Die vyfde seisoen van Laataand by Rian skop op Dinsdagaand 7 April om 21:00 af, en saam met Rian van Heerden gaan kykers weer die ander kant van ’n wye verskeidenheid bekendes leer ken.
Wat maak van iemand die ideale gas?
“ ’n Goeie gas het al die verskillende seisoene van die lewe beleef,” sê Rian. “Hulle staan uit binne hulle spesifieke veld omdat hulle vir goeie, of slegte, redes die nuus gehaal het.”
Hy sê hy lok nie gaste uit om omstrede dinge kwyt te raak of ooremosioneel te word nie.
“ ’n Gas moet besluit waarheen hy of sy die gesprek wil neem. Die rol van die onderhoudvoerder is dan bloot om hulle met waardigheid na ander onderwerpe te bring waaroor hulle binne die beskikbare tyd gesels. Die doel van ons tweede gas is juis om die gesprek na ’n volgende vlak te neem, of ’n nuwe dinamiek daaraan te gee. Dit is natuurlik ook altyd ’n verrassing vir die hoofgas wie hierdie persoon gaan wees.”
Van die ander gaste waarna kykers kan uitsien, is die sanger Rudi Claase, Tony Leon, wat die leier van die DA van 2000 tot 2007 was, en die legendariese komediant Barry Hilton.

In die vyfde seisoen van Laataand by Rian gaan kykers weer die ander kant van ’n wye verskeidenheid bekendes leer ken. (Foto: Verskaf/kykNET)
As hy enige drie gaste op Laataand by Rian kon hê, wie sou dit wees?
“Dit is altyd ’n moeilike vraag, maar op die oomblik is dit oudpresident Jacob Zuma, Donald Trump en koning Charles.”
Laataand by Rian begin op 7 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
