Deur Maryke Roberts. Foto’s: Verskaf.
Let’s do the Time Warp again! As jy daardie woorde herken, weet jy die legendariese kultusmusiekblyspel The Rocky Horror Show is terug! Dit open op 7 April by Theatre on the Bay in Kampsbaai en speel tot 31 Mei, voor dit van 12 Junie tot 16 Augustus by Pieter Toerien se Theatre at Montecasino in Johannesburg op die planke is.
Die bekroonde akteur Craig Urbani speel weer die rol van Frank-N-Furter; en met onder andere Léa Blerk (Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, Dear Evan Hansen) as Janet, Robert Everson (Noises Off, Tony Awards) as Brad, Schoemann Smit (Black Coffee, The Sound of Music) as Riff Raff, Tjaart van der Walt as Phantom en Natasha Sutherland as die Verteller.

Lesers ken Craig in bekende teaterrolle soos prof Higgins in Pieter Toerien se My Fair Lady, Swingin’ Las Vegas, The Sound Of Music, We Will Rock You, Chicago, Kiss Me Kate, Grease, Thoroughly Modern Millie, Fame, Saturday Night Fever, Rock Of Ages, West Side Story, en Buddy – The Buddy Holly Story. Craig het Dinsdagaand ’n Naledi-toekenning vir sy rol in My Fair Lady in die kategorie vir Beste Hoofrol in Musikale Teater: Manlik, ontvang.
Dis egter sy televisierolle wat van hom ’n huishoudelike naam gemaak het en die bekendste hiervan is Binnelanders, Isidingo, Legacy en Scandal.
Die blyspel word in samewerking met Pieter Toerien Productions en die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy (LAMTA) aangebied en het Steven Stead in die regisseurstoel. Hy was ook die regisseur vir Twelfth Night, My Fair Lady en Metamorphoses en is bekend vir sy teatrale flair en dit beloof om jou dansend in jou teaterry te hê. Vra maar vir dié wat dié vertoning verlede jaar in Durban meegemaak het.
Van die oomblik dat geliefdes Brad en Janet ’n stormagtige nag, ’n pap band en ’n ompad na ’n geheimsinnige kasteel beleef, word gehore meegesleur in ’n wêreld waar niks presies is soos wat dit lyk nie en alles moontlik is.
Binne die kasteel ontmoet hulle die charismatiese, korsetgeklede “soet transvestiet” dr. Frank-N-Furter, sy eksentrieke huishouding en vele ander verrassings. Die vertoning is ’n reis van selfontdekking, transformasie en versoeking met bekende liedjies soos “Time Warp”, “Sweet Transvestite” en “Hot Patootie – Bless My Soul”.
Trek jou visnetkouse aan, bring jou waterpistooltjie, rys, koerant, toiletpapier en roosterbrood en geniet ’n heerlike aand by die teater.
Vrae vir Craig (voor hy afskop, gee hy eers erkenning aan Schoeman Smit (Riff Raff) en Tjaart van der Walt (Phantom) wat hom gehelp het om al die rooi rose-vrae in mooi Afrikaans te antwoord):
Jy bring ’n enorme hoeveelheid tyd op hoë hakke tydens die vertoning deur. Hoe lank het dit geneem voor jou voete “vriende” geword het met daardie skoene, en het jy al ’n vreesaanjaende “stiletto-ongeluk” op die verhoog gehad?
Toe ek die produksie in 2019 gedoen het, was dit vir my verbasend om te sien hoe vinnig ek gemaklik op hoëhakskoene geword het, maar dit was nie sonder pyne en skete nie! Die hele span het besef ek is nou regtig gemaklik toe ek tydens teetyd op my stilettos gehardloop het om koffie te gaan haal en vergeet het dat ek op hakke was! Ek het ook al die “Planet Schanet Janet”-nommer hinkepinke met ’n gebreekte hak gedoen.
Frank se kostuum is ikonies, maar beperkend. Beïnvloed die stywe pasvorm van die korset jou asemhalingstegniek tydens die groot nommers soos “Sweet Transvestite,” of help dit jou eintlik om daardie trotse postuur te behou?
Die antwoord is ja en nee. Dis beperkend, maar dit help met ondersteuning vir my lyf. In die vorige produksie het die korset nie baie meegegee nie en hierdie produksie s’n is beslis beter. Maar dis deel van Frank, dit laat jou meer soos Frank-N-Furter voel as jou korset styfpassend is.
Die swaar ooggrimering en rooi lippe is dramaties. Voel jy dat jy eers “Frank” word die oomblik as die grimering klaar is, en hoe lank neem dit jou om aan die einde van die aand weer soos Craig te voel (en te lyk!)?
In die vorige produksie het ’n grimeerkunstenaar my grimering gedoen en gesê die oomblik as die lipstiffie aan is, begin ek soos Frank-N-Furter grinnik; dan is ek volkome in die karakter in. Die lippe en mond is die simbool van die stuk en ontsettend belangrik. Dit neem 15 minute en hope Wet Wipes om my gesig skoon te kry en weer myself ná die vertoning te wees.
Onder daardie warm teaterligte kan swaar grimering en leer vinnig ongemaklik raak. Frank-N-Furter is tegelykertyd dominant en uiters blootgesteld (fisiek en emosioneel). Hoe vind jy die balans om gemaklik te voel in daardie skaars kostuum voor ’n stampvol saal?
Ons gebruik spesiale sproei om die grimering te “set” maar dis oukei as die grimering deur die vertoning begin smeer, want die karakter rafel ook uit! Die kostuums is warm, maar baie bemagtigend en enige selfbewustheid val onmiddellik weg. Jy voel bevry.
Dis nie jou eerste maal in hierdie rol nie. Hoe verskil jou aanslag vir hierdie speelvak teenoor voriges?
Ek bly oopkop en hou aan met leer. Daar is altyd ruimte om iets nuuts te leer en die verskillende akteurs om my, inspireer my. Dis ook elke keer ’n ander regisseur wat nuwe insigte bring. En natuurlik: ek het met die jare verander.

As jy een kledingstuk uit Frank se klerekas kon kies wat die gemaklikste is om in te speel (of waarin jy die beste voel), wat sou dit wees en hoekom?
Ek het die hoëhakke geneem en het al verskeie korporatiewe geleenthede daarmee gedoen. Die hakke is nou myne! Hulle is spesiaal in Duitsland vir my gemaak, hulle lekker ingetrap en word in hierdie speelvak weer gebruik.
Wat sou jou raad wees aan ’n jong akteur wat vir die eerste keer in ’n rol moet klim wat soveel fisieke transformasie en ongemaklike kostuums vereis?
Loop in met ’n oop kop, oop gemoed en oop hart. Luister vir jou regisseur.
Watter raad het jy vir ’n gehoorlid wat nog nie die vertoning gesien het nie en nie die “etiket” ken om daarvan ’n onvergeetlike aand te maak nie?
Kom geniet net jouself, trek snaaks aan, lees op oor die goed wat jy kan saambring en wees deel van die partytjie, want hierdie is ’n partytjie. Die gehoor word uitgenooi om deel te neem en pret te hê, maar ons hou die mag en beheer op die verhoog. Ons vertel die storie op die verhoog.
Bespreek vir The Rocky Horror Show by Theatre on the Bay van 7 April tot 31 Mei en 12 Junie tot 16 Augustus Theatre at Montecasino in Johannesburg by Webtickets en die Theatre on the Bay-kaartjieskantoor by 021 438 3300. Onthou om die kinders onder 16 tuis te los!
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se April-uitgawe móét lees!







