Dit is nooit werklik windstil in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie afspeel, nie.
Augustus is natuurlik geen uitsondering nie en voor die lente aanbreek is, gaan daar ’n paar storms in die laaste maand van winter losbars.
Hier is ses van Suidooster se stormsterk-storielyne wat jy nie mag misloop nie:
-
Shandy: Verleidelik, gevaarlik, en dalk Laylla?
Nazeem (Irvine van der Merwe) glo hy sien Laylla, maar dis Shandy (Kay Smith, wat ook voorheen die rol van Laylla vertolk het). Sy is Laylla se ouer suster en ’n ontkleedanseres met haar eie agenda. Sy probeer Nazeem se kwesbaarheid uitbuit en begin hom speel soos ’n viool. Bridgette (Denise Newman) vertrou nie die vrede nie en sy maak nie van haar hart ’n moordkuil daaroor nie. Gaan Shandy dalk tweespalt tussen Bridgette en Nazeem veroorsaak?
Lees ook: Sien ons spoke? Kyk wie keer terug na Suidooster

-
Ha-lie-ha vir Rhafiek en Kaashifa!
Die stormwolke wat tot nou die Samsodien-huis getreiter het, verdwyn soos mis voor die son ná Rhafiek en Kaashifa uiteindelik die strydbyl begrawe het. Dié twee karakters besef hulle werk beter as meneer en mevrou Samsodien.

-
Frankie, Justin en die ouers-in-die-pad
Frankie (Mienke Ehlers) en Justin (Eden Classens) probeer om hul nuwe lewe as ’n gelukkige paartjie te geniet, maar alles ontspoor wanneer Frankie se ouers, Amanda (Lindie Strydom) en Mike (Anrich Herbst) onverwags opdaag. Amanda en Mike is onbewus van die feit dat hul dogter saam met haar kêrel bly, en wanneer dié nuus breek, is die gort gaar. Frankie probeer die situasie met haar ouers beredder, maar dan begin geraamtes in Amanda en Mike se eie kas ratel.
-
Bianca wil vlug – maar waarheen?
Bianca (Simone Biscombe) se drome om Oos-Wes te koop lê in skerwe nadat Kaashifa en Rhafiek versoen het. Seergemaak en teleurgesteld besluit sy dat haar tyd by Oos-Wes tot ’n einde gekom het. Na haar bedanking begin sy ander werk soek. Dis egter makliker gesê as gedaan. Die geluk is egter aan Bianca se kant en ’n wonderlike geleentheid duik op. Daar is egter ’n onverwagte kinkel en dit lyk of Brendan (Caleb Arnold) dalk in haar pad gaan staan.

-
Kate se “engel” of ’n mediese noodgeval?
Kate (Annelisa Weiland) glo vas dat Henog (De Klerk Oelofse) ’n engel is wat haar waarsku oor dreigende gevaar. Maar wanneer sy begin hallusineer en lighoofdig raak, blyk dit dat daar ’n mediese probleem is. Toe sy vir ’n operasie moet gaan, kom sy ook by ’n kruispad oor haar geloof.
-
Prettige pretstap-wedywering
Wanneer die Peninsula School Feeding Association (PSFA) se Blisters for Bread-pretstap op die kalender verskyn, raak Zoe (Lauren Joseph) en Mrs J (Theresa Sedras) hewig kompeterend. Spansamestellings, oefensessies en ego’s vier hooggety – en dit alles oor wie se span die meeste geld gaan insamel. Berei jou voor vir lekker lag en diep drama!

Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Hirome wen Die brug: “Ek het geweet ek gaan deel, nog voordat ek geweet het ek gaan wen”


