Die gewilde kykNET-sepie Suidooster het vanjaar weer ’n sterk teenwoordigheid by die Suidoosterfees, wat van 29 April tot 3 Mei 2026 in Kaapstad by Kunstekaap en verskeie omliggende venues aangebied word.
Nie net bied kykNET vir ’n vyfde keer die gewilde musiekkonsert Suidooster Stormsterk aan nie, maar talle van die sepie se akteurs is ook in teaterproduksies op die feesverhoog te sien.
Met Suidooster Stormsterk bring die produksie weer die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die sepie afspeel, na die verhoog met musiek, dans, komedie en net genoeg kinkels om enige sepie-aanhanger te laat regop sit. Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van die sepie, is Suidooster Stormsterk ’n natuurlike uitbreiding van die band tussen die gewilde reeks en sy lojale kykers.
“Ons glo dit is belangrik om geleenthede te skep waar Suidooster se akteurs in lewende lywe aanhangers kan vermaak,” sê hy. “Dit is strategies belangrik vir Suidooster om ’n vennoot van die Suidoosterfees te wees, sodat ons onder andere hierdie konsert, wat jaar na jaar uitverkoop, vir ’n vyfde keer kan aanbied. Tog is een van die hoofdoelwitte van ons samewerking met die fees om aanhangers ook aan die Suidoosterfees se ander teaterproduksies bloot te stel.”
Jana Hattingh, hoof van die Suidoosterfees, stem saam: “Die konsert het oor die jare ’n instelling op die feesprogram geword, maar ons het ook bevind dat mense wat dit kom kyk, dan sommer besluit om kaartjies vir ’n toneelstuk ook te koop – en van hulle vir ’n eerste keer.”
Die konsert spog weer met ’n stewige ensemble, onder wie gunstelinge soos Dean Smith (Wade), Jawaahier Petersen (Kaashifa), Eden Classens (Justin), Irvine van der Merwe (Nazeem), Lauren Joseph (Zoë), Char Carrie (Angie), Simone Biscombe (Binainca), en ander bekende Ruiterbosch-inwoners. Volgens Müller kan feesgangers hulle weer verlekker in bekende musiek, humor en tonele wat met die reeks se storielyne resoneer – waaronder een of twee kinkels wat dalk iets van toekomstige episodes verklap.
Vir Jawaahier Petersen is die produksie besonders. “Stormsterk is ’n heerlike kans om my twee gunstelingwêrelde – sing en televisie – bymekaar te bring,” sê sy. “Dit is ’n vrolike musikale opskop waar die energie van die gehoor aansteeklik is.”
Vir ’n vyfde agtereenvolgende jaar vat Suidooster hande met The Stage Performance Arts Studio, ’n teater- en dansskool in Durbanville, wat die regie behartig en wie se studente as dansers in die konsert optree.
Suidooster-akteurs is ook in verskeie teaterproduksies by die fees te sien. Dean Smith en Mienke Ehlers speel in Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene. Dean is ook in Kry vir jou ’n tux, Thomas saam met Marion Holm, wat ook al in Suidooster gespeel het, optree. Gantane Kusch, wat die pastoor Siya Thuli in Suidooster speel, is in CRYBABY te sien.
Suidooster Stormsterk vind plaas op Saterdag 2 Mei om 17:00 by Artscape. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets. Volledige besonderhede is op die feesprogram, nou beskikbaar op suidoosterfees.com.

Smile FM is die Suidoosterfees se amptelike radiostasie in 2026. Die musiekprogram word aangebied in samewerking met dotsure.co.za en Suidooster Stormsterk word ondersteun deur kykNET en Homebrew Films. Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.
Lees ook: Rian van Heerden se laataand-gesprekke gaan weer verras & en jy gaan wil luister




