Kay het oorspronklik Laylla in Suidooster vertolk, maar dié karakter het in Februarie 2024 in ’n motorongeluk gesterf.
Nou keer Kay terug na Ruiterbosch, die fiktiewe woonbuurt waar Suidooster afspeel, as Shandy, Laylla se ouer suster. Nazeem (Irvine van der Merwe), wat destyds met Laylla wou trou, gaan glo hy sien ’n spook wanneer hy vir Shandy in ’n ontkleedansklub raaksien.
“Shandy is twee jaar ouer as Laylla, maar hulle lyk op ’n haar na mekaar, soveel so dat Nazeem hom met die eerste aansig bleek geskrik het omdat hy gedink het dis Laylla, vertel Kay.
“Shandy is egter die totale teenoorgestelde van Laylla in terme van persoonlikheid. Waar Laylla ’n redelik behoudende en konserwatiewe Moslemvrou was, is Shandy baldadig en trek sy uitloklik aan.
“Shandy werk as ’n eksotiese danser en is altyd op die uitkyk om ekstra geld, selfs al is dit op ’n onwettige manier, te maak.”
“Wanneer sy Nazeem ontmoet en besef hy het steeds ’n sagte plek vir Laylla in sy hart, sien sy dit as ’n geleentheid om hom uit te buit.”

Foto: Gys Loubser
Volgens Kay was dit ’n opwindende uitdaging om ’n ander karakter in dieselfde reeks te speel.
“Ek dink die twee jaar ouderdomsgaping tussen die twee karakters en ook dat die susters nie van mekaar se bestaan geweet het nie, het dit vir my as aktrise makliker gemaak.
“Boonop verskil Laylla en Shandy soos dag en nag, wat beteken dat ek ’n blank canvas gehad het om Shandy te ontdek en haar te vorm,” sê sy.
“Dit was wel snaaks hoe die crew wel nou en dan per ongeluk na Shandy as Laylla verwys het.”

Foto: Gys Loubser
Kay maak op Dinsdag 5 Augustus haar eerste verskyning in Suidooster as Shandy.
Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: TV-benoemings vir vanjaar se kykNET Silwerskermtoekennings bekend
