Die bekroonde kykNET-dramareeks Spoorloos keer binnekort terug met ’n splinternuwe seisoen – en die vrystelling van die lokprent vir Spoorloos: Losprys wys daar wag weer ’n spanningsvolle storie op kykers.

Spoorloos se vyfde seisoen is soos die vorige aflewerings van dié reeks ’n losstaande spanningsverhaal.
Hierdie keer handel die uittog oor ’n ryk wildboer, Brand (Louis Minnaar), wie se tiener-kleindogter, Karla (Lienke Vermeulen), ontvoer word tydens haar pa, Willem (Neels Clasen), se moordverhoor. Sy is die een sleutelgetuie wat sy onskuld kan bewys. Haar ma, Lynette (Angelique Pretorius), word genoodsaak om haar eks-minnaar, Frank (Laudo Liebenberg), om hulp te vra, aangesien hy die enigste ervare speurder in die distrik is. ’n Desperate soektog in ’n wedren teen tyd volg, maar die familie word op hulle knieë gedwing wanneer vriende in vyande verander en mense uit die verlede naderstaan om skuld te eis, terwyl ’n nalatenskap vol leuens en verraad ontbloot word.
Liam Bosman, Nahum Huges, Melissa Willering, Deon Coetzee, Blyde Smit en Jacques Gombault is ook deel van die rolverdeling.
Die draaiboekskrywer is Mitzi Booysen en die vervaardigers is Ohcre Moving Pictures.
KYK | Amptelike Voorskou: Spoorloos: Losprys

Die vyfde seisoen van kykNET se gewilde naelbyter-dramareeks begin op Dinsdag 26 Augustus 2025 om 20:00 op kykNET en DStv Stream.
Lees ook: My f*k, Marelize! binnekort in fliekteaters in SA en Namibië
