Deur Tanya de Vente-Bijker
Aftrede word as een van die grootste lewensveranderings van ʼn mens se leeftyd beskryf. Buiten die finansiële verandering in jou lewe, is dit ook ʼn emosionele verandering. Dit is ʼn groot aanpassing om elke dag, heeldag, bymekaar te wees. Dit lei noodgedwonge tot konflik. Skielik is jou aftrede nie meer ʼn vreugde nie, maar ʼn ramp.
“Aftree is ʼn nagmerrie. Niks kan jou daarop voorberei nie,” sê PJ Bouwer. Hy was ʼn besturende direkteur vir ʼn bank in Malawi, Swaziland en Lesotho. “Niks kan ʼn intelligente mens voorberei op die impak, skok en emosies wanneer jy aftree nie.”
PJ onthou die eerste dag nadat sy aftrede begin het: “Ek het die eerste oggend wakker geword nadat ek my skootrekenaar en selfoon die vorige dag by die bank ingehandig het. Ek het ʼn AAA-persoonlikheid. Niemand het my op my nuwe foon gebel nie, niemand stuur vir my ʼn e-pos nie … Niemand het my nodig gehad nie. Ek het nog altyd gewerk en baie gereis, en my vrou het my op die meeste van my reise op my koste vergesel. Ons het nooit enige konflik gedurende hierdie tydperk ervaar nie. Ek voel dat aftrede ʼn sonde is, aangesien ek nog baie het om tot die maatskappy en die samelewing by te dra, en miskien was dit nie die niks om te doen nie, maar die gevoel van niks.” Hy sê dit voel asof jy met ‘pensioenaris en moeg’ bestempel word.
Volgens PJ het hulle gesukkel om aan te pas. “Ons konflikvlakke het ná my aftrede as gevolg van die emosionele impak daarvan dramaties toegeneem. Ek was nou skielik by die huis en het onwetend ook my vrou en huis begin bestuur. Ek het geïrriteerd gevoel en ingemeng met elke aspek van ons huishoudelike omgewing. Sy het ook verlies ervaar ná my aftrede omdat sy baie betrokke was by verskeie projekte in die Afrikalande waar ons gewerk het.”
PJ sê jy kan net soveel gholf elke week speel. “Ek was skuldig daaraan dat ek toegelaat het dat my aftree-frustrasies ons verhouding negatief beïnvloed het. Ons het besluit om professionele hulp te kry om ons te help.” Dit het hulle wel gehelp om te herfokus, maar hy erken hulle werk steeds daaraan.
“Moenie net aanvaar dat jy oukei sal wees nie. Ek het gedink ons sal oukei wees, maar dit was absolute hel om aan te pas. Ons het op ʼn beplanningskedule ooreengekom. Op Saterdae en Woensdae speel ek gholf terwyl ek en my vrou Maandae speel. Ons het ʼn middagete-afspraak op Donderdae en fliek-aande op Vrydae. Een keer per week het ons ʼn formele vergadering om enige probleme met mekaar te bespreek sodat daar nie misverstande is nie.”
Lees die volledige artikel in ons April-uitgawe. Dis nou op die rakke en propvol interessante inhoud!

Hier’s nog redes waarom jy ons jongste uitgawe in die hande moet kry.
Lees ook: NUWE REEKS| Mag, ambisie en gevaarlike geheime bots in Die Toring

