Kykers weet teen dié tyd: Suidooster se storielyne gaan jou altyd weer verras met ’n onverwagte kinkel of interessante nuwe karakter wat opduik – soos nou met Willie.
Dié man is steeds vol stories en geselsies, en daai blou oë se vonkel het nog lank nie verdof nie. Kykers sal sekerlik van sy uitdrukkings onthou wat nog ’n paar jaar gelede die land aan die skater gehad het. Want Willie, wat van Donderdag 2 April in Suidooster te sien is, word vertolk deur die 7de Laan-veteraan Pierre van Pletzen, Hildatjie (Annelisa Weiland) se geliefde Oubaas, wat sy woorde gereeld so snaaks verkeerd ingespan het dat dit ’n gelag van “epidermiese proporsies” veroorsaak het.
Volgens Annelisa moes sy aanvanklik twee keer kyk op die Suidooster-stel om seker te maak sy sien nie vir Oubaas nie.
“Hierdie keer was die dinamiek egter anders tussen ons, want die karakter wat Pierre speel, is baie anders as Oubaas, en Kate is ook baie anders as Hilda,” sê sy.

Anders as die sagmoedige Oubaas, is Willie iemand wat hard moes werk en soms goed aangevang het wat hom met die lang arm van die gereg te doen laat kry het. Tog is dié afgetrede treindrywer eintlik ’n rowwe diamant – en dis, ironies genoeg, juis sy onderduimse diamantdinge wat Ruiterbosch op sy kop kom keer.
Pierre se verskyning in Suidooster het hom nie net weer met Annelisa herenig nie, maar ook met Ingrid Paulus (7de Laan se Vanessa Meintjies), wat een van die regisseurs is.
Hy vertel meer oor sy karakter en hoe dit is om weer saam met die oud-Laners op stel te wees.
Hoe pas Willie in Ruiterbosch in?
Willie is maar net ’n regular omie van daai omgewing. Hy’s nie ’n inkommer nie, en hy bly reeds ’n geruime tyd in Ruiterbosch. Wat hom ongewoon maak, is sy verlede: ’n treindrywer wat die land al platgery het en heelwat heerlike stories en insidente uit sy spoorweë-dae het om te vertel – veral ook die storie oor die diamante.
Hy kom na Kate (Annelisa Weiland) toe om te hoor of sy hom in verbinding kan bring met iemand wat vir hom ’n webtuiste kan ontwerp. Só ontmoet hy vir Gary Booysen (Craig Adriaanse), en Gary kom gou agter oom Willie het ’n rekord, soos hulle in die polisie sê.
Gelukkig was daar net een insident waar hulle hom gearresteer het vir inbraak by ’n huis. Maar Willie hou vol hy het nie iets gaan steel nie – hy wou net die diamante gaan haal wat aan ’n vriend behoort het.
En só neem die storie sy loop en kort voor lank is ’n hele klompie van Ruiterbosch se jong mense betrokke by ’n intrige wat ’n misdaadskrywer sy kop sal laat krap.
Hoe was dit vir jou om weer op dieselfde sepie-stel met ou bekendes van jou 7de Laan-dae – Annelisa en Ingrid – te wees?
Dit was nie soseer vreemd om weer met Annelisa en Ingrid te werk nie, alhoewel ek baie min van hulle twee gesien het die afgelope dekade of wat. Ons al drie kom al ’n lang pad saam vanaf die Laan – 17 jaar om presies te wees. Ook so met Neil Rattray, die hoof van klank by Suidooster.
Ek het Ingrid destyds opgelei as regisseur by die Laan, so dit was nie ongewoon om hierdie keer onder haar te werk met haar wat die shots call nie.
Wat moeiliker was, was om teenoor Annelisa te speel en nie te verval in Hilda en Oubaas se bekende omgang met mekaar nie. Dit was gelukkig net só vir ’n kort rukkie by die eerste dag se skiet. Daarna het ons gou aangegaan met ons nuwe interaksies. Dis vir my altyd lekker om saam met Annelisa te werk, ook van lank voor 7de Laan al. Sy’s ’n fun mens, en ons lag baie saam, op en weg van die stel.
Wat geniet jy van ’n sepie?
Die sepie-genre is beslis my gunsteling. Dis binnenshuis (geen son of verblindende ligte nie), alles is reeds daar (kameras, beligting, dekorstelle, kostuums ens.), jy werk met ’n span mense wat hul jobs ken, en almal het een doel voor oë: Kom ons neem hierdie tonele op na die beste van ons vermoë.
Hoe was jou ervaring op die Suidooster-stel?
Daardie fokus en één doelgerigtheid – dis ’n baie belangrike faktor om jou werk net lekkerder te maak. En by Suidooster is alles juis só. Dis ’n goed geoliede masjien.
Ek reken dis die bes georganiseerde sepie in die land. Die kommunikasie is uitstekend, en probleemoplossing vind gou en sekuur plaas. Dis ’n groot bydraende faktor as jy weet they have your back. Daar is harmonie in die kantore, gange en op stel. Die mense by Suidooster is deur die bank vriendelik en gaaf.
En as dit só is by jou werk, is jou wêreld alreeds ’n beter plek.

Lees ook: Skok ná skok tref Suidooster in April

