Dit was ’n ongelooflike voorlaaste episode waarin Suidhuis – wat nog nooit die voortou geneem het nie – onverwags Noordhuis in die pylvak na die Toring verbygesteek het.
“Ek bars van trots en dankbaarheid dat die ‘verloorder-span’ wat nooit een keer voorgeloop het nie, uiteindelik gewen het,” het Johan gesê. “Wat ’n voorreg om deel daarvan te wees.”

Dié verrassende wending is moontlik gemaak deur twee uitgeskakelde spelers wat ’n aanloklike aanbod gekry het wat ernstige gevolge sou hê. Sonder dat die ander spelers dit geweet het, is Lelani en Elsje R100 000 elk aangebied om vyf vlotte op elke span se brug te vernietig voordat hulle vertrek. Hulle het ook die opsie gehad om R50 000 te kry as hulle slegs een span se vlotte wou sink. Lelani het die R100 000 aanvaar, maar Elsje, steeds lojaal aan Suidhuis, het R50 000 gekies en slegs Noordhuis se brug beskadig – wat haar voormalige span die eerste keer ’n voorsprong gegee het.
Maar in plaas van die skat, het Suidhuis ’n briefie gevind: “Geluk, julle is halfpad. Die skat wat julle soek, lê aan die voet van die Groen Toring aan die ander kant van die eiland, 150 meter van die oewer af.”
Toe hulle terugkeer na die eiland, het die span die skatkis uit die eerste seisoen langs die Groen Toring gesien.
Nog ’n brief aan die span het die finale hekkie tussen hulle en die prys onthul: Hulle moes die Groen Toring per brug voor sonsondergang op die volgende dag bereik. Met geen tyd om ’n nuwe brug te bou nie, was die enigste hoop om Noordhuis se reeds voltooide brug te gebruik.

Die reëls vir onderhandelinge is duidelik in die brief uiteengesit:
- Koop die brug van Noordhuis vir tot R100 000 en behou stemreg vir Suidhuis alleen.
- Of smelt saam tot een span, gebruik die brug gratis en deel die finale stemreg met al tien spelers.
Vir Suidhuis was samesmelting en genade geen opsie nie.
Terwyl Suidhuis hul voorsprong gevier het met vonkelwyn, ribbetjies en brownies, het Noordhuis opgedaag. Onderhandelinge tussen Johan en Wilhrisca het egter misluk toe Noordhuis R50 000 per speler geëis het.
“Ons het so pas Die brug 2 gewen,” het Johan, Suidhuis se leier, in ’n onderhoud ná die episode gesê. “Noordhuis het die reg gehad om te onderhandel, maar hulle het heeltemal te hoog begin. Dit was nie hul prys om op te eis nie – dit was hul kans om te deel in iets wat ons reeds gewen het.”
En toe was daar ’n gekul. Toe Wilhrisca gevra het om die amptelike brief met die onderhandelingsreëls te sien, het Suidhuis gejok en gesê dit kon nie uit die Toring geneem word nie. In werklikheid het Hirome dit tussen matrasse weggesteek, terwyl ’n tweede brief in die kombuiskas gelê het. Maar Wilhrisca het nie hulle storie bevraagteken nie en gesê sy vertrou hulle.
“Dit was ’n moeilike oomblik,” het sy in haar onderhoud ná die episode gesê. “Ek het gekies om Lelani te vertrou, en sy het ’n ander pad gekies. Dit was seer op die oomblik, maar ek hou nie wrokke nie. Ek loop eerder weg met lesse as bitterheid.”
Sy het bygevoeg: “Op die ou end was ek opreg bly vir Suidhuis. Hulle het hard gewerk en dit verdien. Soms is dit meer bevrydend om die werklikheid te aanvaar as om daarteen te baklei.”

Die episode het naelbytspannend met die uitslag in die weegskaal geëindig. Die skat is binne bereik, maar as onderhandelinge misluk, sal geen span die finale brug kan oorsteek nie. En niemand sal met ’n sent wegstap nie.
Beleef al die drama van Die brug, Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Lees ook: Lelani van Die brug: “Ek het gegee, geglo, gebou – toe vat ek wat ek werd is.”
