Elke huis moes een speler opoffer in ruil vir 300 spykers – of die risiko loop om agter te raak met die eindstreep in sig.
Vir Suidhuis het die besluit sowel wins as ’n gevoelige slag meegebring. Ná weke van desperate pogings om in te haal, was hulle uiteindelik kop aan kop met Noordhuis. Maar vooruitgang het ’n prys, en iemand moes gaan. In ’n oomblik van stille moedigheid het Elsje na vore getree. Haar vrywillige uittrede het haar huis geskok, maar dit het vir hulle die hulpbronne en momentum gegee om vir die eerste keer in die kompetisie die voortou te neem.

Noordhuis, aan die ander kant, het hulself voorberei vir bloed. Wilhrisca, wat die hele dag ’n kinkel in die kabel verwag het, was slaggereed – ’n leier wat gewag het om te sny. Die span het eenparig vir spykers gestem, en sonder huiwering het sy Lelani se naam genoem – die dryfkrag agter Noordhuis se sukses van dag een af. Die besluit het kykers en die eens verenigde Noordhuis geskok. Die vraag is: Gaan hierdie skuif die span onherstelbaar verdeel?
Twee vroue het uitgegaan – een uit eie keuse, een onder dwang – en daarmee het hulle dalk ’n nuwe pad na oorwinning gebaan.
Elsje: “Ek het besluit ek sal gaan sodat ons kan vorentoe beweeg.”
Elsje se opoffering het Suidhuis stomgeslaan, maar sy het nie gehuil of gehuiwer nie. In ’n onderhoud ná die episode het sy die redes vir haar besluit onthul: “Ek het geweet Noordhuis sal iemand huis toe stuur, en ons staan nie ’n kans as een van ons nie ook gaan nie. Ek het besluit ek sal gaan sodat ons kan vorentoe beweeg.” Haar spanmaats het probeer om haar te keer, maar sy het vasgestaan. “Hulle wou my keer, maar ek het klaar besluit. Ek gaan. En ek doen dit vir hulle.” Sy het kop omhoog weggestap en haar span hul eerste voorsprong in die kompetisie gegee.
Lelani: “Ek het gevoel soos ’n skaap wat wag om geslag te word.”
Lelani se uittrede kon nie meer anders gewees het nie. Sy is opgeoffer deur die span wat sy gehelp dra het, en haar woorde was bitter: “Toe sy van daardie fakkel af terugkom, het ek geweet dis ek,” het sy gesê. “Ek het gevoel soos ’n skaap wat wag om geslag te word.”
Dit was hoogs ironies dat Lelani verraai is. Sy was immers die een wat Noordhuis gewaarsku het om gefokus te bly, harder te druk en te besef dat Suidhuis gaan terugveg. “Noordhuis is nie meer wat dit was nie. Vandat Wilhrisca leier geword het, het alles skeefgeloop. Geen rigting nie. Geen vertroue nie. Dis elke vrou vir haarself.”
Beleef al die drama van Die brug, Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Lees ook: Warboel-komedie vir ’n skaterlag-Saterdagaand op kykNET




