertel sy.
Maar die toekoms hou nog groter drome in. Willanda beplan om volgende jaar hotelbestuur en toerisme by die Toerbroers te studeer en droom daarvan om eendag haar eie hotel te besit. “Ek wil graag eers in Japan werk om ervaring op te doen, en wie weet, dalk word Diaan Daniels se rokke eendag selfs in my hotel gedra!”
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se November-uitgawe móét lees!


