Deur kykNET verskaf
’n Yskoue front van drama tref Suidooster in Julie met die een storm na die ander wat Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar dié kykNET-sepie afspeel, teister. Brose verhoudings en gemene spel tot familieskokke, nuwe hoofstukke en verkeerde besluite gaan aan die orde van chaotiese dae wees.
Kykers moet veral uitkyk vir dié ses storielyne in die komende weke:
1. Wade, Zoe en Angie bereik breekpunt
Wade (Dean Smith) en Zoë (Lauren Joseph) probeer hard om hul verhouding te laat werk, maar weens Angie (Char Carrie) se swangerskap is dit makliker gesê as gedaan. ’n Doktersafspraak ontaard in ’n bron van konflik en ’n sosiale media-storm gooi net nog olie op die vuur. Wanneer Angie boonop in die hospitaal beland, spat die brose vrede tussen die drietal uitmekaar. Wade worstel met die situasie, want hoe balanseer hy die liefde vir die vrou met wie hy die res van sy lewe wil spandeer teenoor sy kind wat hy wil beskerm.

Zoë begin ook al hoe meer onseker voel oor waar sy presies inpas in Wade se lewe en of dit die moeite werd is om daarvoor te veg.
2. ’n Bitter pil vir Ruiterbosch
Ava (Simone Neethling) is vasbeslote om die nuwe eienaar van die Aalwyn Apteek te word, maar dit begin duidelik blyk dat sy bereid is om enigiets te doen om dié droom te bewaarheid.

Dit dryf haar al dieper in gevaarlike waters – en Nazeem (Irvine van der Merwe) is soos gewoonlik nooit ver van verskuilde agendas af nie. Mymoena (Jill Levenberg) begin sterk vermoed dat daar ’n slang in die gras is en die risiko’s wat opduik, raak net al hoe groter. Dan gebeur daar iets ondenkbaar wat die hele gemeenskap tot in hul diepste skok – en skielik lyk dinge baie anders in Ruiterbosch.
3. Bianca en Rhafiek se vete
Die spanning tussen Bianca (Simone Biscombe) en haar boet, Rhafiek (Irshaad Ally), bou al ’n ruk op, maar in die komende weke bereik die konflik ’n breekpunt. Siya (Gantane Kusch) probeer kliphard om vrede in die familie te bewerkstelling, maar broer en suster is net te hardkoppig, seergemaak én te trots om skuld te erken.

Kan hierdie familie tog wel ’n manier vind om hierdeur te werk, of is die skade dalk reeds te groot?
4. Frankie se toekoms raak ingewikkeld
Frankie (Mienke Ehlers) moet besluite oor haar toekoms neem wanneer ’n nuwe geleentheid by Oos Wes oor haar pad kom. Pa Mike (Anrich Herbst) wil help, maar sy goeie bedoelings word as inmenging gesien – en Frankie speel boonop nie oop kaarte oor wat werklik met haar aan die gang is nie.

Eintlik is sy dalk onwetend op ’n missie van selfondersoek en besig om te herbesin oor haar lewe terwyl sy in die proses probeer om almal rondom haar gelukkig te hou.
5. Die verlede haal Kate is
Kate (Annelisa Weiland) se familiegeskiedenis lei haar na vrae wat sy nooit gedink het sy sou moes vra nie. Wat aanvanklik met bloot doodgewone nuuskierigheid begin het oor waar ’n mens se wortels gesetel is, raak baie gou iets veel dieper.

Ou foto’s, herinneringe en ’n senutergende vermoede stuur haar op ’n uitmergelende reis na die waarheid. Kate vasbeslote om antwoorde te kry – selfs al hou dit verreikende gevolge in vir almal wat sy liefhet.
6. Zahra se koms bring moeilikheid
Zahra (Caitlyn Haywood), ’n familielid van Kaashifa (Jawaahier Petersen) se aankoms in Ruiterbosch veroorsaak sommer van die begin af probleme. Rhafiek (Irshaad Ally) is kort voor lank nie in sy noppies met haar nie en Lee-Ann (Portia Joel) wantrou boonop haar bedoelings met Carlo (Jadon Booysen).

Dit blyk sommer gou dat Zahra dalk nie so onskuldig is soos sy voorgee om te wees nie, en kort voor lank is die gort behoorlik gaar.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.
