Die hoog aangeskrewe Onthul-reeks se ondersoekende joernalistiek het nou ’n nuwe tuiste gevind as ’n spesiale episode van In gesprek op kykNET, met die bekroonde joernalis Lourensa Eckard as aanbieder van beide programme.
“Onthul is bekend daarvoor dat dit kwessies van openbare belang van alle invalshoeke ondersoek sodat die kyker sy eie oordeel kan fel. Dit is waarom ek so opgewonde is oor die samewerking tussen In gesprek en Onthul,” sê Lourensa oor dié nuwe kombinasie wat vir die eerste keer op Maandag 16 Maart uitgesaai word.

Die eerste kwessie wat onder die vergrootglas kom, is die vernietigende effek wat dobbel op miljoene Suid-Afrikaners se lewens het. Hiervoor word oudergewoonte kenners en gevallestudies betrek in ’n episode getiteld Onthul: Aanlyn dobbel – Wie wen?
Want, verduidelik Lourensa, met ’n slimfoon het jy jou eie casino – altyd – in jou hand. So maklik. So verleidelik. Daardie tergende vraag: Wat kan gebeur as jy net nog een keer die wiel laat tol?
“Aanlyn dobbel in Suid-Afrika is ’n komplekse tema: Die bedryf bring jaarliks miljarde vir die staatskas in, maar dit is ’n onmiskenbare feit dat die aantal probleemdobbelaars op aanlyn platforms ook oor die laaste paar jaar die hoogte in geskiet het.”
En nee, jy hoef nie self ’n dobbelaar te wees om hierdeur geraak te word nie. Al wat dit neem, is iemand na aan jou wat nie hierdie verslawing te bowe kan kom nie.
Soos Oscar Bishop, ’n gewese dobbelverslaafde wat sy finansiële tekorte met dobbel probeer aanvul het – tot hy alles in ’n kits verloor het. Hy was egter nie die enigste verloorder nie. Die mense naaste aan hom het ook onder sy verslawing gely.
“As jy meer geld maak, begin jy meer geld insit,” aldus ’n anonieme deelnemer aan die program, ’n student wat ontken dat hy ’n dobbelprobleem het. Hy glo verliese moet maar oploop tot op die punt waar die geld weer teruggewen word. Maar hoeveel dobbelaars verklap werklik hoeveel hulle verloor het tot daardie groot wen?

Lourensa kyk ook dieper na die kwessie van probleemdobbelaars. Sy beskryf hulle as verslaafdes aan die een kant en, aan die ander kant, mense wat dobbel sien as ’n wyse om hul inkomste aan te vul.
“Die maatskaplike tol wat dit eis, is enorm, want dit is dikwels die mense wat dit die minste kan bekostig, wat hulle tot hierdie platforms wend.”
Maar is dit bloot net desperaatheid wat studente noop om hul NSFAS-befondsing uit te dobbel? En wat word daaromtrent gedoen?
“Daar is beslis ’n besef aan die kant van die Nasionale Dobbelraad en selfs die dobbelmaatskappye dat daar ’n probleem is, maar die feit is dat mens hier te make het met volwassenes wat hul eie besluite moet en mag maak. Die dieperliggende vraag is: Waarom is so baie Suid-Afrikaners finansieel desperaat? Die kalf is nog nie in die put nie, maar hy het nie ver om te val nie,” sê Lourensa.
Daar is ook skokkende statistiek oor pensioenarisse wat hul karige Sassa-toelaes aanwend in die ewige hoop om groot te wen vir ’n beter lewe.
Is daar enige planne deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DHNM) om wetgewing rondom aanlyn dobbelary in werking te stel?
“Daar is tans baie druk van alle rolspelers om die wetgewing so gou moontlik op datum te kry. Ek is hoopvol dat dit vinnig sal gebeur,” sê Lourensa.
Deelnemers* aan die program sluit in:
- Nadia Liebenberg [(Nasionale Program vir Verantwoordelike Dobbel (NRGP)]
- Gertie Pretorius (Sielkundige)
- Ayanda Sakhile Zulu (Vryemarkstigting)
- Chandra von Meyer [(Nasionale Program vir Verantwoordelike Dobbel (NRGP)]
- Jan de Villiers (DA)
- Sean Coleman [Suid-Afrikaanse Boekmakers-vereniging (Saba)]
- Makashule Gana (Rise Mzansi)
- Gail Schimmel [Suid-Afrikaanse Advertensiebeheerraad (ARB)]
- Lungile Dukwana (Nasionale Dobbelraad)
- Wayne Lurie (Lurie Inc. Attorneys)
- Vernon Wessels (Currency News)
* Die deelnemers aan Onthul is onafhanklik van kykNET en MultiChoice.
Op soek na hulp met dobbelverslawing?
- Skakel die NRGP (Nasionale Program vir Verantwoordelike Dobbel) se tolvrye beradingslyn by 0800 006 008.
- Stuur ’n WhatsApp/SMS met die woord HELP aan 076 675 0710.
- E-pos: helpline@responsiblegambling.org.za
- Telefoonnommer: 021 674 5830
Moenie hierdie boeiende aflewering van Onthul op Maandag 16 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.
Lees hier: Nuut op die boekrak + Drie gelukkige lesers kan elk ’n geskenkpak van Marieta Carrick se boeke WEN!
